Tag Archives: Ketel

Ketel se fluit

Die ketel se sing…

Die talente ding pla my. Om my is daar damesgroepe wat Ghanalap versnipper met rolsnyers en weer behendig in patrone aanmekaar werk vir laslaphandsakke. Ek staar oopbêk – te mooi vir woorde. Ander ontmoet voormiddae, tel, plan, ryg en toor die allermooiste Ghanakralewerk aanmekaar. Nog ‘n groep is besig om ‘n kookboek aanmekaar te spoeg en plak. Sê-nou net ek is veronderstel om hierdie wa-wa-woom talent te laat blom – en ek sit en broei ‘n dooi-eier se talent uit?

Sien die ding dat expat-vrouens hier in Wes Afrika se kant nie kan werk nie, frustreer die blou wax uit my uit. Dis reeds so groot vergunning dat een werkspermit vir manlief uitgereik is, dis so dat ‘n tweede werkspermit vir Mammie letterlik die kossies uit ‘n arme lokale mensie se mond sal pluk. Onse vrou-liefies is die outydse plus een. Saamgenooi om manlief se pad na waansinnigheid se spoed te breek, want ons gaan eerste daar uitkom! Nou slaan ons maar onse hande aan lappies en kralewerk en kookkuns.

Nou hoe dan as jy ‘n ernstige gekwalifiseerde trauma verpleegsuster-, of remidieërende skooljuffrou met sakke vol talente en geleerdheid is? As mens nou die reëls wou breek en jou dienste aanbied – selfs sonder vergoeding kan jy woeps-waps in warm water beland. Jy word summier aangekla, gearresteer, verskree, in ‘n klein kamertjie toegesluit totdat jou man om jou vryheid kom onderhandel met verskonings en mooipraatjies en daai krom-goed wat regmaak dit wat stom is. Ten spyte daarvan, word die man se werkspermit gekanselleer en ‘n kort briefie van immigrasie laat weet jou; julle moet die land verlaat binne twee-en-sewentig-uur.

Mens vra maar rond, oor hoe gemaak want ydele hande is die Duiwel se kopkussing. Dit help om te luister met oop ore na goeie advies. As Stinatjie en Magriet nou mooi rondkyk sal hulle besef al die vrouens sit en roei dieselfde bootjie.

Hier is waar die drie soorte Eva’s van mekaar geskei word. Die eerste soort het gewoonlik ‘n naam soos “Mari-zelle” wat in RSA iewers in ‘n Kloof, op ‘n Rif of in ‘n Vallei gewoon het. Hulle vereenselwig hulle-se-soort nooit met dit wat hulle in Akkra teëkom nie. Hoe weet jy hulle ry ‘n Mercedes terug by die huis? Hulle vertel jou. Hulle praat onophoudelik van hulle beplande tuisbesoek, en verveel jou met straaltjies van hulle mees onlangse golf-landgoed-vakansie. Die ‘Mari-zelle”-soort bly eersteklas-vlug-besoekers wat nooit inpas nie, en heeltyd die dae en ure aftel wanneer hulle kan wegfladder en stink bloukaas op tannestokkies kan afsuig.

Die tweede soort is besige bytjies wat weet waar die nuutste restaurant in Akkra oopmaak, hulle word gesien by talle funksies in moderne skemerkelk-rokkies en wip kapsels. Hulle het uitspreekbare name, ougat sportiewe kinders, reis binne Ghana se landsgrense na eksotiese strande en fotografeer skilpaaie se nagterlike eierlê sessies. Hulle gryp die kultuur uitruil-ding aan die keel beet, en leer die kombuisfeëtjie om Bobotie en Boerewors te bemeester.

Die derde soort het name soos “Harmonie” of “Duifie” en vir haar sien jy net een keer. Dis genoeg om vir altyd ‘n gebreekte spieëltjie-prent vas te lê. “Duifie” is laas gesien toe hulle by die kultuur-aand ‘n tromvertoning aangebied het, sy was derde van links met die grootste trom tussen haar groottone en knieë. Harmonie-hulle tip te veel na die lokale kant, hulle assimileer en eet lokale brandbêk-kos, rol hulle hare in vlegsel-stringe en dra dieselfde klere as laas week. Immigrasie soek nie na hulle nie, Duifie-hulle praat lankal ‘n lokale dialek en immigrasie is skrikkerig vir hulle.

Nou waar pas ek en my talente in? Onthou, ‘n ketel is meestal tot by sy nek in warm kookwater, tog sing die ketel altyd! Oor ons Mu’sadi-Benz innie oprit swyg ek, ek parradeer my skemerkelkie rokkie elke kans wat ek kry, en bekyk die tromvertoning van annerkant die draad…