Tag Archives: Mode

Veldblom leen ‘n blaadjie

Vanoggend voel ek minder roos en meer veldblommetjie. Net na nege en dis reeds 32 grade selsius, hierdie hitte smelt my grimering en maak dans walms op mouters se bakwerk. Hierdie über moutertjie se lugversorger is lankal kapoet en die vensters hang halfmas oop. In slak verkeer kan ek rustig terugsit en die bont spul van Akkra se strate bekyk.

Screen Shot 2017-10-15 at 8.26.11 AM

Afrika skrik mos nie vir kleur nie, mense se modestyl is die rede vir goeie vermaak. Die jongere geslag se meisiekinners is loshande die voorlopers vir waaghalsigheid. Hulle moor hulle-self deur op absurde hoëhakke en lykra rokke die oneweredige sypaadjies aan te durf. Dit veroorsaak ‘n ketting reaksie van dapper jongmanne op soos wafferse poue te probeer kersvashou. Salmpienk spanbroeke en hemde in helder spatsels van blou en groen, met bygaande punt blink skoene en donkerbrille is algemeen. Die ouer dames dra tradisionele bont Afrika rokke en kopdoeke, en die ouer mans dra vaal formele pakke of netjiese langmouhemde en langbroeke.

Screen Shot 2017-10-15 at 8.34.16 AM

Akkra se ses miljoen plus se mense slaap min. Lank voor sonop, begin die verkeer se druk opbou. Vrouens sit om kospotte op sypaadjies en berei vetkoeke en gebraaide kositems net daar voor. By elke robot, is die gemiddelde 3-minuut wagtyd genoegsame tyd om straatkos, toiletpapier, motorplakkers, Bybels, CD’s, tafeldoeke, kougom, selfoonlugtyd, krafkabels, aan te koop. As dit draagbaar is, kan jy dit sekerlik iewers deur jou venster aankoop. Straatverkopers met ‘n glimlag teen vroegaand verbaas my altyd. Dink jou in hoeveel keer per dag daar vir hulle “nee” gesê word! Daar is honderde van hulle, van voor sonopkoms tot laataand. Elke nou en dan spat en hol hulle dat jy net plakkies sien waai, want dan kom die lokale polisie die smouse verjaag, maar môreoggend is hulle terug, met groot glimlagte.

Screen Shot 2017-10-15 at 8.25.21 AM

Dit neem lank om al die bedelaars gewoont te raak. Blindes word deur jong kinders by verkeersligte rondgelei, hulle klop-klop aan jou venster en prewel ‘n onsamehangende gesanik en druk ‘n bakhand onder jou neus in. Polio is baie algemeen hierlangs, en halwe mense op skaatsplanke rits behendig deur verkeer en klop-klop aan die mouter se bakwerk, bakhand op wiel hoogte. Lammes trek hulleself tussen rye mouters deur met rolstoele wat hulle soos fietstrap voor hulle roei. Na etlike weke herken jy dieselfde Niger-bedelaars. Iewers onder ‘n koeltetjie sal die ouers met skrefie oë sit, terwyl kinders tussen 3 jaar tot so 12-jaar op 4×4 motor’s se opklimtrappe spring en ‘n paar meter saamry. Hulle gryp voetgangers onverwags en slaan hulle arms om hulle bene of hang aan hulle arms. Mense gooi ‘n paar munte en skarrel om weg te kom. Party verskree hulle en ander versnel met ‘n berekende pas en igroneer hulle.

 

Met daaglike druk verkeer sien ek min ernstige ongeluke, mense skraap mekaar se mouters, en soentjie mekaar se buffers. Dan spring die bestuurders uit en gil en skree, soos klokslag vergader ‘n bondel en almal pleid vir vrede, en sodra die bestuurders stoom afgeblaas het, verdwyn die skare en kruip die verkeer weer aan. Groot strate se toestande is beter as wat mens verwag deur die stad, maar die woonbuurte en agterstrate is haglik. Langs elke pad is onooglike diep rioolvore, en hier en daar is daar metaal stawe wooroor mens kan ry. Screen Shot 2017-10-15 at 8.37.07 AM

Dikwels sien jy ‘n lendelam lorrie met ‘n agterwiel vasgeval in so sloot. Daar is geen wetgewing rakende verkeershobbels nie, en elke Jan-Rap-en sy Maat, lê hobbels neer voor sy werksplek, die een hoër en ronder as die vorige ene. Dit verstom my hoe mense Rolls Royse en Ferrari’s rondry want dis verregaande om vinniger as een minuut meer as 70km per uur te ry, of 3km sonder om oor ‘n berg van ‘n hobbel te ry!

 

Praat van mouters, kom na Akkra om uitspattigheid te beleef. As daar ‘n oorvloed van geld iewers is, sal dit gesien wees. Goue glinsterende nuwe modelle is orals te sien. Mouters wat nog net in blink tydskrifte verskyn, sal volgende week in hierdie mal verkeer rondrits.

Mense drapeer hulleself naby en bo-oor en neem kiekies van hulleself by sulke motors. Vir ekstra effek, hoor jy gewoonlik die enjin se gebrul, of die polsende musiek voordat jy die blink motor raakkyk. Aan die ander hand is oorlaaide 1970 lorries met agterbakke van hout gebou en skewe aste wat krap-ry oor twee verkeerslane. My über taxi is in 2015 geregistreer, en ‘n bont plakker dekoreer elke moontlike roeskol, die vere is deurgery maar die radio werk en die drywer sit vroegoggend met die grootste glimlag en groet die bedelaars soos ou vriende.

Screen Shot 2017-10-15 at 9.04.30 AM

Ons kan ietsie leer van verdraagsaamheid en ‘n blaadjie neem uit leef-en-laat-leef se boekie.

Advertisements
When it's hot please dress for the body you have, not the body you want, thanks.

Mode grille, en poeding-walletjies…

Volgens I Scrap skriffel ek hierdie week oor mode(s)

In Akkra sien jy gou as iemand nuut aanland. Hulle wikkel ongemaklik in satyn, poliëster, chiffon klere wat soos kondome aan hulle lywe vasplak. Nuwelinge staan uit soos ‘n paal bô water- soveel so, dat die lokale mense verwys na nuwelinge as “Johnny just come”. Binne ‘n week besef jy hierdie bloedige humiede weer verdra net katoen en ligte linne as praktiese lap naby jou lyf.

Lap wat vasklou soos kondoom

Hierso laat vaar jy die modegier ten gunste van prakties-wees. Fyn sandaaltjies se bandjies, oorleef nie ons sypaadjies nie. Stukkende skoentjies forseer jou rooi gesig in die middel van die straat, om plastiek aanglip plakkies te koop.

As jy in RSA ‘n kantoor-poppie was en net swart pakkies in jou tas geland het, gooi uit, koop bont Afrika patrone. In Akkra trek mense net swart aan in ‘n rou tydperk of in voorbereiding vir ‘n begrafnis. Almal wil weet wie het gedood as jy swart aantrek. Sodra niks bymekaar pas nie – dan pas jy. Strepe en blokke, skel pienk en oranje – Afrika skrik nie vir kleur nie.

Colourful African inspired beads by Sylvie FranquetBeads

Internet foto: Colourful African inspired beads by Sylvie FranquetBeads

Ons staar na mooi mense en verstaar onsself na mode fratse. Toeriste ge-dress as skaap-getooi-soos-lam; In Amsterdam se strate is daar slim borde wat lees: In warm weer – trek aan wat jou lyf pas en nie wat jou hart begeer nie! Hierso loer ons net en gooi die wit-oog-rol.

Om nuwerwets te probeer wees help ook nie. Die mode aankopers van groot ketting winkels is sekerlik almal pas gegradueerde mode poppies met nommer ses lyfies. Hier in Mr Price is daar lewens-grootte leuens geskrywe op fênsie borde wat uitbasuin: “You can totally Rock This”. Maak wat jy wil, pôpo pas nie ‘n piesangskil nie. Neem waar: daai stywe winkelmannekynpoppe… daar’s meer spelde en plooi voue; as tanne in hulle monde; alles net om daai kleertjies mooi aan ‘n nommer ses lyfie te laat lyk.

My Ma sê: Spandex loop saam met yoga en “Wild Musk” brandstokkies. Sweetpak-goete hoort net in gimnasiums – en die fluweel-soort lyk soos sweet-ryperd wat geroskam moet word. Toiings werk net vir Rock-sterre en wille-aanties op tema-paarties. Vere loop met troues, doopkerk en matriek afskeid…en my Ma is nogals fênsie! As ek die self die reëls oortree, dan sorg ek dat alle leidrade daarvan, nooit op sosiale media vasgelê word nie. My Ma ken van Bakkiesboek!

Vir jare reeds weier ek om groter klere te koop, ek verneuk net my liggaam deur minder te eet. Ek vermy biltong, braaivleis, brood en soetpatats. Dis nie maklik nie. Jackie my vriendin sê sy kan drie-dag-oue brood vanuit haar kamer op die tweede verdieping in haar kombuiskas raak-ruik! Gewoonlik lewer minder-eet resultate, na so week, maar ek voel soos ‘n arm-blanke as ek aand vir aand my leë wynglas aanstaar.

Tussen skoonma en ek, heet ‘n wapenstilstand. Sy weet ek kyk mooi na haar seun want hy lyk nie ondervoed nie. My hande ken my Vrystaat-man se hele lyf. Vanoggend besef ek sy poeding-walletjies om sy heup is besig om te verdwyn. Dit laat my met ‘n dilemma: Koop kleiner Diesel-denims vir hom of bak meer gereeld poeding. Ek blameer sy nuwe roeimasjien wat my staan en tart in die eetkamer. Die ding is ‘n antieke kontrêpsie, kompleet met verstellings vir meer pyn en lyding. Na vyf minute op die martelmasjien, hyg hy soos ‘n hartaanval op bestelling; ek sit ek met my vinger op die ambulansdiens se noodnommer. My swak hart – jy kry my nie op daai ding nie. Trek eerder die strop om die nek stywer. Nul per mond, vir nog ‘n week.

My seun se bêk moet nie aldag jêm kry nie. Die storie moet met seep uitgespoel word want hy sê net wat hy dink. Ek dink ek is modieus, maar word vertel dat ek nou soos ‘n ou-tannie aantrek. Ek reken my a-simetriese langer lengte bloese, verdoesel my rolletjies. Hy reken ek lyk soos ‘n vlermuis wat aangefladder kom, en my knieë het dimpels. Ek het nou ‘n hele kas vol groen boerseep vir sy bêk, en ‘n klerekas vol langer Capri’s van Woolies. Dis ‘n lang kortbroek wat die knieë se ‘gesiguitdrukkings’ geheim hou.

Dis Wêreldbeker Rugby tyd, en basta met alle modes. Saterdag as die Bokkies op die veld uitdraf gaan ek daar sit met al my rolletjies, in my groen-en-goud-hempie vol wynglas in die hand, reg langs die braaivleisvuur!