Tag Archives: Oupa

Oupa Vrystaat en Kakkerlak…

 

My Oupa se sweep het agter die deur aan ‘n hakkie gehang. Een dik en een dun punt het die vloer so kieliestreep getrek wanneer die deur toeswaai. Almal het geweet Oupa se sweep-swiep was vinniger as slangpik en harder as geweerskootklap. Die dorp en Kerkraad het in fluisterstemme geskinder van Oupa wat vir sy volk, grond uitgedeel het.

 

Hy was die kalmte vanself en ek vermoed hy het dit heimlik geniet om anders te wees. Gedorie waar; ek het Oupa nooit een keer hoor skree of vloek nie. Maar Oupa het bees en skaap aanja, vanuit sy bakkie met sy sweep.  Hy het eenslag ‘n perdebynes onder die dakoorhang met die sweeppunt afgepiets. Die werkers was doodsbang vir daai gryskop met sy groen fluweekbroeks en kruisbande. Hy het geruik na Lux seep, Old Spice, Bryl Cream, Kiwi skoenpolitoer en Boxer twak en het Wilsons toffies in sy broeksak gedra.

 

Oupa Vrystaat het altyd na middagete sy pyp gestop en sy hoed op sy kop geplant. Dan vat hy sy sweep in die een hand en geelkierie in die ander hand. Aan die eenkant was sy spikkelhond, hy het met so driebeen wip-stappie met Oupa oor die werf gestap. Kakkerlak was altyd Oupa se skadu, en hulle was orals saam op vendusie. Kakkerlak kon ‘n gemsbok op die volgende rooiduin lank voor almal, eerste raakkyk en spoorvat was sy ding. Kakkerlak se hoed was getooi met ‘n verinneweerde pouveer. Oupa se hoed had ‘n plat groen veertjie in die hoedband wat opstaan in die wind wanneer Oupa sy dieselbakkie bestuur.

 

Kakkerlak was ‘n geel-rimpel Namib boesman wat agterop die bakkie saamgery het, want spikkelhond was voor langs Oupa. Oupa het gesê: “Die dag as sy spikkelhond leer om plaashekke oop te maak, kan sy spikkelhond en Kakkerlak plekke omruil.”

 

As Oupa en Kakkerlak weerskante van die tabakblare se rye gestap het, het hulle net soos daai twee punte van die sweep gelyk, een dik en een dun.

 

Net sy Ma het hom Gogga geroep maar al die ander werkers het gesê dis te mooi vir iemand so lelik, en hom Kakkerlak gekoggel. As Oupa hom so geroep het, het Kakkerlak se pienk tannevleise gewys en het hy met wakker oë als geluister wat Oupa sê. Dan het Kakkerlak geantwoord: “ Ek hoor hom, my Kroon”.

 

Oupa Vrystaat het goeters geweet sonder dat mense dit vir hom kom sê het. Hy het als geweet van beeste en skaap, vendusies en markpryse, oes en plant, van reën en droogte, van die Bybel en van oorlog. Net die regering en belastingman het hom omgekrap.

 

Kakkerlak was Oupa se voorman want hy kon stywe lyndrade span en reguit ploeg met die trekker, en hoor nog Oupa sê: “Ek het Kakkerlak reeds kleintyd na my hand geleer.” Daai voorman het gesnuif, pruim gespoeg, gedobbel en gevloek wanneer hy gedink het Oupa is te vêr om te hoor. Ek dink nie Oupa het hom daarvan geleer nie.

 

Toe klein Miena met ‘n lap oor die oog in die kombuisdeur kom snik het, het Oupa gewéét Kakkerlak was stormdronk en kaalgat aan die dans om die vuur by die stroois. Oupa en sy sweep en my Pa en die spikkelhond is donkernag uit. Miena se gekerm was erger as koei wat kalf, en ek moes laat nag tee maak en lakens opskeur vir bindlappe.

 

Sekerlik het ek daai aand diep geslaap, want ek het niemand met die dieselbakkie hoor terugkom nie.

 

Die volgende oggend het die son lang skadustrepe by die hout tabakstoor geskuif, maar daar was geen teken van Oupa se sweep of van Kakkerlak nie. Inteendeel – geen siel het dit oor die werf gewaag nie. Ouma en Miena het heel oggend die spêns uitgepak en rakke afgewas en uitgelê met Landbouweek se geel advertensieblaaie. Miena se oog en wang het kompleet gelyk soos ‘n dubberdoor eier. Oupa het draadloos geluister en met my Pa oor veilings en reën en wolke gepraat. Daai spikkelhond het ‘n paar keer tussen die stoep en die windpomp gehol en dan op die trap van die rooistoep kom staan, en vir Oupa in die oë kom kyk.

 

Heeldag wou ek weet wat aangaan. Die hele huis het skielik in fluisterstemme gepraat en stil gebly as ek instap. Ek was elf-jaar oud en Ouma het gesê ek moet ophou tanne tel en my heeldag rondgestuur vir eiers uithaal en die hele groente boord nat te lei. Daarna moes ek perd opsaal en ry om vir die bure gaan sê hulle dorpers het draad gespring en wei in Ouma se lusern.

 

Twee dae later het Oupa se sweep weer geswaai vanaf die hakkie agter die voordeur. Wanneer die deur swaai het die sweep se kortpunt geklap soos ‘n droë kareeboomtak wat afbreek. Die kortpunt het oor die jare bly uitrafel en nooit weer het die sweep soos geweerskoot geswiep nie. Daai spikkelhond het nou alleen met Oupa uitgestap en bly sirkels hardloop met sy neus laag in die sand.

 

Miena het oornag witgrys geword, haar gesigswelling het weldrae beginner sak maar haar oog het bly rondspring; boontoe en agtertoe soos ‘n flitslig bome toe, soos wanneer iemand uile jag. Goete het soos pap uit haar hanne bly val, maar Ouma het net bly koppies vervang by die Koöperasie. Party dae het Miena ure lank oor die kombuis se half-deur in die sonnetjie gestaan en uitkyk met een spring-oog en een wat staar na niks.

 

Vir Kakkerlak het ek jare later, net vir een dag weer gesien, tydens Oupa se begrafnis. Met einste Pouveer-in-die-hoed het hy kis gedra tot anderkant die tabakstoor en die sweep op die kis gelê voordat die ding laat sak en toegeskoffel is.

 

Die Kerkmense het gefluister by die begrafnisete dat Oupa mos doeityd vir dronk Kakkerlak aan ‘n Kareeboom in die veld gaan vasbind het met daai einste sweep. Hulle reken Kakkerlak was ‘n gevaar vir homself en ander. Toe Oupa reken Kakkerlak het nugter tot sy sinne gekom, vind hulle net sy sweep daar by die Kareeboom. In sy dronk waansin het Kakkerlak waaragtig die sweep met sy bek sonder tanne deurgekou.

 

Voordat die teedrinkery verby is, hoor ek jare lank het die distrik se polieste ook na Kakkerlak gesoek het, oor Miena se oog-ding. Gereeld het hulle hom kom uitsnuffel op die plaas, maar kon nooit hande lê op Kakkerlak nie.

 

Dis toe dat ek besef; Oupa Vrystaat se andersheid was sy geheim, en Kakkerlak was uit die oog, maar altyd, in armlengte van Oupa af.

Hier langs my, hang ‘n verlepte tiener in in die bank van KFC; sy kop hang onder neon-kleurige bobbel oorfone – dis nie ingeprop nie want die punt hang op die teëlvloer. Die kind kan enige oomblik smelt in sy stoel, en afglip tot ‘n bondel wasgoed op die vloer. Sy oë staar maar sien niks. Sy geel vingerpunte vroetel ‘n groen Checkers sigretaansteker, om-en-om. Oorkant hom sit sy Ouma hom en beloer. Daai kyk het my eie Ouma my ook eendag lank terug gegee… toet se jare terug; onder ietwat ander omstandighede.

Destyds had ek ook so paar oorfone gedra – sommer sulke swartes. Ingeprop in my Pa se Pioneer Hi-Fi. Plat op die mat, voor die luidsprekers– daar het ek huiswerk gedoen, sommer so op die pêns met die lerieke van sy Springbok plate wat blêr in my ore. Ouma het kom kuier in Pretoria vanaf Warmbad met haar ligblou Dutsin moutertjie, en my daar op die mat die Leviete voorgelees. Sien, flussies-se-dae het die ou-mense gedink oorfone sal jou doof maak lank voor jou tyd. Seker maar soos ek vandag voel oor dieselfde Scull Candy-oorproppies wat my eie kinders deesdae dra?

