Tag Archives: Malema

Motte fladder na die lig

As die kasdeure oophang

My se gatvelle het gebrand as ek na donker nog op straat gespeel het. Doei tyd was kinnertjies veilig om te speel totdat die straatligte aangekom het. Dis nou lank voor Zuma ons straatligte afgeskakel het. Praat van ligte aan- en afskakel – annerkand die seewater brand blink liggies soos glinsterende diamante. Is mense maar net soos motte? Fladder ons ook blindelings na blink liggies? Is dit in ons gene om te kies wie fladder weg en wie hang tuis aan Ma se rokspante en vreet motgate in al wat ‘n lap is?

Ons lewenspaadjies is reeds in Moederskoot vir ons uitgelê. In die kraamsaal was my Moeder, grootoog, en aan die kloek. My Moeder het my aangeraai om my kinders na aan die hart te koester terwyl ek hulle nog onder my eie dak grootkry, want as hulle eers hulle vlerke sprei is dit te laat. Wyse ou siel wat sy saamdra want toe sy dit kwytraak; woon ons toenterjare reeds op verskillende kontinente vanaf mekaar. Soos sand aandra; het tyd deur my vingers geglip.

Die klein kind se hik en omdop wat ek maande lank onder my hartklop saamgedra het soos ‘n groot geheim het al skreeuend sy verskyning gemaak. Daarna moes ek my kind deel met my man, oumas en oupas, skooljuffrouens, maats, listige Delillah-meisietjies en tegnologie. Niks maak my só bevonkfaai wanneer ek oor wasgoed oppie vloer gil dat die kleintongetjie in die keel tril en hy kalmpies sy vingers oor die selfoon se platpêns streel om sy sms klaar te maak. Waar is die tyd heen, gehasie?

Vanaand brand die rys aan want my slimfoon brrr-brrr en my kind se gesig is oor die hele skerm. Die ene baard en houtrasper stem, hallo Ma! Hy sit in Windhoek, en ek in Akkra – ons praat oor hý wat telekommunikasie installasies op staaltorings doen en aardige kliente en karakters waarmee hy daagliks deel. My hart blom, so in die gesels is hy aan die bredie-kook, voer hy sy kat en kom druk die hond ‘n nat neussoen op die foonskerm. Agter hom sien ek ‘n bondel wasgoed netjies gestryk en opgevou, daar is vrede in my hart. Laataand speel ek ons gesels oor en oor in my kop soos ‘n ou grammafoonplaat. Voordat Klaasvakie kom sandstrooi stuur ek my laaste skiedgebed – Laat U heil geskied, daar is soveel waarvoor ek dankbaar is, vannaand is daar vrede in Afrika.

Vanoggend bliep my epos vir ‘n nuwe boodskap – sy het ‘n nuwe video opgelaai en ek moet kyk. Hare wat waai in die wind en ‘n klokhelderlaggie; ek staar oopbek vir my Fielies-meisiekind. Sy’s malkop van blydskap; nog net vyf maande op haar betrokke kursus – sy’s aanvaar en in September gaan sy in Dublin verder swot. Asem, waars my asem? Hoe skerp is die liggies daai kant van die seewater? Sal my mot-kind haar pad terugvind na Namibië?

Die wêreld loop snaakse draaie en kinkels met ons. Annerdag was ek ‘n kaalvoet plaaskind, kleilat innie hand. Nou-die-dag staan ek as bruid voor die kansel, blink troupand aan die hand. So onthou ek die stamp en stoot van Afrika-immigrasie rye, staan ek paspoort innie hand en kindwip op die heup. Ons giggel nou eers oor ek wat vasstaan – paplepel in die hand oor kasdeure wat aldag oophang. Die beklemming vat-vat aan my hart – so skeur my hand die kinners se finale skool resultate oop.

Was dit so moeilik vir my Ma? Was sy dan so braaf om haar kinners weg te laat fladder? Sy het dit dan so maklik laat lyk. Vandag gooi ek al die kasdeure oop, hulle kan heeldag so oopstaan.

Advertisements
Steve Hofmeyr

Ek ken ‘n tweegatjakkals op ‘n myl…

http://www.timeslive.co.za/entertainment/2014/10/28/blacks-were-the-architects-of-apartheid-hofmeyr

Ek is heel gemaklik in my witvel, dankie. Party sluk nou hulle kleintongetjies in, dis reg, ons móét met trots kan praat van witmense en mý witvel en mý witgevoelens. Dis nié rasisties nie, rasisme is; om jouself of jou volk of tradisie as superieur te vergelyk met ‘n ander ene sin.

Sestig jaar later gaan ons reënboognasie nog steeds modder gooi – kyk maar na oningeligte sotte in Amerika wat defnitief meer rasisties as die alleman in RSA is. Op die oomblik gryp party van onse mense na strooihalms en ander na stront en hoop die stink stick nie. Steve, was jy nie daardie selfde ou wat gaan braai het saammet Zuma toe jy ‘n social status triek wou trek nie? Het jy nie op News24 op 27 Maart 2007 die hele wereld ingelig het dat :Hofmeyr said: “Zuma is one of the few leaders with whom I would sit around a fire. He’s an honest man and speaks like an Afrikaner – a straight forward person.” Nou pas die skoen nie meer nie.

http://www.news24.com/SouthAfrica/Politics/Zuma-Afrikaners-bond-at-braai-20070327-2

My oorle Ouma Henna het gesê, ‘n ou word aan sy vriende geken en jy swaer is nie my vriend nie. Jy was ougat in Agter elke man en jy sing met ‘n rasperstem wat my lam in die knieë het, maar ek sien ‘n tweegatjakkals op ‘n myl. Smaak my, jy dans op verskillende soorte musiek, net wanneer dit jou pas.

