In opdrag van Toeka-tokkel skryf ons oor EERSTE troeteldier of stokperdje.
Miskien het dit begin met wandelroetes doen – maar ek is oor die kop geslaan met stap. Moet ons nie maar iets oor en oor doen as dit die eerste keer lekker was nie? My fiksheidhorlosie trek rooi strepe as ek nie by tien duisend treë per dag uitkom nie.
In 2000, net nadat ons wye-oog, die grootskrik van die Mellinium oorleef het; sê David Thomas ons moet almal saam iets fenominaal aanvang. Sy voorstel was ons moet Kilimanjaro gaan uitklouter. Sien, as jy dit so flussies weer herhaal, klink dit mos soos duiwejag in die koppie agter die plaashuis. Lekker sports totdat my Pa sê : ‘als wat vrekgemaak word op my werf moet opgeët word’!
David het sy huiswerk gedoen en ons met Wild Frontiers bespreek. Mens moet definitief GROOT gaan en ‘n goeie toergids-firma gebruik. Hulle het in voorbereiding vir ons ‘n lys-van-benodighede gestuur. Baie daarvan het ons reeds gehad, maaar goete soos wolsokkies en lang-ou-omie onderklere het ek nie gehad nie.
Gou het ons besef dis ‘n duur spulletjie. Daar is mooi bedink en beplan oor die lang lys, en dis baie geld om te mors op vlugte, visas, inspuitings, toerusting en kiekies. As ons nie oop-oog die ding ernstig aanpak nie sal ons kop onderstebo- stert-tussen-die-bene moes erken: ons was nie voorbereid nie.
Maart-maand is ons terug na RSA met ‘n langggg inkopielys in die hand. Cape Union Mart rol vandag nog die rooimat uit as die Bezuidenhouts instap. Vooraf het ons besluit om heeltemal by die lysie te hou. Anders as ek, is my Vrystaat-man is nogals oulik met lysies en begrotings. Die pryswenner in ons sakke was Metro se pakke van 10x Mars-bars en 10x Tex-sjokkelade (om maar ‘n paar te noem).
Duur goete soos ‘n minus-tien-grade-gaansveer- slaapsak (wat ek net eenkeer in my lewe sou gebruik) kon ons by die toer-firma baie redelik huur. Lekker stapskoene en ‘n oordentlikke liggewig rugsak was erg belangrik.
Natuurlik wou ons lekker eet, lig dra, en onsself soos fikse varke gedra en heelbô uitklouter. Vandaar het ons gereeld gym toe gegaan en hard geoefen…en gelees oor die berg en gedroom oor nuwe hoogtes.
Ons was ‘n groep van nege wat die vyf-dag Machame-roete angedurf het.
Die aand voordat ons finaal opstap het ek amper my klossie afgevries. Sowaar was dit die eerste keer in my lewe dat ek in so koue plek geslaap het. Aaklig, te koud om selfs ‘n draai te loop. Nêrens om weg te kruip en op te warm nie. Ons waterbottels se inhoud was als vasgevries. My Vrystaat-man het in die middernag ure op pad na die bergpiek ‘n halfuur lank gekou aan ‘n muis-happie gevriesde Bar One.
Daar besef my Vrystaat-man dat my hele persoonlikheid verander in erge koue weer. Kekkelbek is skielik tjoepstil. Al wat my laat beter voel is my fles sjerrie wat ons saamgedra het. Die stap was stil, soms vervelend lank, saai en somtyds baie taai. Kort-kort het ek my man gevra: “Hoekom doen ons dit?” Dan antwoord hy droog: “Want die berg is daar…”
Kyk – dis prentjie mooi. Laat ek jou vertel daar is ys en sneeu op die ewenaar. Pragtig. Dit gaan nie oor fiksheid soveel as oor vasbyt nie. Dis immers ‘n ‘op-stap berg’ en dit help om stap-fiks te wees. Wanneer jy op die rand van die krater kop, moet jy so twee kilometer verder aanstap om tot heelbo of die hoogste punt van die rand te kom. Jy wil die Goue Sertifikaat verdien wat uitbasuin Uhuru Peak en jou naam lê langs mekaar.
Groot manne het soos eerstegraadjies gehuil en geweier om die laaste twee kilometer tot op die hoogste kruin te stap. Ou Tannies het fluit-fluit verby geskuifel, die mooiste sonopkoms gekyk en kiekies geneem by die vlaggies in die wind.
Al nege in ons groep het dit gemaak tot heelbo. Dan “donner” jy af teen die berg, keer om te veel spoed te vang en jou nek te breek. Vandaar stap jy deur ‘n salige koel reënwoud, seer voete pla nie meer nie. Moegheid roof jou sintuie daarvan, om die woud behoorlik te waardeer. Mens is maar nes ‘n perd wat die stalle ruik en hier nader aan die einde, huppel en hop jy hehoorlik oor die eindstreep.
Daardie eerste stort in ons drie-ster hotel was hemels. Net daar en dan; die einste stort het ons die volgende staproete gesit en beplan.
Kilimanjaro was ons eerste vêr stap en hoogklim, maar die lekkerste was beslis die vier-en-tagtig-kilometer Visrivier. So lekker dat ons dit reeds drie keer voltooi het. Elke keer as ander vriende saam stap verander die dinamiek en herinneringe.
Na die eerste keer, is stap beslis iets wat ek oor en oor wil doen.
lees hierso van my gunsteling Kaalkop wat ook die berg aangedurf het…hy sê: “ek sal dit nooit weer doen nie!” en…”ek val neer soos ou poeding”…