Tag Archives: Kultuur

Sing vir ‘n houtpop

 

Vanoggend, toe ek die wasmasjien laai, merk ek ‘n houtpop uitsteek by die skropvrou se oopbek handsak. Nuuskierigheid vat die oorhand en al my maniere vlieg by die deur uit; so loer ek skelmpies hoe lyk husse met lang ore.

 

Al wat ek raaksien is een moeg opgeleeste Bybel en die houtpop. Dis nie sommer so houtpop nie – dis ‘n handgekerfte, platkop ene met ‘n rooistring kraletjies om die middellyf. Heel oggend is ek doenig in die kombuis en betrap myself loer na die houtpop wat my dophou. Teen voormiddag kan ek myself nie meer inhou nie en vra vir Judith-die-skropvrou wat maak sy met die houtpop wat halflyf uit haar handsak hang.

 

Eers is Judith half skaam maar nadat ons elkeen met teebeker in die hand staan en slurp, kom Judith met die houtpop se storie uit.

 

Judith is anderkant van dertig en sy dink dis tyd om ‘n kind te kry. Nou het sy my volle aandag – want ek weet – sy’s nie verlief, verloof of getroud nie. Soos ek die storie vooruit loop, moet iemand haar die bytjies en blommetjies storie vertel.

 

Maar ek staan haar oopbek en aangaap; sy vertel sy is na haar stat se medisyneman wat ná ‘n ritureel vir haar die fertiliteits pop gegee het.

 

Slaat my met ‘n nat vis! Ek is te bang my baie vrae oor die ritureel skrik haar af van haar popstorie, dat ek omtrend verstik soos ek tee opslurp. My kop loop Kaapse draaie met my soos ek wonder.

 

“Nou wat maak jy met die pop? “ wil ek weet. Judith haal haar bontlap uit en wys my hoe sy die pop op haar rug knus vasdraai sodat sy dit kan abba en in privaatheid saamdra. “Seker maar hoekom die kop so plat is, om beter weg te steek”, sê ek. Nee, dis eintlik spesifiek vir mooigeit – sy wys die hoë voorkop en die rondgeit van die kop beloof ‘n slim baba. Sy beskryf die prag van amandelvorm oë, en die halfmaan wenkbroue en die fyn besnyde neus – elke moeder se droombaba. Judith hou die popkop sag in die holte van haar hand en wys dat die houtpop ook speel-speel gevoed kan word. Teen die tyd staar ek met koue beker tee in die hand en vat-vat aan die koue kombuisblad sodat ek weet ek droom nie.

 

Sy wys dat die pop aan die slaap gesus word en ook gebad word net soos ‘n regte baba. Ek trek my oë op skrefies en vra onoortuig of die houtpop dan ‘n naam het. Natuurlik! Hierdie pop is ‘n eg Ashanti fertiliteitspop, genoem “Akua ‘ba” wat beteken ‘meisie gebore op ‘n Woensdag, se kind’. Gedoriewaar, ek is onseker of sy gatvat met hierdie storie, maar sy bekyk die platkoppop met diepe deernis.

 

Hierdie is die meeste wat ek Judith ooit hoor gesels het – seker iets van hoe ek haar aangaap, besluit sy dis genoeg en woeps, droog haar storie op.

 

Na-middag hoor ek haar neurie en sing terwyl sy in die agterkamer stryk. In die gang merk ek op, die pop is vasgebind op die rug – noudat die popstorie op die lappe is, kan pop-se-kind openlik in lap rondgedra en voor gesing word.

 

Ek verwonder my aan hoe onkundig ek is oor die kultuur van Ghana se mense. Op die internet lees ek die houtpoppe is sedert toet se jare deur vrouens in die familie aan hulle dogters en agtersate aangegee. Soms word ‘n pop rondgedra tydens die swangerskap om ‘n gesonde baba te verseker. Partykeer word die houtpop weer teruggegee aan die medisyneman, of in die huis as dekorasie uitgestal wat die gesondheid van kinders beskerm. Hoe dit ookal sy, hierdie stukkie kultuur het sy oorsprong diep in Afrika, lank voordat die sendelinge die Bybel hierlangs kom versprei het. Hierdie poppe word net in Ghana gevind, maar is nie algemeen in die markte verkrygbaar nie. Toeriste koop ten duurste hierdie Ghana poppe as stukkie egte Afrika kuns.