Ai waar is die dae? Vandag sou ek wat wou gee om daai versameling plate te kon luister, om weer in my Pa se huis op die mat te kon lê…Groot-oog voor my Ouma staan sodat sy my berispe.

Daars natuurlik geen rede om heeltyd die verlede terug te deins nie – maar so sweempie nostalgie maak my dankbaar. Dankbaar vir eenvoudige lewenslesse. Goeie herinneringe en ‘n tyd van onskuld en snoep tegnologie.

Die verskil was onse generasie was “ingeprop”. In alles – letterlik. Jy moes net deelneem in als, want dit was skoolreëls. Geen uitsondering is gemaak nie – niemand se gevoelens was in ag geneem nie. Jy was in sekere goete en klere ingeprop: skool musiekblydspele, konserte, jeugkampe, kuiers by Ouma en Oupa, Volkspele, Kerk Basaars en Familie pieknieks. Van al daai dinge was daar geen verbykom kans nie. Vriende was nie belangriker as familie nie, en jy moes maar net jou sosiale lesse so terloops byleer.

Vandag se ouer-garde moet hare op hulle tande hê om by modern tye en tegnologie te hou. Die oomblik wat hulle geleer het fakse is vinniger as briewe met posseëls op, moet hulle die tikmasjiene wegpak en e-posse leer stuur. Na die Rock Hudson-skok, kan hulle eventueel nagmaal toe sonder hoedjies en sykouse. Dikbrille word vervang deur ooglens-operasies, plooie platgestryk met Botox. Gooi uit Playtex se Cross-your-heart bra’s en koop Woolies se Wonder Bra en dra-jou-kralestring-horisontaal. Hulle moes opgradeer van plaaslyne se trieng-trieng luie na Nokia’s en nou weer na slimfone. Vergeet van perd en fietsry, dis nou tyd vir liksensies en Koreaanse moutertjies met lugimpakkussings en elektroniese venstertjes.

Onlangs het my seun sy Oupa se motorhuis help skoonmaak. ‘n Taak kammatig benede vandag se tieners, maar ook nie vir Oumense met jig in die hande en krom rûens nie. In ‘n dik laag stof ontdek hulle ‘n paar amateur-videos op 9mm filmrolle, ‘n paar kasset klankbane en ‘n klomp skyfies in ‘n Tupper-bak. Na verdere ondersoek, baie afstof en ‘n gevroetel met die masjiene sit hulle aand vir aand en tuisvideo’s en skyfies deurkyk. Ek hoor my seun sing die woorde van van Gé Korsten se liedjies in die stort. Oupa het my sopas ge-Whatsapp…sy kleinseun reken hy is über cool, en Oupa wil hê ek moet die woord Google, want Oupa leer nog elke dag die taal uit sy kleinkinners se mond.

Nou loer ek weer vir die Oumatjie en die slap-gat-tiener hier langs ons tafeltjie. Ek het haar onderskat. Sy gaat hom nou in ‘n ding inprop, of hy nou wil of nie…

Groen Plymouth

WYK…SATAN!!!!!!!!

Deur Rina Stadler

Op sy stil streng manier het my oupa Tjoekies onwetend n groot rol in my lewe gespeel. Tjoekies…..nie omdat hy in die tronk was nie, maar in sy jonger dae n masjinis.


Vandag dink ek met soveet teerheid en liefde aan oupa. Oupa met sy snyerspak,wit hemp,bypassende das,Drakes skoene,sambreel en bol hoed. Oupa wat verkies het om te bus…..werk toe en terug te pendel Die 516 Wonderboom Suid te ry en presies elke dag optyd die kort entjie kierts regop huistoe te stap.

Sy mintgroen Plymouth het blinkskoon op stal gestaan,vroeg Saterdae het oupa haar gespit en gepolish om Sondae kerk toe mee te ry. Oupa se dae as masjinis was voor my onthou tyd,maar uit fotos wat ek helder kan herroep was Oupa net so trots op sy trein. Oupa se trein was nie net sy trein nie,dit was sy prime pet. Gedoop en gegroom voor hy die stange sou vasvat en die lang spoor sou aandurf. Oupa se kostrommel het n ere plekkie in ouma se kombuis gehad selfs na hy sy werk in die stad opgeneem het. So aftree werkie by die Reserwe Bank in Pretoria.

Oupa, onthou ek,het met presiese geleef. Namiddae met sy tuiskoms, glo my,eerste sy kort broek en gaatjies vest (op dae wat dit bloedig warm was) aangetrek,sy wit hemp met sunlight seep ingeseep, gewas,geskrop,gespoel,opgehang die punte reggepluk en dan rustig op die stoep saam met ouma tee gedrink. Behalwe vir ouma, sy liefde vir sy trein en sy Plymouth,was oupa se ander groot liefde sy roos en vrugte bome. Sy tuin was met oorleg en in oordenking uitgele , gesnoei en natgelei. Die daaglikse versorging van sy tuin het soveel vrugte afgewerp dat ouma se kas gekreun het onder lekker vye konfyt en ingelegde geel perskes.

Die wonderlikste van dit alles was wanneer oupa saans op naweke, net partykeer, sy bekfluitjie uitgehaal en wyl hy op die swart halfmaan vormige trap op die voorstoep, in die donker gesit en speel het. Meestal Hallelujas. Ek en ouma het gesit en net geluister hoe die klanke die donker nag intril. Oupa was n baie diep mens . ‘n Christen mens wat die Here met net soveel passie gedien het as wat hy vir sy gesin gesorg het.

Naas God het hy sy liefde vir ouma gewys in sy daaglikse doen en late. Haar motor versorg, die hek vir haar oopgemaak wanneer sy met haar eie motor wou ry ,…oupa was nie skaam om vir ouma n koppie tee te maak of die pos te loop uithaal nie.  

Soms het oupa erg vreemd opgetree…..hy sou so in die stap vassteek ,verwoed omkyk en hard en duidelik se : wyk satan!!!!!!!! Kon nooit vir satan sien,en het altoos gewonder oor oupa se aanspreek en wegjaag van die duiwel.

Onlangs het die duiwel so gewerk met my ook. Ons tweede kleinkind is oppad en ek wil dit uitblaker aan almal wat wil luister.  Nee,ek moet nog n klein bietjie aanhang…beveel die nuwe ouer paar…….aanhang vir wat.? Wonder ek.My aanhangery hou toe aan vir 7 dae. By navraag per ipad message vra ek ewe goed opgevoed of ek maar my suster vd swangerskap kan vertel. So in n driehoek gesprek op my geduldige ipad.,…..tussen my, die kinders en my suster…..het slim sy baas gevang. Die kinders versoek ek moet NOG aan hang……ek praat met my suster.

Eks moeg aangehang…..en spoeg dit uit !!!Boodskap kom terug. Lekker uitgevang ma!!!!!!! Ek teks my suster…….van watter baba praat jy???????? Vra sy. Ek besef ek het moeilikheid. Ek bel my suster. Hou dit tog maar vir eers vir jouself. Ek was nie veronderstel om te praat nie… Die oupa en ouma storie….ekt perongeluk die boodskap wat vir jou bedoel was na hulle gestuur. N Ongemaklike stilte volg……n gegrinnik daarby……ek sou graag wou, se my suster……..maar jys op speaker foon. Ek sit die foon neer ……draai om………WYK SATAN, skree ek dat dit in die woud weergalm!!!!!!

Oupa …….nou verstaan ek ………!

Sonder 'n stingel

Ek is ‘n belofte aan ‘n sterwende man

Hoe kan ‘n “sonder die stingel gebore” met mansname geseën word?

Sonder-'n-stingel

Sonder-‘n-stingel

Op my tyd het ek self al ‘n vroumens Pieter, Peet, Jake’s en Ossewania ontmoet.  Sekerlik het die oorlogtyd en konsentrasiekampe die oumense na uiterste naamgee gedryf.  Destyds, in die maerjare van die neëntien-sestigs op Standerton, het ek ook my aardige naam gedêps.

Ontbyt is waar al die famlie aangesit het en skaapvet op varsbrood smeer. Biltongskyfies sny bo-oor mieliepap …My Moeder was hoog-swanger met my – toe haar houtbeen-rooikop Pa so al sukkel-sukel om die ontbyttafel stap. Suikersiekte en hartkwale loop harstallig dik in onse familie.  Uit die bloute merk hy teenoor my Moeder op, dat híerdie kind wat sy dra- sý name moet kry. “Ja-Paaaa, ek belowe” was my Moeder se ongeêrgde antwoord.

