Tag Archives: Pannekoek

Pannekoek vanaf Tsumeb…

 

 

Net hier neffens die Akwarium staan ‘n wit karavaantjie, Tsumeb-registrasie, soos ‘n tor wat bak in die sonnetjie. Warm pannekoek, kaneel en heuning hang dik in die seelug om ons. Dit ruik hemels, soos Kerkbasaar, maar strand langs.

Pannekoek uit Tsumem2

Hy is handig, vat hier los daar. Sy hanne ken die elke sentimeter van die binnekant van sy karavaan. Daar’s ‘n kalmte om die man – ‘n rustigheid in sy ritme.

“Tsjisk – tsjisk – tsjisk”, strooi hy kaneelsuiker, en vou dit toe in ‘n papierbordjie.

 

Ek vrek van nuuskierigheid, waar pas die Tsumebboer se wit karavaantjie hier langs die Akwarium op Swakop in?

 

“Veertig jaar lank het ek in Tsumeb doodgebrand” sê die man. Ek kyk waar hy bedrewe staan en twee pannekoekpanne flip.

 

Mens ken nie jou paadjie nie, maar hy’s vir jou uitgelê met ‘n lang slimplan.

 

Hy onthou nie wat het hom besiel nie? Hoe op dees aarde het hy daai hartseer karavaantjie onder ‘n doringboom raakgesien? Die dak het ingegee onder ‘n swaar afgebreekte tak; die reën en droogte het die karavaantjie se paneelwerk en verf verniel en afgetrek. Een duisend Namibiese dollar later, sleep hy die vaal dingetjie na sy werf toe. Hy droom van ‘n tydsame restorasie, miskien kan hy en Mammie eendag met die ding gaan uitkamp langs die koele water van die Okavango; en net miskien kan hulle Tsumeb se son ontvlug.

 

Oubaas daarbo het ‘n ander plan.

 

As die dood gulsig kom wegraap, klop armoede aan die weduwee se deur. Oornag sit sy vriend se weduwee sonder inkomste, en daar’s honger kinners wat nog moet skool. Die gedagte word soos saadpit hier in hom geplant. Die kalf is in die put; wit karavaantjie moet die weduwee se lewensbehoud word.

Laat nag plan hy, lig-dag meet hy. Restourasie loop volspoed. Dertig meter se aluminium plaat word by die sjinese wat sinkplaat buig, oorgekoop en ‘n nuwe boogvorm dak laat die karavaantjie se toekoms hoop gee. ‘n Kosstalletjie word beplan – Mammie help met die kombuis-ding se plan. Gasoond, yskas, ysie-masjien, warm pan vir hamburgers, paneelkassie vir voorraad en servette word ingebou.

 

Mens voel iemand slaat jou wind uit – Tsumeb se stadsraad weier sowaar ‘n smousliksensie! Tsumeb se stadsraad se fynskrif verklaar niemand mag blykbaar smous vanuit ‘n ding op wiele nie. Nou hoe nou gemaak? Weduwee word nou genoop on soos ‘n wafferse skelm haar brood te verdien. Die wit koswaentjie word van bakboord na stuurboord gesleep al oor Tsumeb. Maar die stadsraad en polisie verjaag haar telkens en dreig met ernstige boetes.

 

Sien jy, Oubaas daarbo, se hand?   Daai Kosstalletjie was toe ook nie vir die weduwee geplan nie. Noodweer druk, so vind weduwee haarself met een fantastiese badkamer opknapper’s oog. Soveel so; dat Tsumeb se mense haar kospotte volhou met aanvraag vir mooi badkamers, en sy die kinders geskool kry.

 

Tsumeb se boer, het ses maande gelede die wit karavaantjie na Swakop se koeler seelug getrek.

Swakop se koelseelug

Langs die see waar jy die golwe hoor breek, waar die seemeeue hang in die wind en hulle skree soos musiek klink. Swakop se munisipaliteit het niks drama met smousliksensie vir ‘n koswaentjie op wiele nie. Hulle verstaan van toeriste wat lus vir roomys en pannekoek, en voorsien selfs kragpunte waar jy jou yskasgoete kan inprop.

 

Besigheid loop mooi. Dis toeriste seisoen en mens moet skep. Tuis is ‘n hoenderbraaier wat veertig heel hoenders goudbruin toor, en Mammie bring vooraf gebraaide hoenders en ‘n grootemmer met nuwe pannekoekdeegmengsel.

 

Elke dan en wan kry die Tsumebboer ‘n asemskep kansie, dan sit hy in die koelte van die seildakkie in sy seilstoel. Bene uitgeskop, gesig in die seewind, en luister hy die seemeeue se skree.

 

Wie sou ooit die Grootbaas se lang plan kon raak raai? Na veertig jaar beland ‘n verbrande Tsumeb-boer, in die land van Kanaän. Hier in Swakopmund se seelugweer, voer hy ons met melk en heuning; pannekoek uit Tsumeb se vaal karavaantjie.

Tsumeb se pannekoek

Advertisements
Water orals

Tien-jaar se reën

Vir dae reeds reën dit onophoudellik- gemiddeld vyf ure se reën per dag. Die groot tien-jaar-se-reën is hier.

Elke tien-jaar reën dit hier in Akkra, soveel so; dat mense vir ‘n dekade later vir hulle kinders daarvan vertel. In die loop van ‘n paar dae is die totale reënval meer as twee jaar se gesamentlike reënval. Dis tien-jaar later en weer sulke tyd. Laas toe dit so was, het my nat wasgoed gemuf. My kinnertjies was soos groot honne in ‘n krat; opgeskeep met hulleself en wou net heeltyd uit!

Water wat vloed

Water wat vloed

Wanneer dit so woes reën, kan jy nie anders as om aan die Ark en Noag te dink nie. Wanneer jy sien hoe minibusse en vier-by-vier voertuie soos kurkproppies in waterslote afdryf, besef jy hoe sterk is water.

Mouters lê in slote

Mouters lê in slote

Noag moes sy storie geken het. Dae lank, aaneen, stort reën dit vanuit die hemel. Swaar wolke hang net bô die huisdak, verskemerde daglig en en emmersvol water orals. Die grondwatervlak is versadig. Water stroom bo-oor die stoepie tot teenaan die glasdeure, die voordeur se matjie dryf soos water by die voordeur instoot. My kat Misca lê op die hoogste stoelleuning en loer na buite. Waar gaan die voëls om droog te bly? Almal het tog nie waterdigte neste nie. Hoe maak die derduisende vrugtevlêrmuise as hulle nie elke aand kan wegvlie om vrugte boorde te gaan plunder nie?

Vlermuis se kind innie reën

Vlermuis se kind innie reën

Vrek hulle maar van honger of versuip hulle so onderstebo waar hulle in bome hang?

Die elende is orals op die nuus. Mense soek skuiling onder ‘n vulstasie se afdak en honderd plus siele ontkom in ‘n ernstige ontploffing.

Vulstasie se ontploffing

Vulstasie se ontploffing

Ons nuuslesers rapporteer van drenkelinge en eiendomskade.

Voertuie wat skuiling gaan soek het onder dak van 'n vulstasie

Voertuie wat skuiling gaan soek het onder dak van ‘n vulstasie

Die hele stad is sonder krag en diesel vir opwekkers is skaars soos hoendertanne. Akkra is gebou met Franse oop rioolslote wat met goeie reënval veronderstel is om oop te spoel. Die ligging van Akkra; plat langs die see – beplan vir vierhonderd-duisend-inwoners maar met meer as vier miljoen bewoners; se sommetjies werk nie. Iedere inwoner dra by tot die plastiek besoedeling probleem.

Gister het ek pannekoek gebak, maar dis nie dieselfde nie want die temperatuur kwik haak op twee-en-dertig vas. Reën of te nôt! Met een-honderd present humiditeit is dit beknop en plak-warm. Reënkyk is net soos vuur-kyk in die aand. Ons het diep-sit kampstoele staan gemaak op die stoep, en reën gekyk met rooiwyn innie hand. Te mooi. Vannaand maak ek vetkoek en kerrievulsel; en beplan reën-kyk.

In Namibië loop ek gereeld uit in die reën, staan sopnat, arms uitgestrek, gesig na bô, tong uit, en proe. Daarso proe vars reënwater na stof, soetwater met ‘n sout na-smaak.

Reën proe

Reën proe

Hier is dit heel anders, die reën is bedompig, ruik na brandskaap en proe soos droog bokkems en biltong sonder sout en lawwe asyn. In Namibië wag jy die reën in, vir dae lank bondel en pak die wolke saam – hier in Akkra is die geboue op ‘n knop ingeryg, jy hoor die reën lank voorday jy dit sien of ruik.

Die meeste skole is toe vandag. Mense sukkel om betyds by die werk te wees, daar’s orals waterstrome, padskade en bome oor die pad. Ek hoor kindertjies se uitgelate gille en gaan kyk wat aangaan. Hulle is kaalvoet, deurnat, malkop besig om rond te hol en speel in die straat voor ons huis – hulle voel sekerlik soos honne vasgevang in ‘n krat.

Deurnat kinners in die reën

Deurnat kinners in die reën

Die voëls gaan te kere asof hulle weet waar Noag se ark geparkeer is. Daar is ‘n vendusie van kraaie langs die watervoor – ‘n bok dryf in die watersloot, dik pens en pote in die lug. Dit reën nog – net sag, maar daai bok dryf fluks see se kant toe.