Tag Archives: Moeder

Vaseline

Daai ‘wesselien’…

Die weer is aan die verander en my Vrystaat-man vra ek moet ‘n room in die winkels gaan soek vir sy elmboë en droë vel. “Maar nie daai ‘wesselien’ stront nie.” Dis blykbaar nie geskik vir manne wat staan en piepie nie. “Ni-vee-a” is veilig, solank dit geen sweempie van parfuum te bespeur het nie, en nog beter as dit in die donkerblou bottel is, en ‘FOR MEN’ duidelik daarop geskrywe staan.

Vir manne wat staan en piepie

Vir manne wat staan en piepie

O goeiste – iewers het ‘Wesselien’ ‘n groot toets gedop in hulle bemarkings afdeling.

Eendag –in die swaar dae; was daar ‘n man wat pasgetroud, geen geld gehad het vir sy wittebrood nie. Die eerste aand bevind hy homself terug in sy ouerhuis met nuwe bruid en sy jonger broertjie onder dieselfde dak.

Die nuwe bruidegom se Moeder is erg senuweeagtig dat die kleinboet tog nie onnodiglik grootmensdinge moet uitvinne nie. Moeder is heimlik bekommerd oor die jonger seun wat sy neus tussen boekblaaie hou en sy tyd met die bou van skeepsmodelle verwyl.

Vroeg die volgende oggend trap-trap kleinboet in die kombuis rond. “Ma, het Ouboet al uit hulle kamer gekom” vra Kleinboet. Moeder val oor haar woorde, en jaa hom skool toe terwyl sy ‘n definitiewe “Nee”, antwoord. Middagete is dit dieselfde storie. Kleinboet krap-krap rigtingloos tussen sy skeepsmodelle rond, en vra weer of Ouboet al uit die kamer ter voorskyn gekom het. Moeder slaan haar hanne saam en vroetel aan haar voorskoot. “Nee, man, los tog Ouboet, en gaan maak jou huiswerk klaar.”

Met aandete, skuifel-skuifel Kleinboet rond maar eet nie veel nie. Loer net na die bo-punt van die trappe. Moeder voel nou self effe angstig, en toe Kleinboet weer vra of Ouboet al uit die kamer gekom het, antwoord sy in ‘n harde stem wat sy self nie herken nie. “Nou wat karring jy so oor Ouboet?”

Kleinboet loer onderlangs en mompel. “hy het gisteraand laat in my kamer kom vra vir “wesselien” maar ek is seker, laataand in die donker, het ek my modelskeep se kitsgom aangegee.

Advertisements
o-BLACK-AND-WHITE-SAD-OLDER-WOMAN- www.huffingtonpost.com - photo just for illustration

Kies nuwe Kaktusdorings …

Mense kom oor jou lewenspad; party as heuning en ander as bye. Sommiges leer jou ‘n lewensles, ander leer jou so ietsie van jouself, die wonderlikes laat herinneringe wat jy koester. Daar is ook dié wat soos kaktusdorings jare kan neem om uit jou gestel te sweer.

Van ons wat gelukkig genoeg was om in moederskoot gewieg te word, verstaan daar is Engele op Aarde wat jou vir ‘n wyle in ‘n palmholte koester. Op skool en tussen familie leer jy waarvan jy as mens van hou, en skaaf sommige goete jou hoeke rond en jou punte skerper. Op kampus besef jy hoe wonderlik vriende kan wees, en hoe skadelik verkeerde geselskap en -keuses jou kan brand. En dan stoot jy aan in die grootmens wêreld en navigeer jy self jou kompas.

Ek glo nie in toeval nie, ek glo my pad is vir my uitgelê lank voordat ek ‘n roering in my Pa se lies was. Hoe ek deel met elke dag se seën en reën het ‘n vyftig-vyftig uitslag. Ek lees raak; as ek ‘n jons koester, huur ek spasie in my gedagtes gratis uit, aan die een wat ek nie vergeef en vergeet nie. Die bitterbal-soort gee mens mos lewenslesse wat jou jare later, rede gee, om kopdokters skatryk te maak. Onder hulle tel ek ou liefdes en die gevaarlike malletjies wat net wag of gesertifisseer te word. Die kêns-soort beweeg skaamteloos vry tussen ons rond; trap modderspore deur ons harte, vermorsel ons menswees en tuimel jou menswees-balans.