Daai tyd, op die plaas, het niemand ‘n kind naam gegee totdat die geboorte oorleef is nie. Eers ses maande later is daar geplan aan doop – wat móés saamval met nagmaal. Enkele dae later is die houtbeen Vader so stilletjies in sy slaap oorle. Tussen al die hartseer kom ek as troos- al skreeuend twee of drie aande later – nes my oorle Oupa – bos krul rooi hare. My Moeder voel toe só skuldig dat sy “’n belofte gemaak het aan ‘n sterwende man”. Die grond nog vars bo-op die houtbeen-Vader; is ek op ‘n brose vyf dae oud gedoop as Diederick Daniël Janse van Rensburg. Daar was geen nagmaal nie, net ék met my rooi-Oupa se name en Ma se trouvan. Almal noem my Daniël, op skool het ek gou geleer om my min te skeel aan dié wat wou spot. Dit was uniek, vreemd en ‘n geselssie met elke nuwe ontmoeting. “Hoeveel ander Daniëls kên jy “sonder ‘n stingel?” Só het ek nooit eers oorweeg om ooit my naam te verander nie. Daar was vele verwarring en giggels deur die jare met mense wat dit tog te aardig vind. Die bankmense en binnelandesake ouens krap vandag nog hulle kop daaroor.

Afrikaners vind humor in ráák beskrywings en deel byname uit wat kleef vir áltyd. Noem my Karel, word “Meraai se Matewis kat” en voordat jy jou oë uitvee noem almal op die dorp jou Karelkat en later Matkat. In Suidwes ruil die Wambo’s die r en die l om. Só lees daar op die Id document Lasalus en nie Lazarus nie In die Richtersveld en Suide van Namibië gee die Nama’s ook hul kinders soms snaakse name. Ons hoor van Badprop, Tjotterjot, Keesbene, Koekhaar, Doringdraad, Vierietjie, Koeka, Draadkar, Poena, Nonnies, ‘n paar Colgates, Omo ens.

Suidwes se Basters van Rehboth maak laslap name. Shandré, Chess-Lynn, Rhozelda, Quéritha, Haybre Shernice, Lucresia om net ‘n paar te noem. Die reël is as jy dit nie kan spel of eerste keer uitspreek nie, vra wáárvandaan.

Snaakse Vanne gee duidelik ook probleme. Al gehoor van Mnre Nis wat hulle Van wou verander? 
Be-ampte by Binnelandse sake vra hoekom? Lees gou bietjie hier sê Mr. Nis, en dan sê jy vir ons hoekom níé, antwoord die broers en hou koeverte geadresseer aan hulle uit. Mnr. A. Nis en Mnr. P. Nis. Nóg snaakser is die skeeloog onderwyser met die Van Wijdkijk. Op skool was ‘n paar Hol-langse (níé Hollandse) vanne woes snaaks soos ene Snotgras, Buffelbout, Trantaal (níé Tarrentaal) Keteldas, Papenfoes, Drollapper, Fokkens, Mr Moerse, Mr Klinker en Mev. Trill. Probeer Koekemoer en Bezuidenhout verduidelik aan Engelse mense. (Choc –hen –mur en Bes-wiet-hen-hut.)

Byname dra jy trots tot jou dood toe. Kyk jy krieket of rugby dan ken jy nie Bernardus Lambertus en Willem Jacobus maar wel Dagga en Spinnekop Hulle sou nie droom om op hulle geboortename genoem te word nie. Daar was Viervoet (Liebenberg), Bok (Markram), Haas (van Zyl), Hakkies (Husselman), Duimpie (The-ron), Scholla (Scholtz), Makwas (van der Walt), Chappy (van Vliet), Slang (Roux), Stompie (Fourie), Kraai (van Niekerk), Kriek (Erasmus), Wommers (Brown), Muis (Viviers), Biltong (Grobbelaar) en Vlakhaas (Ross).Ek self het al van Piet-Piston, Daantjie-Dik, Gerrie-Vlerrie, Jannie-Blomoor, Arlie-Alsverniet, Charmaine-Wyn, Gert-Jakkals, Piet-Paashaas en Molla-Muis gehoor. Aan Spiekeries, Mannetjies, Piston, Waslap, Vleis, en Bakkies gaan ek nie eens karring nie.  Dit kan net te lank aangaan.

Die atlas wys my plekke het ook giggels in. Dorpsname, of plaasname, hoe klink: Vlermuisvlakte, Sonstraal, Houmoed, Granaatboskolk, Spoegrivier, Platbakkies – die gevolg van ‘n kroeg-geveg? Waarvandaan is Grootmis (naby Kleinsee) en die mooiste ene tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein.