Tag Archives: Pretoria

Opgeneuk en aan die sing

 

 

Dis 1976, ek’s ‘n haasbek sewe-jarige met bokstertjies en woon ons in ‘n grasdakhuis in Lyttleton, in die Jakarandastad, met ‘n pruimboom wat groei in die tuin. Saans kook my Ma twee emmers water vir ‘n bad vol water. Dan jaag sy onse drie deur die bad voor die water koud word. Ek skool by Juffrou De Wet in Fleur Laerskool – sy’s kwaai en nie so mooi soos my Ma nie. Als is eenvoudig, oom Niel het oor die Maan geloop en die lewe is ‘n lied. My Ma slaat my gat aan die brand want my perske-bloeiselkroon verstop die badwater se uitloop.

 

My Pa is ‘n superheld want hy het ‘n televisie in die sitkamer kom neersit. Ons stoei onder mekaar vir die beste plek op die mat. Lank voor ses-uur sit ons blinkgeskrop in pajamas soos drie groen ertjies ingeryg op die mat en asem ophou sodat die programme kan begin. Die lewe is fantasties; Elvis ruk-en-rol en almal leer ‘n paar woorde Engels en om te ‘jive’. Juffrou De Wet stuur ‘n briefie huistoe; ons het die piepklein groen pruimpies skool toe gebring om arlies mee te speel. Al drie van ons se gatte brand voor ons bed toe is.

Saans kry ek nagmerries oor benoudgeid van die Voetskroeiers wat ons op TV gesien het. Hulle is gevaarlike rowers wat jou in die nag besteel en dan jou voetsole voor die kaggel tot blase verskroei sodat jy hulle nie kan agterna sit nie. Deur die dag hol ons deur die tuin met pruimboomtakke aan die arms vasgemaak soos Knerses-die-vlermuis se vlerke. Die lewe se deuntjie karring aan. Juffrou De Wet sê ek slaap in die klas en ons moet nou voor die nuus in die bed wees. My Pa nêuk ons gatte oor die takke wat rondlê in die voortuin.

 

Die polisie het my langs die pad opgelaai en weer by die huis kom aflaai. Met my nagklere en inkleurkryte in my kussingsloop toegeknoop het ek weggeloop om Liewe Heksie en Blommie te gaan soek en haar te besperm teen Geel Gifappeltjies. Juffrou De Wet sê ek leef in ‘n droom wêreld en ken Elvis se liedjies beter as my tafels. As niemand my sien nie sing ek al sy liedjies kliphard onder die holte van die pruimboom se takke wat laag oorhang. Die bye takel my onder die pruimboom en ek vir twee dae nie hoef skool toe te gaan nie.

 

Juffrou De Wet het in die vakansie Kaap toe getrek. Ek huil elke aand om by haar te gaan kuier. My Pa sê dis te ver en sy is weg in ‘n vliegtuig en die kaartjie is duur. Ek spaar al my tannemuisgeld want eendag gaan ek vir haar kuier. Iemand het die lied afgeskakel. My Pa kom huistoe met ‘n kitaar en speel die liedjies van “Four Jacks and a Jill”. Ons oes al die pruime wat oor is op die pruimboom en lê op ‘n kombers en kyk op na die sterre. Eendag wil ek ook op die Maan gaan rondstap, ek dink dis waar die tannemuis woon.

 

Party mense is maar net gebore met ‘n jeukerigheid onder die voetsole. Ek het wel in die Kaap uitgekom want my ouers het na baie rondswerf in die Wes-Kaap gaan vestig. Elvis se legende leef aan, maar my Pa se vlam is lankal uit. Wanneer laas het ek ‘n pruimboom in ‘n tuin gesien? My eie kinners het nog nooit eens één pruim vanuit ‘n boom kon pluk en opeët nie. Jare lank swerf ons gesin heen en weer oor Afrika se bodem. Die lewe speel ‘n heel ander lied. Deesdae sluit hulle jou toe as jy jou kinners neuk oor stoutigheid. Maar as jy dit nié doen nie, jaag hulle so aan dat die polieste, húlle eendag toesluit. So dan eerder ek; ek streep my kroos sodra hulle karring vir ‘n drag slae.

 

Vanmiddag kom my seun huistoe met ‘n kitaar “soos Elvis sin” wat hy so oor die heup swaai.

Hy, speel sy eie lied.

Advertisements

Tuisdorp- noú of voorheen of eendag?

In opdrag van Toeka-tokkel no 6: tuisdorp

 

Wanneer mense my vra waar’s kom ek vandaan, vra ek eerder “noú of voorheen of eendag?”