‘n Goeie vriendin gaan na jare deur ‘n onvermydelike egskeiding. Op ‘n afstand lyk die huwelik soos ‘n goeie uitbroei eier; maar in ons tyd besef ons dit was so effe dundop en gekraak. Een knyp ‘n kat in die donker, en skelmstreke soek ‘n maat agter die deur. Soms weet jy daar is ‘n slang in die gras, maar in tyd raak mens tog maar vertroud met ‘n situasie. Ons kompliseer gebeure en rafel gevoelens uit tot net klossies oorbly. Jare lank moes ek haar help, haar laste dra.   Maar ek het vroeg besluit om nié haar laste vír haar te dra nie. Sy is nader aan vyftig as veertig, haar lyfie soos ‘n uurglas met baie extra minute gelaai, en haar hart vol splinters wat sy pynlik een vir een uittrek.

Ek wil haar toevou in tweelaag sneespapier. Dis nie vir my om te oordeel nie. Sy het haar keuses gemaak. Sy het vir jare lank gekies tussen heuning en bye, haar hart ondersoek en vergeef. Ek vra myself moeilike vrae – dis nie vir my om te besluit of sy iets meer of minder verdien nie. Jare lank was dit my plig om my maat se las te help lig, die gebroke hartjie te help lap.

Noudat haar huwelik verby is, besluit sy dit was tog ‘n beplande bepalende hooftuk in haar lewe. Sy het tog geleef, beleef, geleer, gelief, gegroei en aanbeweeg. Saam besluit ons sy is nou wyser en sal nooit weer, oor haar ouman trane stort nie. Na baie trane beginner my vriendin tuinmaak. My hart lig, mense wat grou en plant, belê tog in ‘n belofte van môre. Oor die werf hoor ek haar klokkielag eers gedemp en eendag uit die maag.

Dit maak nie saak wat ander vergeef nie, net wat ek myself vergeef. Vandag huil ek my oë droog want my vriendin en haar ouman trou weer voor die Landros. Dis mos onnodig om twee keer dieselfde fout te begaan, daar is dan soveel nuwes om van te kies.

Sonder 'n stingel

Ek is ‘n belofte aan ‘n sterwende man

Hoe kan ‘n “sonder die stingel gebore” met mansname geseën word?

Sonder-'n-stingel

Sonder-‘n-stingel

Op my tyd het ek self al ‘n vroumens Pieter, Peet, Jake’s en Ossewania ontmoet.  Sekerlik het die oorlogtyd en konsentrasiekampe die oumense na uiterste naamgee gedryf.  Destyds, in die maerjare van die neëntien-sestigs op Standerton, het ek ook my aardige naam gedêps.

Ontbyt is waar al die famlie aangesit het en skaapvet op varsbrood smeer. Biltongskyfies sny bo-oor mieliepap …My Moeder was hoog-swanger met my – toe haar houtbeen-rooikop Pa so al sukkel-sukel om die ontbyttafel stap. Suikersiekte en hartkwale loop harstallig dik in onse familie.  Uit die bloute merk hy teenoor my Moeder op, dat híerdie kind wat sy dra- sý name moet kry. “Ja-Paaaa, ek belowe” was my Moeder se ongeêrgde antwoord.

