Tag Archives: Pa

Blinde liefde en trou-brille

Op skool in Pretoria het ‘n kranige rugbyspeler vanaf die Landbouskool annerkant Brits my knieë lam gehad.  Naweke en vakansie tye het hy in Pretoria by sy eie Pa kom kuier en dan kon jy die wit van my Ma se oë van vêr raakkyk.  Daardie Landbou-seun het na-skool by die polisiemag aangesluit, maar hy was geweeg en te liggevind.

Skooltyd was daar twee soorte jongmeisies; dié wat oortuig was hulle gaan trou op die Rif woon en twee kinders baar voordat hulle vyf-en-twintig is, en dié wat vêr van die ouerhuis wil gaan swot en reis tot tyd se stof hulle spore uitwis.  Op daardie stadium was ek nogals op die draad oor watter kant ek verkies.

My gryskoppie Pa het geweet sy meisiekind sal eendag op trou staan.  Lank voordat sy silwerdraad geknip is, het my Pa sy eie wysighede met my gedeel.  Noudat ek self groen koring op die land het, herroep ek weer sy slimmigheid.

  • Moenie die nar trou nie, trou die ou wat jou laat skaterlag.

Die kinkel lê daarin dat die nar sy snaaksighede  met die wêreld om hom wil deel, en dat , in tyd, al sy afgesaagde grappies jou sal verveel. Narre verdra nie dat iemand snaakser as hulle voorkom nie, sal jou giggel en lag aftrap en kritiseer.

Die skaterlag ou, sal ingestel wees om ten alle koste, jou klokkie helder lag te hoor.  Hy sal uit sy pad gaan om jou dag op te vrolik, soms ten spyte van homself ‘n aap van homself maak, alles vir die aanhoor van jou lag.  Kies die ou wat jou humorsin snap, wat jou snork-giggel se audio wil vasvang op sy telefoon en oor en oor speel en homself daarin verluister. Soek na die ou wat jou so hard laat lag dat jou sye wil bars, jy jouself wil nat piepie, en lag dat die trane loop.

  • Daar moet merke aan sy hande en kneukels wees.

Straaltjies oor fietskettings en speke wat merke aan sy hande gelaat het wys dat hy darem self iets iewers probeer regmaak het.  Dit sal handig te pas kom wanneer daar muurproppe en stofsuiersakke vervang moet word.  Skrape van skaatsplankry en biltongmessnymerke verraai ‘n buitelewe waar die lewens grense effe getoets is. Niks kan meer vreet aan die siel as ‘n bleeksiel wat net in Jan Tuisbly se karretjie wil ry nie.

Merke oor die kneukels wys daarop dat hy nie geskroom het om iewers sy man te staan nie.  Of hy nou bloedneus weggestap het of nie, is nie ter sprake nie.  Daar sal ‘n dag kom wanneer hy weer sy man moet staan, of dit is om jou eer te beskerm of wat ookal, eerder man as muis.

Growwe hande is nie vir almal nie, maar voordat jy hom trou, moet hy ten minste een groot hoop hout met ‘n byl opkap.  Hoe hy die eelte en blase aan sy hande verdra sal boekdele oor hom as mens verklap.  Is die blase so eina dat hy skielik nie eens ‘n eier kan oopbreek nie? Moet jy moet net troos en troetel en regstaan, Kattie los die slapgat!  As siekte of kwale oor sy lewenspad kom, gaan jy weer bontstaan. Of vat hy die eina soos ‘n regte man, kap aan soos elke dag sonder ‘n gekerm van beendere? As hy ‘n paar dae later eenvoudig die droeë velle sit en aftrek, of bekommerd is die growigheid krap jou sagte vel – is hy die trousoort.  Die lewe is rof, mense skuur aan mekaar van tyd tot tyd.

  • Is hy pou of padda?

Dis nie net in feëverhale dat vrouens paddas soen nie.  Paddas dink daars geen wese in hierdie wêreld wat kan kersvashou met sy prinses nie. Sy’s perfek in elke moontlike manier;  die moesie wat net-net vanuit die sonrokkie loer, die kreukel oor haar voorkop as sy bekommerd is, die sagtheid van haar dy en die knak van haar enkel, als perfek in plek, net soos dit hoort.