Kan reëboogmense nie maar plan maak om te leer uit die geskiedenis voordat ons besef geskiedenis herhaal homself net oor en oor. Die spelers verander maar dieselfde storie oor en oor herhaal homself.

In Namibië het die staatshoof eendag besluit “almal hier is Namibian” en daar word nie meer in die nuus verwys na ‘insittendes’ in ‘n taxi nie. Dis soveel ‘Namibiese mense’ wat beseer is, en basta met die res van die sugar coating. In Namibië sien mense nie kleur soos in RSA nie. Die enkele plaasmoorde daarso word almal opgelos. Lees hierso: http://www.sun.com.na/crime/police-hot-heels-farm-killer.59388http://www.namibian.com.na/indexx.php?archive_id=116325&page_type=archive_story_detail&page=1http://allafrica.com/stories/200912040129.html.

Die hele land jag letterlik die gemors totdat hulle gevang word.  Nou wat gaan dáár anders aan as in RSA? Maklik, hulle sit jou op jou plek sodra jy haatspraak of rassistiese opmerkings maak. Die mense werk saam en verdra mekaar se plekke in die son.  Almal giggel oor mekaar se eienaardighede. By ‘n vulstasie hoor ek ‘n joggie koggel “Hey Boer, gooi ek vol? Jys mos ‘n boer met ‘n dikbeursie!”…die boer antwoord “Wambo, ons almal se geld is ewe dun en ry dieselfde plaaspad huistoe” so in die wegstap.  Toe hy terugklim is al die bakkie se ruite skoongepoets en die Wambo staan met ‘n varsgebakte caffee-bruinbrood onder die blad en kleingeld en uittel. Niemand pluk ‘n 9mm uit nie, niemand spring aanmekaar soos kapokhaantjies nie.   Ons maak ‘n grappie en koggel mekaar goedswillg uit. Verdra en vergewe en ‘n goeie dosis humor werk elke keer. Sal so iets vandag in RSA gebeur…jinne ek glo nie.

Die media in RSA het almal ‘n propper bekklap nodig. Verdraagsaamheid en respek vir mekaar moet weer van vooraf aangeleer word. Totdat die media en idiote op hulle soapboxies leer om 100% meer verdraagsaam en met respek teenoor mekaar op te tree, gaan ons daai skippie ry met gate in. En die water stroom is, net ‘n paar ‘insittendes’ skep water uit.

Sien die hele ding begin met opvoeding. Ons word ge-‘brainwash’, elke dag deur die media. Nou moet ons van voor af geleer word, ons is almal Suid-Afrikaners, ons almal behoort en niemand gaan sy pie vat en waai nie, almal bloei dieselfde en elkeen soek sy pozzie in die son. Solank as wat hulle heeltyd mekaar se verskille beklemtoon, gaan ons mekaar as verskillend sien. Lees en leer oor mekaar se gedeelde skandes en verdriet en dan begin jy eers empatie en verstanding en aanvaarding skep.

Solank as wat daar na rasse wat een meer verhewe (Zuma) en onaantasbaar ( Malema) as ander verwys word, gaan ons mekaar so sien. Ai toggie, die Afrikaners kan hulleself tog so Martie-martelgat-gedra! Waar is die boerevolk wat konsentrasiekampe oorleef het? Iewers moet daardie sterkwil en hardegatgeit nog in onse are pomp! Solank as wat die media en politikuste brownie-punte bymekaarmaak en kakaanjaag en die rassehaat vuurtjie aanblaas sal daar nooit aanvaarding en vergewing kom nie.

Ons is mekaar se grootste vyand. Leer tog dink vir jouself en besluit self wanneer jy nie saamstem met dit wat teen jou grein skuur. Dis voor die handliggend dat die (stort)kop van RSA vrot is; tot op die been verrot. Sy skelmstreke was al onder die soeklig voordat hy president geword het. Nou kom hy weg met blatante diefstal van miljoene en die media vryf sout in onse wonde. In plaas daarvan dat die media konsentreer op die diefstal en opcover daarvan en die absolute minagting van die wet, blaas hulle weer die rassevlammetjie aan. Waarom so baie verkragtings en brutale moorde, gaan terug na ons voorbeeldige Zuma-leier-se eskepades wat kwytgeskeld is. As hy dit kan doen, doen die res van ons so voort.

Ek pluk my so op, elkekeer as iemand kerm en kla, maar vra tog wat hulleself daaraan doen. Moenie saamstem met die kermderms nie. Dit verander niks nie. Laat jou net negatief voel. Gaan vee voor jou eie agterdeur en doen ‘n selfondersoek in jou eie dade van vandag. Het jy daadwerklik iemand naby jou probeer leerken as mens? Het jy ooit gestem in die laaste verkiesing. Indien nie – hou jou bek of doen beter, of kom op met ‘n oplossing of voorstel. Maar trek tog net vinger en doen tog net iets anders as kerm en klim van daai soapboxie af.

As stemreg iets daadwerkliks kon verander, sou ons nie toegelaat word om te stem nie. Al daai kermgatte wil nie ‘n oplossing vind nie, want dan moet hulle iets anders kry om te haat of om oor te kla. Kap dit (rassehaat en kerm) af, sny die res van die vrot uit (vlek die vrot oop) en steriliseer (verbind, verdra, vergewe) dit wat oorbly.

Skuif nader, ek hou vir jou ‘n plekkie in die son.