Daai tyd, op die plaas, het niemand ‘n kind naam gegee totdat die geboorte oorleef is nie. Eers ses maande later is daar geplan aan doop – wat móés saamval met nagmaal. Enkele dae later is die houtbeen Vader so stilletjies in sy slaap oorle. Tussen al die hartseer kom ek as troos- al skreeuend twee of drie aande later – nes my oorle Oupa – bos krul rooi hare. My Moeder voel toe só skuldig dat sy “’n belofte gemaak het aan ‘n sterwende man”. Die grond nog vars bo-op die houtbeen-Vader; is ek op ‘n brose vyf dae oud gedoop as Diederick Daniël Janse van Rensburg. Daar was geen nagmaal nie, net ék met my rooi-Oupa se name en Ma se trouvan. Almal noem my Daniël, op skool het ek gou geleer om my min te skeel aan dié wat wou spot. Dit was uniek, vreemd en ‘n geselssie met elke nuwe ontmoeting. “Hoeveel ander Daniëls kên jy “sonder ‘n stingel?” Só het ek nooit eers oorweeg om ooit my naam te verander nie. Daar was vele verwarring en giggels deur die jare met mense wat dit tog te aardig vind. Die bankmense en binnelandesake ouens krap vandag nog hulle kop daaroor.

Afrikaners vind humor in ráák beskrywings en deel byname uit wat kleef vir áltyd. Noem my Karel, word “Meraai se Matewis kat” en voordat jy jou oë uitvee noem almal op die dorp jou Karelkat en later Matkat. In Suidwes ruil die Wambo’s die r en die l om. Só lees daar op die Id document Lasalus en nie Lazarus nie In die Richtersveld en Suide van Namibië gee die Nama’s ook hul kinders soms snaakse name. Ons hoor van Badprop, Tjotterjot, Keesbene, Koekhaar, Doringdraad, Vierietjie, Koeka, Draadkar, Poena, Nonnies, ‘n paar Colgates, Omo ens.

Suidwes se Basters van Rehboth maak laslap name. Shandré, Chess-Lynn, Rhozelda, Quéritha, Haybre Shernice, Lucresia om net ‘n paar te noem. Die reël is as jy dit nie kan spel of eerste keer uitspreek nie, vra wáárvandaan.

Snaakse Vanne gee duidelik ook probleme. Al gehoor van Mnre Nis wat hulle Van wou verander? 
Be-ampte by Binnelandse sake vra hoekom? Lees gou bietjie hier sê Mr. Nis, en dan sê jy vir ons hoekom níé, antwoord die broers en hou koeverte geadresseer aan hulle uit. Mnr. A. Nis en Mnr. P. Nis. Nóg snaakser is die skeeloog onderwyser met die Van Wijdkijk. Op skool was ‘n paar Hol-langse (níé Hollandse) vanne woes snaaks soos ene Snotgras, Buffelbout, Trantaal (níé Tarrentaal) Keteldas, Papenfoes, Drollapper, Fokkens, Mr Moerse, Mr Klinker en Mev. Trill. Probeer Koekemoer en Bezuidenhout verduidelik aan Engelse mense. (Choc –hen –mur en Bes-wiet-hen-hut.)

Byname dra jy trots tot jou dood toe. Kyk jy krieket of rugby dan ken jy nie Bernardus Lambertus en Willem Jacobus maar wel Dagga en Spinnekop Hulle sou nie droom om op hulle geboortename genoem te word nie. Daar was Viervoet (Liebenberg), Bok (Markram), Haas (van Zyl), Hakkies (Husselman), Duimpie (The-ron), Scholla (Scholtz), Makwas (van der Walt), Chappy (van Vliet), Slang (Roux), Stompie (Fourie), Kraai (van Niekerk), Kriek (Erasmus), Wommers (Brown), Muis (Viviers), Biltong (Grobbelaar) en Vlakhaas (Ross).Ek self het al van Piet-Piston, Daantjie-Dik, Gerrie-Vlerrie, Jannie-Blomoor, Arlie-Alsverniet, Charmaine-Wyn, Gert-Jakkals, Piet-Paashaas en Molla-Muis gehoor. Aan Spiekeries, Mannetjies, Piston, Waslap, Vleis, en Bakkies gaan ek nie eens karring nie.  Dit kan net te lank aangaan.

Die atlas wys my plekke het ook giggels in. Dorpsname, of plaasname, hoe klink: Vlermuisvlakte, Sonstraal, Houmoed, Granaatboskolk, Spoegrivier, Platbakkies – die gevolg van ‘n kroeg-geveg? Waarvandaan is Grootmis (naby Kleinsee) en die mooiste ene tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein.