Tag Archives: Lap

Die Soet en Suur van Ghana

Verandering is die mees konstante ding in onse lewens. In Akkra het ons kontrak uurglas dan nou ook leeggeloop. Na ses en ‘n half jaar weg uit Namibië, staan ek en my Vrystaatman met drie koffertjies op die lughawe. Voor ek op die aerie klim huistoe, besin ek oor ‘n paar goete van Akkra wat ek sal mis, en ander wat ek geensins weer wil beleef nie.

Goete wat kan verby hou

Muskiete

Langenhoven en ek, het ons muskiete-haat in gemeen. In Ghana vreet muskiete jou letterlik lewendig op, jy spuit en smeer anti-muskiet goete, en dae later stress jy jou vrek oor Malaria. Malaria is so algemeen soos witbrood, uiters gevaarlik, self dodellik. Hierlangs lyk die muskiete asof hulle WP-streepsokkies dra; hulle vlie soos hommeltuie, stadig en lui, en laat ‘n teelepel se bloedvlek as jy hom platklap. Gee my die muggie muskiete tuis wat so dan en wan; hier en daar ‘n bloedmonstertjie vat.

Koebaai sê

Oor die algemeen kom werk die meeste uitgewekene kontrakwerkers in Akkra vir twee- tot drie-jaar. Die gevolg is dat sodra jy iemand goed leer ken, vat hulle weer die pad en ‘n mens bly vasgeval in hallo-sê en koebaai-sê. Vir ‘n paar maande beloer jy hulle op sosiale media, en dan stap die lewe aan en torring die vriendskap draadjie los. Die al ewige Koebaai-sê, dít sal ek nie mis nie.

Burokrasie

Burokrasie is oorgeërf in Ghana vanaf die Britse Koloniale, maar Ghanese het dit verfyn en is vasgespinneweb daarin. Ons staatsdiens se rompslomp lyk soos ‘n 10-stuk legkaart as jy dit wil vergelyk met Ghanese-werksvisas, Ghana id-kaarte en bestuurslisensie aansoeke.

Bakhande

Vyf-minute vanaf die lughawe klop-klop die eerste bakhandjie reeds aan jou venster. Aanvanklik sien jy die wesentjie nie raak as jy uit jou venster kyk nie, maar tjokkertjies net groter as wielgroote, lames op skaatsplanke en halwe mense in rolstoele bedel tussen die voertuie. Trosse en bondels bedelaars kom na Akkra, voel my nuwes land aan, elke naweek. Mens se hart word later klip, en dit gaan baie lank neem om van die dowwe kyke en behoeftigheid te vergeet.

Wisselvallige internet

My Vrystaatman weet as hy tuiskom en ‘n swartwolk hang oor my gemoed, dat die internet konneksie gedood het. Ons mis uit op nuus van babageboortes en laataand skakel my dogter met ‘n piepstemmetjie en vra hoekom ons nie haar studente noodkrete antwoord nie. Jy betaal peperduur vir meer as een internet verskaffer, want almal se kwaliteitdiens is ewe wisselvallig.

 

Goete wat ek sal mis

Smousgoed koop deur die venster

Menigte middae sit jy in sweet vasgeplak aan die moutersitplek, vasgevang met honderde ander in verkeer. Die voordeel is dat jy sommer so deur die moutervenster inkopies kan doen. Toiletpapier, vars gebakte brood, geroosterde grondbone, vars vrugte en groente, wasgoedseep … noem dit maar op, en iewers sal ‘n straatsmous dit aanbied.

Vriendelikheid

Die deursnit Ghaneen kom min in aanraking met uitlanders so wanneer jy skielik by ‘n verlate boswinkeltjie stilhou, is hulle oorval met skok en agterdog. Ons Engels val hulle vreemd op die oor, en mens moet jouself herhaal, arms swaai en beduie wat jy wil aankoop. Wees geduldig en werk ‘n grappie iewers in, dan word jy beloon met die grootste wittandglimlag, die items word met sorg verpak en selfs na jou mouterkar aangedra. Wanneer jy daar wegry, staan die smous lank so in die middel van die pad en waai koebaai tot jy oor die bult of in die niet verdwyn.

Skatte in die mark

Akkra se middestad is een kookpot van straatsmouse met stalletjies ingeryg soos krale, hier koop jy van ‘n garedraad tot ‘n dooie polisieman. As buiteperd kan jy maklik verdwaal, tussen-in kibbel jy oor pryse, dis bloediglik warm en almal stamp en stoot aanmekaar. Maar Boeta; as jy tydsaam en geduldig jou oë oophou kan jy letterlik skatte uitkrap! Van egte silwerteepotjies tot MAC grimeerstelle, leerstewels, kosbare Singer naaimasjiene, reuse visnette, ragfyn geborduurde tafeldoeke, en die nuutste klankstelsels. Met ‘n goeie kopie voel jy die Heelal se weegskaal het effe na jou kant getiep.

Afrika se Kleure

Kyk, Afrika is nie bang vir kleur nie. Die helder wax-kleurlap is die mooiste bont kleur en patrone – waarvan ek koop-en-koop. ‘n Ewige somer, ses-uur saans se vlermuisvlugte, sonsaktyd se helder kleure van soet pynappel en ryp mangoes maak my dol gelukkig.

 

Natuurlik is daar soveel meer goeie herinneringe wat ons sal koester, goeie vriende wat ons agterlaat, Ghana is vir ewig in my hart ingeëts. Vir eers roep Namibië soos Jakkals laataand na sy maat…

Advertisements

‘n Bier, tien uur – in die tuin…

 

 

Skuins duskant tien-uur sit ons tweetjies aan, by ‘n tafel vir agt. Memory werk lank reeds hier, sy ken die instelling en begin reeds nog ‘n tafel met ekstra stoele nader sleep. Afrikaners is mos plesierig en die manne sal honger aankom en die tannies se kooplus sal vêr uithang.

 

Om ons is dit ‘n miernes van bedrywigheid. Half-drom braaiers word gepak met kole en aangesteek en roosters word skoon gebrand.

This slideshow requires JavaScript.

‘n Hele sak uie word geskil en in dik skywe gesny, tamaties lê dikpens hoog gestapel op ‘n houttafel.

 

Helaas die eerste Saterdag van die maand is dit weer basaar markdag by die Goethe Instituut in Akkra. Sodra die manne deur die hek is, stap hulle doelgerig deur die stalletjies tot agter in die verste hoek van die jaart.

This slideshow requires JavaScript.

Onder ‘n toegegroeide afdak met lui waaiers kry jy vir ou-Russel en sy Ghanaian vrou, Memory. Ou Russel is ‘n bleskop Duitse-mannetjie wat jare lank nog geen behoefte gehad het on terug te keer na Duitsland se presisie nie. Hy voer eenvoudig van die beste seleksie Duitse biere in, en bedien dit met egte sauerkraut en bratwürst. Almal knik en ken vir Russel – maar as hy eers aan die gesels gaan is dit soos ‘n gesprek met ‘n kokketiel. Koppie wat skuins draai, maak g’n sin nie; met ‘n skril stemmetjie herhaal Russel oor en oor niks seggende stront, terwyl jou Bradwürst lê en koud word in jou bord.

 

Vir die vrouens is dit nie sommer net vir deurstap om ou Russel se boeppênsie te bewonder in verlede week se vaal-wessie nie. Kyk – Afrika se bont kleurspel betower elkeen in ‘n ander manier. Daar is beslis ietsie vir elke smaak. Die ‘groen’-tannies koop organiese slaaiblare en getapte kokos-olies. Handgemaakte seep met granaatsaad, lyfrome, tuisgebakte brode en konfyt in flesse. Daar is altyd ‘n reeks tweedehandse boeke, leersandale en skouersakke in bont Afrika-lap. Kindertjies loop en slurp lemonade uit plastiekbekers en jaag mekaar uitgelate tussen stalletjies en potplante rond.

Vandag se fonds is ronde plat gebakte kleipotte met deksels. Voorheen het ek al hiervan gekoop, dis soortgelyk aand die Argiela Potte in RSA, teen ‘n fraksie van di koste. Pak jou vleis en groente, bestrooi dit met speserye en minimale vloeistof en bak in die oond. Een uur later smul jy aan iets wat net soos Ouma se kossies proe, asof sy ure lank in jou kombuis kom kook het.

 

Bont lap is my kanniedood. Ek vrek maar stap nie verby mooi bont lap nie. Vanoggend het ek die hele week se broodgeld op lap uitgegee. Nee, ek weet nie waarvoor ek dit gaan gebruik nie maar ek klou dit heimlik onder die arm vas toe ons terugklim in die mouter.

 

Hier sit ek; siels-tevrede, lekker wild en woes gesnuffel en tierlantyntjies gekoop. My Vrystaatman het met die ander harde-baard manne gekuier en Weissbier en Dunkels slurp. Die manne het kalmpies mekaar se sielle uitgetrek, flussies die draakgesteek met mekaar se doen en late. Net voor een is die markdag op sy besigste. Ou Russel het ‘n baie eenvoudige wenresep bymekaar gesit. Sappige hamburgers, hoender sosaties warm vanaf die braai, vinnige vriendelike diens en koue bier teen ‘n wenner prys.

 

Mense begin rondstaan en wag vir stoele en tafels om beskikbaar te word. Dis tyd om te gaan. Ons skuifel en wikkel oppad na die hek tussen die mengelmoes van besoekers en bekendes. Dis ‘n gegroetery en oulaas loer om te kyk of ons nie iets gemis het nie.

 

Die markdag is ‘n versteekte pêrel wat ons deel met al die nuwe mense wat ons teëkom. ‘n Hele sewe-en-twintig dae moet verby gaan voordat ons weer die joligheid van die Duitse Markdag kan geniet.