 

My Ma sê ek’s op Evander in die hospitaal gebore, toe hulle nog op Standerton op ‘n familieplaas, Beginsel gewoon het.  Dept. van Binnelandse sake het my onlangs ‘n volledige geboortesertifikaat gegee wat beweer ek is in Germiston gebore. Ek reken my Ma was daar in persoon en die klerk van Binnelandsesake nie, so ek vertrou my Ma se weergawe.

 

Ek onthou as kleuter het ons in Empangeni gewoon, en daarnaas iewers in Zululand naby ‘n spoorweghuisie met ‘n lang plaaspad skooltoe.

 

In standerd twee was ek in Kameeldrift op skool in Pretoria. Dit was reeds my derde skool waarin ek soos ‘n spook gekom en gegaan het. Ons het in die middel van die termyn – in die middel van die jaar vanaf ‘n plaasskool op Bultfontein naby Molotto na die stad getrek.

In hierdie Pretoriaskool moes jy skooluniform en skoene dra – elke dag. My Ma het sopas vir my die oulikste skool sakkie gemaak van ‘n ou denimbroek wat jy oor jou stoel se ruglening trek en al jou skoolboeke en kryte in die sakke pak. My stoelsakkie was uniek, my Ma my heldin want sy het in Chekkers splinternuwe kryte en potlode gekoop vir die sakkie. Mev Moolman die skool juffrou was kwaai en sy het nie geduld dat enige kind van ‘n ander leen nie. Nou was dit vakansie en ek moes ‘n hele drie weke droom oor hoe ek teken en inkleur met daardie nuwe kryte.

 

Daai jare was my Pa ‘n moterverkoopsman by Toyota, Pretoria. Ek was ontroosbaar toe ons plotselings oppak en binne die bestek van ‘n paar dae sak en pak land in Warmbad. Vir weke wou ek weet, ‘wie gebruik nou my nuwe potlote en kryte?’ My Pa was nog steeds Pretoria se beste mouterkar verkoopsman. Hy ons net oor naweke kom besoek – elke keer ‘n blinker en groter of platter mouterkar as voorheen. Aanvanklik het ons op die dorp gewoon langs my Ouma Henna. My Ma het by die dorp se Biblioteek gewerk en ek kon elke middag na hartelus wegraak in die storieboeke – platpêns op die mat van die Biblioteek. Met my Pa se alewige hunker vir plaaslewe en perde en ‘n geplantery, trek ons na ‘n plaashuisie digby ‘n Bloekombos vol bye. (Sien my vorige skrywe oor die bye in daardie Bloekombos) My wilde streke het net beginne mak raak toe trek ons terug na Pretoria – hierdie keer Capitalpark se, van Heerdenstraat. Weer in ‘n nuwe skool Genl. Jacques Pienaar, en ‘n  leefhuis net straat af van die skool.Screenshot 2016-03-08 15.43.47.png

 

Daarnaas is ek Hoërskool Langenhoven toe, oorkant Pretoria se Dieretuin, maar binne ‘n jaar het hulle my geskors vir my harstalligheid en streke. Screenshot 2016-03-08 15.49.43.pngAtletiekrekords en hokkiespelery het my in Hoërskool Waterkloof ingewikkel, en vir die volgende vier jaar was Pretoria my tuisdorp. My Pa; die alewige boer en spoelgoud-delwer, se plaas op Witrivier en Tsaneen was my naweek en vakansiedorp.

 

Na skool het ek op NKP in Pretoria aangebly om onderwys te swot, voordat ek in ’98 saammet my ougat Vrystaatman na donker Afrika verhuis het.

 

Alhoewel ek in baie dorpe reeds gewoon het, reken ek dat Pretoria se Jakarandas, bont herfsblare en donderstorms my tuisdorp is.

 

Die stad waar ek naas Pretoria die langste gewoon het was in Lagos – Nigerië, maar in September hierdie jaar, sal ek ‘n inwoner van Akkra-Ghana, wees wat weer vir Lagos uitstof. Akkra sal nooit my tuisdorp word nie.

 

Intussen het ons grond gekoop in Windhoek en dis waar ek myself sien stoepsit eendag. Dis my eendag vorentoe se tuisdorp.