Screen Shot 2018-02-13 at 16.34.04

foto vanaf internet

Skielik sien ek Judith in ‘n ander lig. Sy het ‘n lang plan vir haar toekoms. In Afrika, as sy na dertig kan bewys dat sy wel vrugbaar is, en kinders baar, is dit heelwat makliker om man te vang.

 

Met haar houtpop knus toegewikkel, is Judith is die ene lipstiek en rooswater oppad huistoe!

 

Miskien het iemand al vir haar die bytjie en blommetjies storie vertel?

Advertisements

Haas-en-hond

Ek kry hoenderswak elke keer as iemand my vra:” waar kom jy vandaan”?

 

Wat bedoel hulle? Waar; soos in vanoggend toe ek my deur toetrek, of die land waar ek laaste gewoon het, waar ek residensie het, of waar ek gebore is? My laaste drie-en-twintig-jaar se Afrika-rondtrek het my gevou en gevorm tot net hier in Akkra waar ek huidiglik woon. Ek weet, in my hart is ek Namibiës met Oros koeldrank, Jägermeister, biltong, skaapstertjie, pofadder en Windhoekbier iewers onder my dak.

 

Iemand het my die ander dag vertel hy’s gebore in ‘n kruiwa in die saagmeule waar sy Pa gewerk het. Dis mos nou ‘n ding wat tel. En hoe het sy lewe uitgedraai met so misterieuse begin? Vandag is hy ‘n ondergrondse myner in Rustenburg wat hou van visvang en blokkiesraaisels.

 

Doer in die destydse Oos Transvaal, is ‘n goudmyndorp, Evander – waar ek gebore is. Die spoegseltjie dorp is vernoem na Evelyn, die vrou van doeityd se  Distriks Administreerder – mense wat iets beginne het soos ‘n dorp en myn waar daar destyds niks was nie. In die Nuwe Suid-Afrika is Evander vandag geleë in Mpumalanga, in die Gert Sibande distrik, uitgedeel aan die Govan Mbeki munisipaliteit. Gert Sibande is vernoem omdat hy óók toegesluit is met Mandela. Volgens Wikipedia het Gert deel gehad aan die Aartappel–boikot.  Govan Mbeki het reeds ‘n mediese universiteits gebou in Glasgow vernoem na hom, en hy was ook President Thabo Mbeki se pa. Ek is nooit toegesluit met niemand nie – so my kans op vernoeming is zero.  Niks van my geboorteplek was opwindend nie, ek is daar weg voordat ek tanne gekry het. Daarna trek ek in 1993, as drie-en-twintig-jarige, weg na donker Afrika.

Screenshot 2016-05-11 09.51.39.png

Soos haas-en-hond, trek ons vir die volgende drie-en-twintig jaar, vir werk, orals-oor. Mmmm net miskien is Namibië onse Kanaän…  Ons weet hoe om binne tien dae, ingeburger te wees in ‘n ander land. Adverteer al jou wêreldsbesittings op sosiale media, gooi weg en deel die res uit. Reël ‘n ‘koebaai’ braai en kuier die drankkabinet leeg. Bondel die res in wieletjie reistasse, weeg-in net-net onder die gewigslimiet, wissel Amerikaanse geldeenheid, leer ‘n paar woorde in die nuwe taal, slaap en dut in lughawens terwyl jy wag vir konneksievlugte. Slaap ten spyte van muskiete in bedompige warm nagte op vreemde beddens, snuffel na bekostigbare eetplekke, kry ‘n werkende ATM, open ‘n nuwe bankrekening, soek bekende bestanddele, doen inkopies, toor een-pot-kos, koop basiese meubels soos banke en beddens…oor en oor; dis alles reeds gedoen.

 

Deesdae gesels ek gemaklik in meer as een taal in dieselfde geselskap. In die lokale mark groet en kibbel ek in Twi, ek weet almal in Afrika is nie noodwendig grypsugtig nie. Hierdie is rêrig leeuwêreld en gereeld bevind ek myself in ongemaklike situasies. Ek mis altyd my eie mense, ons troeteldiere, my Ma se huis en die normaliteit van ‘hoe dinge eintlik werk’ in my eie land. Alles is later aanvaarbaar en anders – solank ek nie elke dag met een of ander geloofsgeneser of aspirant politikus hoef te deel nie.