Poue is effe meer uitgeslape. Hul pronkvere is aanvanklik verblindend, pragmooi en jy kan jou geluk nie glo dat jy in dié man se visier beland het nie.  Poue het ‘n manier om jou te vertel hoe manlik, pragmooi, slim, wêreldwys en  ambisieus hulle is.  Hulle gee voor vir ‘n wyle jy is pragtig, maar heimlik is hy oortuig met tyd sal hy wel kan verbeter op elke aspek van jou fatsoen.  Eendag uit die bloute wys hy jou daarop dat hy swartknoppies oor jou neusbrug bespeur het, en dat ‘n gesigsbehandeling dit gou kan uitsorteer.  Tussen vriende by ‘n braaivleistafel staar hy openlik met openlike afsku na die tjoppie wat jy ingeskep het en vra sommer kliphard hoe lank jy dink jou boude in die nuwe jeans kan inpas as jy daai bord kos in het.  Poue is self nie altyd perfek nie, maar soos kraai se kind, versamel hy mooi blink goete wat die aandag van hom aflei. Mooi mouter, prag huis en blink toekoms sal als eendag alles aardse goete wees wat hy bô jou verkies.  Mettertyd sal jy net nog ‘n versamelstuk word, wat van tyd afgestof en in publiek vertoon en vertroetel word, maar tuis word jy afgeskeep en word jy heeltyd herinner dat jy jou plek moet ken.  Pasop, my kind – raak ontslae van ‘n pou en pluk sommer byvoorbaat al sy pronkvere uit.

 

Sien die liefde is mos blind, maar trou is die bril.

Ek het toe nie my polisieman getrou nie maar ‘n oulike Vrystaat-man met diep kyk en swaar sugte. Hy’s geen nar nie, en staan gereeld sy vuiste en bol wanneer hy homself inhou. Hy’s beslis my padda-prins!

Nou moet ek net hoop my dogter is ook so kieskeurig soos haar Ma…

 

 

Advertisements

Hulle eet muskiete…

In opdrag van Toeka-Tokkel no 9: Verbeelding

Naeldekokers kan dans op water met hulle blink vlerkies – hulle skep  water vir feetjies. My Pa sê hulle eet muskiete. Anders as bye, steek hulle jou nie. Jy moet net regtig stilsit, dan kom al hulle maats om jou dans. Hoe meer daar om jou dans – hoe gelukkiger is jy.

Melissa was Juffrou van Rooyen se pokkeldogter wat geklik het oor als by haar Juffrou-mammie. Niemand wou Klikkiebek Melissa se pousemaatjie wees nie. Pouses het ons haar vermei – oor die skoolheining agter die pawiljoen gespring waar die heining op sy laagste was. Dan het ons daar naby langs die spruit gaan stilsit, voete in die water en naeldekokers tel. Wanneer die pouseklok gelui het, het ons teruggespaander; uitgelate teruggebondel in die van Rooyen-klas.

 

Melissa se Ma, Juffrou van Rooyen het ‘n harige moesie op haar knobbel neus gehad; Lexinton sigarette gerook en haar krimpelien romp het om haar lyf gedraai as sy stap. Doei tyd het jy sommer baie lesse gehad by jou klasjuffrou. Haar stemtoon het gewissel tussen skril en die druis van ‘n muskiet.  Ek onthou niks wat sy my geleer het nie, net dat haar onderrok ‘n bruinvaal kantrandjie met motgate en toiings uitgehang het.

 

Daar was twee Graad-2 klasse, en in die aande het ek in my bed gelê en bid dat ons klasjuffrou moes vrek in haar slaap of verdrink in haar bad, sodat Juffou Moolman ons kon leer. Vanuit ons klas het ons die ander klas gereeld hoor lag, handeklap, giggel en sing. Anders as mooie Juffrou Moolman, was Juffrou van Rooyen sweterig – vandaar haar bynaam: Bloukaas. Wanneer jy langs Bloukaas se tafel gestaan het, het sy hard asemgehaal terwyl sy jou binnebeen blou-knyp. Melissa het my gespot, gesê ek’s ‘n pisgat omdat ek gesnik, maar nooit gehuil het nie. Dan moes ek pouses binnebly en die vloer uitvee terwyl Melissa rondsit en smalend vir my kyk. Vir die kleinste onbenulligheid was Bloukaas se gunsteling straf, om jou in die hoekie te laat kniel met jou knieë op ‘n netjiese ry potlote. Daar het jy gebly totdat jy gehuil het, en gesoebat of gesmeek het. Ek het niks van daai dinge gedoen nie – net gebly kniel. Soveel so dat daai potlote blou strepies oor my knieë getreep het. Ek kon nie stap sonder om te hop-hobbel nie. Dit was oestyd en my Pa was vroeg uit en terug na bedtyd. Dae lank was ek gevangene op die speelgrond wat nie vir Melissa kon weghardloop nie.

 

Naby die snoepwinkel was ronde baksteen mure om die watertenks gebou waardeur die wind getrek het. Met water wat iewers van bo af gedrup het – met wind wat deurgetrek het –was die water altyd heerlik koel. Noudat ek nie kon weghol van Melissa af nie, het ek agter die watertenks gaan wegkruip.

 

Dit het nie lank geneem vir die naeldekokers om my te vind nie. Ek het doodstil gesit – en hulle het vir my kom dans.

 

Maar die speelgrond was maar klein en Melissa het my ontdek. Daar het sy gestaan – nes haar Ma: wydsbeen met vuisbolletjies geplant in haar sye. Wange twee bar opgepomp, haar donker slang ogies op skrefies getrek, besig om haarself op te werk in ‘n kenz-streep.

 

Toe begin sy gil. Nie ‘n kwaai malkop gil nie, maar ‘n beserk gil. Oor en oor gegil, beangs geval op haar knieë en haarself sopnat gepiepie. Al daai bohaai  oor blink-vlerk; ‘n ‘helikopter’ – daar het ek besluit naeldekokers was my gelukbringers!

 

Bloukaas het my aan die arm gepluk en in die stoorkamer geslinger. Daar in die donker het sy my ‘n snotklap so hard gegee dat ek die naeldekokers hoor dans het om my kop. So kwaad was sy – sy het soos ‘n hittegolf gesweef. Buite die deur het sy iets gehis van my ouers wat sal moet kom verduidelik en dat die skoolhoof hulle sou skakel.

 

Niemand antwoord plaaslyne in die middel van die dag, in oestyd nie.

 

Lank na die ander skoolkinders huistoe is, het Juffrou Moolman die stoorkamer kom oopsluit. My voorarm het ‘n snaakse buiging gehad en my hand was agterstevoor om-gebuig. Bloukaas se handmerk het blousel oor my gesig gewys. Ek het nooit gehuil of gekerm of gesoebat nie. Juffrou Moolman het gesnik en gehuil die hele pad hospitaal toe.

 

My Pa het die volgende dag nie gaan oes nie, hy’s skool toe.  Ek was in gips met harsingskudde en ‘n gebarste oordrom.  My klasmaats het my vertel, hulle het Juffrou van Rooyen hoor soebat, snik en tjank. Hulle het ook vertel hulle het ‘n klap gehoor, soos muskiet doodklap.

 

En toe is sy weg.

 

Juffrou Moolman het al die graad twee’s oorgeneem. Parykeer het sy die hele klas na die spruit geneem en ons het daar gesit en lees, gedigte geleer en geleer van groot woorde soos ekosisteme. Ek het als geleer, als opgeslurp soos ‘n spons.  Almal het gegiggel, hande geklap en gesing.

 

By die spruit was meer naeldekokers as ooit te vore. Niemand was bang vir naeldekokers nie. Ek was nog nooit gelukkiger nie.

 

 

(PS: Hierdie skrywe is fiksie.  Dis als net ‘n verbeeldingsvlug – -in opdrag van Scrappy – (Toeka-Tokkel,;sien die skakel heelbo)

 

 

Pa en sy kinners

Wees stil en weet ek is met jou

Voor hy dood is het ek een ding geweet, sy kinders as sy alles.

Sy grootste trofee, sy hart se trots. Sy rots.

Sy eerste gedagte met sonopkoms en sy laaste gedagte op sy kussing.

Beide my broers is gesny op dieselfde skoenlees.

Lyk op ‘n druppel net soos hy.

Die oudste het dieselfde hare, spierwit en geil gegolf.

Hardegat, harstallig. Prakties.

Vroumense se broekrek skiet as hy hulle aandag gee.

Die jongste het sy besigheids vernuf.

Hy trek mense na hom – charismaties soos kers en mot.

Ek; ek het sy entreupeneurskap.

Sy sportlus. Sy stilligheid. Sy kunsstreep.

Hy het al drie kinners, stil – elke dag, iewers weet ek is hy met ons..

Photo for illustration only from dogster.com

Kleinmannetjie sindroom …

My Pa was loshande ‘n witwarm Omie op sy dag. As kind het ek die aller heiligste ontsag vir hom gehad. Hy het net één ernstige reël gehad: Jy vrek eerder maar lieg môg jy nooit vir my Pa nie. Hy sou my kon red vanuit die wreedste tronk as dit moes, maar boeta, jou gatvelle was veilig solank jy net nie lieg nie. Met sy eiesoortige wysheid, het hy geglo ons moes gou op ‘n vroeë ouderdom ons eie lewenslesse leer. Een van die belangrikste lewenslesse was om te weet wanneer om te vra vir hulp.

In my matriekjaar besluit my Pa ek is beslis oud genoeg om self skool toe te ry met so wipgat Volkswagen golfie.   Sonder lisensie sou hy my kom red as die polieste of spietkoppe taai raak. So is dit mos dat die cool-ene met vervoer almal oplaai vir die sokkiejol. Ons gunsteling dansplek was Tuks se bokjol sokkies. Die Kaap was Hollands, solank ons net voor Aspoestertjietyd tuis was. Een aand dans onsself nog so amper in beseringstyd in, toe gryp een slim-Piet my motorsleutels.

Die tyd staan nader aan twaalf en die slim-Piet staan en swaai sy sesvoet wynlyf sonder om die sleutel te oorhandig. Al die gesoebat en gepaai val op dowe ore. Einde ten laas gaan skakel ek my Pa van ‘n tiekieboks, en sê hy moet maar kom, want ek het nou als probeer. Wetende dat die slimme-Piet my Pa nie ken nie, waarsku ek slim-Piet so ewe dat my Pa in nét tien minute op die toneel sal wees. Slim-Piet se makkers staan bankvas agter hom en koggel ons dansmaaitjies se benoudgeit.

My Pa was nie ‘n groot man nie, inteendeel sy vyf-voet-vyf het niemand geintimideer nie, hy het ouer gelyk met ‘n bos sout-en-peper gryshare, taai bruingebrand van sonwerk op die plaas. Hy was altyd doodkalm en het rustig gepraat met so speelse glimlaggie om die mondhoeke. Nou-ja, toe my Pa uit sy mouter klim met sy pantoffels, toegeknoopte japon, pyp innie mondhoek; lê slim-Piet en sy makkers soos hulle hom uitlag.

Toe die gelag effe bedaar, gaat staan my Pa so viervoet voor slim-Piet. In sy beste “Trinity” verpersoonliking verduidelik my Pa dat hy net eenkeer mooi gaan vra vir die karsleutels. Weereens ‘n gejou en gekoggel vanuit die peanut-gallery. Ek staan piep-muis-grootte en asem-ophou agter my Pa se blad. Die volgende oomblik gebeur als so vining – dis oor voordat jy kan sê GATSLAG! Soos ‘n Mamba slaat my Pa vir slim-Piet in die krop van sy maag. Slim-Piet vou dubbel soos ‘n knipmes. My Pa gryp hom agter beide ore en breek Slim-Piet se neus met so knie-jerk-beweging.

Daar lê slim-Piet en skree soos ‘n vark wat geslag word. Sopnat in die natgras voor die manskoshuis. Sy makkers het almal ‘n paar meter terug gerittereer. Tussen bloed en snotborrels, oorhandig Pietie die sleutels met ‘n bewende hand aan my Pa. My Pa draai om, knipoog en sê doodluiters “sien jou by die huis, of bel net, dan kom ek, dag en nag” en stap rustig terug na sy mouter. Hy was my superheld en het my laat voel dat als in die lewe oorkombaar is.

Ek was ‘n brose negentienjarige snuiter toe sy liggie lank voor sy tyd gedoof is. Te veel vinnige mouters en nog vinniger vroue was sy einde. Hoe wens ek nie ek kon nog jare later van sy wysighede leer nie.

Eers jare later het ek beginner verstaan van kleinmannetjies se Napoleon sindroom. Miskien het my Pa op kindsbeen al slim-Piet-boelies uitgesorteer? Viva Napoleon! As jy jouself soos ‘n drol wil gedra, moet jy maar op die gras gaan lê.