 

Typing Love Letters

Negentien en twee

Trou is nie perdekoop nie, maar as jy Ghanees is, betaal jy vir die perdekar ook. ‘n Vrou kan sewe-en-dertig wees, met ‘n kroos van vier, voordat sy haarself einde te laas voor die kansel bevind. Huweliksmaats word soms deur families gekies, as jy gelukkig is, word jy darem geken in die saak. Hier in Ghana trou jy jouself morsdood. Eers voor die magistraat, sodat die staat jou huwelik herken en jy minder belasting kan betaal. Volgende trou jy tradisioneel in jou stat sodat jou Hoofman en stam jou huwelik herken, en jy jouself van ‘n begrafnis lêplekkie kan verseker. Daarnaas volg ‘n properste Kerktroue sodat jou kinders eendag gedoop kan word. Die Europeërs se inmeng is orals te siene want Ghanese se ryk kultuur is bespikkel met Westerse tradisies. Wit hoepelrokke, ‘n string bont blommemeisies en rêgte trouringe is nou allerdaags. Dis net meer kleurvol. Baie meer kleurvol. Afrika bang mos nie kleur nie.

Maar ja, verskillende tiertjies dra verskillende strepies. In die vroeë negentigs het ek my liefdesbriewe met ‘n elektroniese tikmasjien getik. Netjies en noukeurig het ek my jongmenslewe in Pretoria vasgevang tussen twee of drie velletjies lugpospapier. So, kon ek meer lawwighede op papier inpas, en die hele vlerk-slepery bedryf was tog al te statig, uitgemeet in ‘n kadens van briewe pos-en-ontvang. Nadat ek die briewe gepos het, was die afleweringtyd tussen nege dae en twee weke. Daarop het die lang wag gevolg- vir ‘n brief in ontvangs. Daar was genoeg tyd vir besinning, diep denke en inkyk om my eie hart se geheime uit te rafel. Afstand maak die hartklop sterker; ‘n gedruis in jou ore wat ander mense om jou, se stemme uitdoof. Doer bô in Ethiopië was my Vrystaatboerseun; loshande die mees misterieuse ou wat ek in my hele lewe teëgekom het.

Daar was geen ander jongmens wat so makskaap in ‘donker’ diep Afrika gewerk het nie. Hy het oor-en-weer tussen lande, lughawens en kontinente gereis soos studente beweeg tussen lesingsale. Sy skootrekenaar het hy opgekoppel met primitiewe krokodil-knypers aan hotel telefoonkabels om toegang te verkry na sy firma in RSA se databasis. Daai Vrystaatboerseun was die eerste ou van my ouderdom; wat verder as ‘die grens’ gereis het, en teruggekom het. Kiekies van vier-en-twintig op filmrolletjies is ontwikkel: vreemde kiekies van palmbome, kokosvrugte, Massai jagters, pienk flaminke, watervalle en Killimanjaro se yskappie. ‘n Polaroid van ’n eerste draagbare selfoon, teen die oor – so groot soos ‘n kleibaksteen, waar Vrystaatseun onder die N’kruma sirkelboog staan; was uitgestal op my spieëlkas.

Die weke en maande was intens. Die afstand in ‘donker’ Afrika was langer en verder as mens dit net in jou verbeelding meet. Menigtemale het my vriende my kop probeer lees. Party het selfs gemeen die Vrystaatboerseun was denkbeeldig, so skaars en min was sy Pretoria besoeke. Laataand was die Sunnyside woonstelklanke oorweldigend stil. By tye was ek onredelik en pateties. Seker maar die hormone. Daardie vrolike hand-aan-hand verliefdes op straat het ek kliphard en jaloers weg gewens. Romantiese eetplekke, koeksisters, trane-trek flieks en enkel ouens het ek daadwerklik vermy. Ywerig, het ek harder en langer gewerk as al my kollegas. Enige iets net om die tyd te verwyl.

O-wee; die verskriklike opgewondengeit die Vrystaatboerseun kom kuier. ‘n Meisiemens lê ‘topless’ en ‘tan’ vir dae lank op die balkon en laat-loop haar verbeelding oop-ketel. Die dag voor die afspraak word die uitrusting met Delliah-presisie beplan. En daar word ge-‘prim’. ‘Prim’ het te doene met naellak, tweesers, skuimbaddens, parfuum, haarprodukte soos Timotei, vlos, skeermes, krullers en die fynste kant goete in haar besit.

Ek het my negentien liefdes briewe en die twee poskaarte, oor en oor gelees. Dit het my en die Vrystaatboerseun, voor die kansel gekry.

Negentien jaar later woon ons saam in Ghana, onse twee kinders het gevolg op die kansel episode, en ons neem nog steeds vreemde kiekies.