Tag Archives: Plaas

‘n Nama se plan…

 

Na ‘n kort vakansie in Namibië, vertel ek graag van die Namib se kleurvolle mense.  Swart-Piet is ‘n legendariese melkboer in die Aries distrik wat sy kannemelk verkoop op die hoofpad tussen Rehoboth an Windhoek.

 

***

Gertruida is ‘n spierwit ganswyfie met die mooiste blou oë en ‘n raasbek wat my wakker gil sonder dat die hoenderhaan sy beurt kry. Net na ses-uur se wintersoggend kom als in rep en roer op onse Klipwerf. ‘n Tydskakelaar druk die sproeiers oor die grasperk in gelid soos soldaatjies en die nat grondreuk laat jou na reën verlang.

 

Ouma bêre ‘n reënboekie in haar kamer. Jaar-vir-jaar word reënmeterlesings in Ouma se reënboekie met potlood neergepen; datum en millimeter. Jare lank bly Ouma geheimsinnig oor haar reënboekie. As kind het ek dit net een keer onder oë gehad, en daar was baie meer syfers en aantekeninge as net reënmeterlesings daarin. Goete soos geboortedatums, troudatums en volle doopname van vêrlange familielede staan ook daarin opgeteken.

 

Matteas is net na ligdag aan die gang. Melkkanne word uitgewas, bindrieme styfgetrek, koeie uitgemelk en skaap word uit die kraal gejaa. Hoenders word gevoer en eiers word uitgehaal en mis uitgevee. Mens hoor die melkemmer se klingel en Matteas se gefluit; die-en-daai-kant van die werf.

 

Hier is ‘n hele bondel opgewonde honne wat nie kan wag totdat die orige leksektjie warm melk vir hulle uitgegooi word nie. Dan word daar ‘n draai gestap, langs die lyndraad af, dam se kant toe. Hierdie gestappery is beslis die hoogtepunt van die honne se oggend. Die okkasie word met ‘n malkop geblaffery aangekondig en hulle trek weg met bokspringe en hol stofstrepe tot anderkant die klipmuur waar hulle my nie meer in sig het nie. Dan kom een vir een en hardloop so sirkel om my te kom haal.

 

Net anderkant die draai kom Swart-Piet met sy donkies en donkiekar my tegemoed gestap. Hy ry self nie bo-op nie want die hele donkiekar staan vol melkkanne. Swart-Piet maak sy bestaan deur varsmelk te smous onder ‘n koelteboom langs die hoofpad. Vanoggend is daar beslis iewers ‘n slang in die gras. Hy groet skaars voordat hy lostrek en met ‘n kiesvol pruimtwak verduidelik hoe die ‘government’ ‘n hardwerkende mens se lewe opvark.

 

Screenshot 2016-07-09 15.51.52Swart-Piet moet deesdae onderdeur ‘n nuwe laagwaterbrug sukkel om sy donkies en donkiekar se melkvrag met die kortste pad by die hoofpad te kry. Voorheen het die grondpad en vlei daardie area modderig en besaai met klip so-te-sê onbegaanbaar gelaat. Selfs vier-by-vier bakkies het al in daai klip en modder driffie vasgeval. Sommige dae het Swart-Piet en sy donkies so gesukkel om deur die drif te kom, dat die melk staat en suur word het op daai donkiekar, lank voordat hy by die grootpad uitkom. So maand gelede het die paaie departement ‘n nuwe laagwater-onder-brug opgerig en die grondpad bo-oor gestoot.

 

Beswaard vertel Swart-Piet dat die nuwe brug net ‘n dure beslommernis vir hom in die lewe veroorsaak het. Oor daai nuwe sement brug het die polieste hom kom arresteer en die magistraat het hom ‘n wrede boete opgelê vir die kamtige beskadiging van staatseiendom.

 

Swart-Piet vertel: “Eerste keer toe die donkies onderdeur die brug moes deurstap kielie die brug se dak so vat-vat aan die Matilda-en-Roeskol-die donkiepaar se ore. Slaat en stoot soos ek wil maar daai ore bly te lank en my donkies wil nie kop laat sak of deurstap nie. Toe maak ek ‘n Nama-plan en kap die nat sement weg met die donkiekar se wiel-spanner. Sien; kap bietjie van die brug weg om virri donkie se ore plek te maak. Terwyl ek nog so kap kom die veediefstal se polieste daar verbygery en gooi my agter-in hulle vêntjie. Reguit dorp toe met my, nog voor tien-uur staat ek voor daai dik magistraat.

Ek verduidelik en verduidelik van die brug wat te laag is want die donkies se ore kielie en dan wil hulle nie deurstap nie. Maar nee, daai kêns-magistraat-vroumens sê “ek moes die riviersand onder die brug uitgeskep het.” “Toe kap sy haar stomp houthamer en beboet my met twee-duisend Nam-dollar.”

Hoogs beswaard spoeg Swart-Piet ‘n natkol pruimtwak vlak voor hom in die stofpad.

“My Nooi, wat weet daai platkop-magistraat? …Sand onder die brug uitgrou, verbeel jou dit!  Dink hulle ek is simpel?  Selfs ‘n kind kan mos sien dissi my donkies se bene wat te lank is nie – dis hulle ore!”

 

 

Oefening

In opdrag van Toeka-Tokkel nr. 10 :Oefening

 

My oudste boet was altyd geheimsinnig, hy kon homself vermaak en in die proses homself gate uit geniet.  Iewers op die plaaswerf het hy ‘n reuse rondeneus enjinkap opgespoor;  dit met die vaal donkie na die plaasdam gesleep.  In die middae na skool het hy weggesluip en alleen in die enjinkap op die dam rondgeroei.  Natuurlik het ek uitgevind en op die wal gestaan en kerm:” ek wil saam…!” So in die roei het meer en meer water in die enjinkap ingespoel.  In die middel van daai plaasdam het die blerrie ding onder ons gesink en ek het so-te-sê verdrink.  My Pa het ons gatvelle afgetrek.

Na die plaasdam versuipery, was moes ek heeldag aanhoor “Nee, jy kan nie saamspeel nie want jy’s ‘n meisiekind.”  Voordat ek enige in enige gespelery kon deelneem moes ek eers ‘n ‘toets’ slaag wat my ‘waardig’ genoeg sou maak om met die seuns te speel.

Hierdie ‘toetse’ het my meer oor myself en my perke geleer as wat Ouboet ooit kon raai.

Soms moes ek Wilbert-die-beneukte-stoet-bul, bekruip en ‘n klap op die gat gee voor ek laat spaander het en oor die klip kraalmuur moes spring.  ‘n Ander toets het behels ek moes die wit bokram se knatersak ‘n tik met die plathand gee en weghol sonder dat hy my van my voete af kon afstamp.  Sondag middae het ons gewag tot die oumense slaap, dan het ons beeskraal toe gesleep.  Dit was groot sports om ‘n groot kalf aan die stert te gryp en op jou hakke deur die die beesmis strepe in die kraal te ‘ski’.  Daar was ‘n befoeterde mannetjiegans van my ouma genaamd Hansel.  Ons kon net Ouma se aarbeie ge-oes kry as ek net-net vinniger as Hansel kon hardloop voordat hy my ‘n bloukol in die been kon knyp.  Magriet die vaal donkie was hondmak as jy haar eers gevang het.  As ek vandag terugdink dink ek sy het die gevangery vreeslik meergeniet, as ek.

Ouboet se toetse het ek nie altyd met die eerste probeerslag geslaag nie, maar daar was net niemand anders om mee te speel nie.  Die geheim was om te bly oefen…totdat ek dit kon regkry…