 

Wyse mense weet jy kan so ietsie by almal leer – nou probeer ek oopkop bly. Ons hou ‘n Jägermeistertjie byderhand vir die ‘hoenderswak’…

Volunteers from all over the Globe

Volunteers in Afrika…

In die area waar ons woon en werk sien ons vrywilligers meestal in Oxfordstraat afdrentel. Oxfordstraat is ‘n besige byenes van oppie-straat mark en blink winkels wat beide probeer besigheid doen. Die ‘volunteers’ klos in bondeltjies saam en drentel straatlangs tussen smouse en dreinslote deur en soek na een of ander soort kakkie wat hulle as aandenking kan terugkarring na waar hulle vandaan kom. In Akkra het elke item in die mark drie onoffisiële pryse. Die regte en laagste prys is vir die malletjie wat vanoggend uit die asieltehuis gedros het en so-te-sê kaalgat op straat rondloop. Die hoogste prys is vir expats want ons is mos almal ryk donners wat dit goedkoper in ons eie land kan gaan koop as die prys ons nie pas nie. Alleman op die straat sonder plakkies en met ‘n horlosie betaal ‘n spatsel meer as die malletjie. Daar is twee soorte vrywilligers wat op Afrika-bodem aanland. Die eerste soort kom net vir ‘n lekker tyd. So oulaas wegbreekkansie waar hulle kwaai ouers vêr genoeg is sodat hulle dik aanjaag en joll maar Mammie naby genoeg is, om te skakel wanneer die kontantjies opdroog. Hierdie arrogante soort herken jy op ‘n afstand; hulle loop met kitaar oor die blad, koop Afrika tromme, dra uitgetrapte leersandale, bont armbande en leer toiings ingeryg vanaf die gewrig tot op die elmboog. In hulle het gewoonlik wollerigge vlegsels en hulle dra ‘n bont doekbroek en eina T-hempie wat plat slap tieties mooi uitwys.

vir 'n lekker tyd

hier vir ‘n lekker tyd

hier vir 'n joll

hier vir ‘n joll

Hulle het name soos Mercedes, Zoë of Immogen en ‘n Rasta-pappie drentel soos ‘n hond op hitte agter hulle aan. Saans sien jy hulle op die strand waar hulle aaptwak-zolle deel in ‘n strandkroeg met warm bier en swak beligting. Die vrywilligers het een of ander helsbegeerte of Afrika se ritmes en donkerste geheime en kutuurskokke eerstehands te beleef, maar hulle reis nooit vêrder as ‘n dagreis vanaf die lughawe af nie. Jare later as hulle siflis oorleef het hulle geen kontak meer met enige Ghanaees en kan hulle niks onthou van Akkra of Ghana nie, net dat dit ‘n moerse warm joll was. Hier en daar is ene wat defnitief te veel van die tradisie opgeslurp het, want hulle bly aan en trou en gee so ‘n lokale ou die geleentheid om sy hele familie te laat emmigreer.

Vrywillige werk in Afrika

Vrywillige werk in Afrika is werk vir Engele

Die ander soort kom blinkoog met ‘n soort illusie dat hulle uitverkore is om in ‘n bestek van drie maande; Afrika se armoede radikaal gaan verlig en uitwis. Daars dié wat aanvanklik effe fanaties opgewonde voorkom oor hulle nuwe vrywillige projek. Dit word gou vervang met ‘n moedelose oorweldiging soos ‘n dier wat in ‘n strik gevang is en moeggespartel; net bly staan. Hierdie verwese engele gaan werk in weeshuise, gee skool in modder-en-riet klaskamers, en help bou aan modder-en-riet klinieke doer diep innie bosse. Van hulle is ernstige Amerikaanse kerkmense wat sendeling werk wil kom doen. Hulle is nou rêgte vrywilligers wat hulle etes deel, die taalgrepe aanleer, stort met ‘n emmer water en toevallig ietsie leer oor die mense en hulle kultuur. Hierdie soort herken jy aan hulle chinese rubber kommin plakkies, stowwerige voete, olie-toiing-hare, ‘n weeklaas gewaste lap-om-die-lyf, en hulle het die hele Ghana kruis en dwars besoek. Hulle werk krom in die kaiing-son, stap myle aan in stofpaadjies na die naaste busstasie, en slaap op geweefde vloermatjies onder muskietnette in strooihutte. Na enkele weke is hulle self so armoediglik dat gesoute straatsmouse hulle nie eens nader roep nie. Van Rasta-pappies is daar geen sig nie, hulle vermy die erg kerklike soort erger as die polisie self. Hierdie Engele-soort betaal dieselfde markpryse as die malletjies… http://www.youtube.com/watch?v=ymcflrj_rRc