Tag Archives: See

Bont lap en baie talent

My vriendin Emsie nooi my op die ingewing saam na Swakopmund se COSDEF sentrum. Wanneer mens Swakop inry vanaf ons binneland se kant, dan kan jy dié plek nie misry nie. Een enorme bont stapel van geboue toring trots asof dit stof van die woestyn afgeskud het en gemaak staan is.

Screen Shot 2018-04-18 at 14.22.15

 

Emsie is reeds ‘n Engel hier op aarde, as sy asem uitblaas word sy net vlerke ge-issue dan is sy oppad! So gaan Emsie en reuse boks ou patrone en borduur goete afgee en ek is net daar want ek ly aan FOMO. (Fear of missing out)

IMG_4869

Vanaf Links: Tilla, Ayumi, Emsie en Naoko besig om die geskenkte goedere te bekyk.

By die kantoor, is die ene miernes van bedrywighede, Michelle //Inixas (Groot Indoena koördineerder) stel ons voor aan Ayumi en Naoko, twee regte egte fyntjies ingevoerde Japanese vrywilligers wat hier kom klasgee. Die Japanese regering belê só op ‘n ander manier in Namibië.

IMG_4863

Vanaf Links: Emsie, Ayumi en Naoko

In ‘n goeie Engels verklaar Ayumi en Naoko beide is reeds gek oor Swakopmund se woestynsand en see. Hulle vertel hulle word nog oorweldig met die weer wat sommer vier seisoene in een dag uitrol.  Die klas is stemmig en spiekeries netjies.  Toevallig sien ek die klasreëls op die muur raak.

Klasreels

Klasreëls – nou verstaan ek als, sonder reëls sou dit chaos wees.

Nou dié wat my ken weet mos in Akkra – Ghana was daar ook die een en ander naaldwerk projek wat mense van die straat af hou – en wys hoe jy inkomste kan genereer. Hierdie projek is in ‘n ander klas. Na een jaar kan jy aankap, maar na twee jaar se kursus is jy ten volle gekwalifiseer as ontwerper wat jou eie patrone kan ontwerp, knip en stik.

 

Wat wou; moet nie dink Tilla Smit gooi die studente net vir die wolve nie, daar word ook formele besigheidsvaardighede en wiskunde lesse tussendeur die ontwerp en patroonknip klasse aangebied. Tilla is ook ‘n leerkrag by dié Modeontwerpskool, sy sê sy neem ‘n student van zero tot gekwalifiseerd.  Sy lê groot klem op die kwaliteit van voltooide projekte.

 

Tilla is nie ‘n groenblaar as dit kom by gemeenskap projekte nie. As aktiewe lid van Bröt für di Welt, en jare se mense kennis agter die blad, offer sy soveel meer as net boekekennis.

 

Ons het ons verlustig in die vrolike Afrika-kleure, waarmee die studente woeker om hulle huidige projek te voltooi. Hulle ywerigheid spreek boekdele, trots wys elkeen waarmee hulle doenig is, Tilla sê dis tyd om ‘n breuk te neem maar niemand roer of staan op nie. Kap net aan … “nie jou tipiese student nie”, dink ek verbaas by myself.

Die studente kom van oor die hele Namibië; plekkies soos Khorigas, Omaruru, Omathia, Mondesa, Odangwa, Opuvu.  Elkeen met ‘n blink idee om eendag sy eie besigheid te bedryf.

Nadat ons wegstap van die modeontwerpers loer ons in by die ander klasse.  My mond hang oop soos ‘n waenhuisdeur; Visuele Kunste, Juweliersmakers en Leerkuns word ook aangebied.  Hierdie studente se handewerk word verkoop teen billike pryse, en afgestudeerde studente kan ‘n ‘Pod’ huur vir net N$200 p/m en heeltyds werk en smous.

Screen Shot 2018-04-18 at 14.38.05

Hierdie is die ‘Pods’ waarvan ‘n afgestudeerde student kan werk en smous.

 

Vir diewat reken woestynland is droog en dor – hulle is verkeerd! Jy moet net rondkyk. So in die wegstap dink ek bymyself: “Orals om my lê talent gesaai – soos klip in die woestyn.

Water orals

Tien-jaar se reën

Vir dae reeds reën dit onophoudellik- gemiddeld vyf ure se reën per dag. Die groot tien-jaar-se-reën is hier.

Elke tien-jaar reën dit hier in Akkra, soveel so; dat mense vir ‘n dekade later vir hulle kinders daarvan vertel. In die loop van ‘n paar dae is die totale reënval meer as twee jaar se gesamentlike reënval. Dis tien-jaar later en weer sulke tyd. Laas toe dit so was, het my nat wasgoed gemuf. My kinnertjies was soos groot honne in ‘n krat; opgeskeep met hulleself en wou net heeltyd uit!

Water wat vloed

Water wat vloed

Wanneer dit so woes reën, kan jy nie anders as om aan die Ark en Noag te dink nie. Wanneer jy sien hoe minibusse en vier-by-vier voertuie soos kurkproppies in waterslote afdryf, besef jy hoe sterk is water.

Mouters lê in slote

Mouters lê in slote

Noag moes sy storie geken het. Dae lank, aaneen, stort reën dit vanuit die hemel. Swaar wolke hang net bô die huisdak, verskemerde daglig en en emmersvol water orals. Die grondwatervlak is versadig. Water stroom bo-oor die stoepie tot teenaan die glasdeure, die voordeur se matjie dryf soos water by die voordeur instoot. My kat Misca lê op die hoogste stoelleuning en loer na buite. Waar gaan die voëls om droog te bly? Almal het tog nie waterdigte neste nie. Hoe maak die derduisende vrugtevlêrmuise as hulle nie elke aand kan wegvlie om vrugte boorde te gaan plunder nie?

Vlermuis se kind innie reën

Vlermuis se kind innie reën

Vrek hulle maar van honger of versuip hulle so onderstebo waar hulle in bome hang?

Die elende is orals op die nuus. Mense soek skuiling onder ‘n vulstasie se afdak en honderd plus siele ontkom in ‘n ernstige ontploffing.

Vulstasie se ontploffing

Vulstasie se ontploffing

Ons nuuslesers rapporteer van drenkelinge en eiendomskade.

Voertuie wat skuiling gaan soek het onder dak van 'n vulstasie

Voertuie wat skuiling gaan soek het onder dak van ‘n vulstasie

Die hele stad is sonder krag en diesel vir opwekkers is skaars soos hoendertanne. Akkra is gebou met Franse oop rioolslote wat met goeie reënval veronderstel is om oop te spoel. Die ligging van Akkra; plat langs die see – beplan vir vierhonderd-duisend-inwoners maar met meer as vier miljoen bewoners; se sommetjies werk nie. Iedere inwoner dra by tot die plastiek besoedeling probleem.

Gister het ek pannekoek gebak, maar dis nie dieselfde nie want die temperatuur kwik haak op twee-en-dertig vas. Reën of te nôt! Met een-honderd present humiditeit is dit beknop en plak-warm. Reënkyk is net soos vuur-kyk in die aand. Ons het diep-sit kampstoele staan gemaak op die stoep, en reën gekyk met rooiwyn innie hand. Te mooi. Vannaand maak ek vetkoek en kerrievulsel; en beplan reën-kyk.

In Namibië loop ek gereeld uit in die reën, staan sopnat, arms uitgestrek, gesig na bô, tong uit, en proe. Daarso proe vars reënwater na stof, soetwater met ‘n sout na-smaak.

Reën proe

Reën proe

Hier is dit heel anders, die reën is bedompig, ruik na brandskaap en proe soos droog bokkems en biltong sonder sout en lawwe asyn. In Namibië wag jy die reën in, vir dae lank bondel en pak die wolke saam – hier in Akkra is die geboue op ‘n knop ingeryg, jy hoor die reën lank voorday jy dit sien of ruik.

Die meeste skole is toe vandag. Mense sukkel om betyds by die werk te wees, daar’s orals waterstrome, padskade en bome oor die pad. Ek hoor kindertjies se uitgelate gille en gaan kyk wat aangaan. Hulle is kaalvoet, deurnat, malkop besig om rond te hol en speel in die straat voor ons huis – hulle voel sekerlik soos honne vasgevang in ‘n krat.

Deurnat kinners in die reën

Deurnat kinners in die reën

Die voëls gaan te kere asof hulle weet waar Noag se ark geparkeer is. Daar is ‘n vendusie van kraaie langs die watervoor – ‘n bok dryf in die watersloot, dik pens en pote in die lug. Dit reën nog – net sag, maar daai bok dryf fluks see se kant toe.

Yuck

See Piranhas

Soos die kraai vlieg, is ons net vier kilometer vanaf die see, waar ons in Akkra woon. Dis te vêr om die branders se breek te luister en die seebries te ruik, maar naby genoeg om eetgerei in die laai te roes. Sleutels wat in kasdeur of deurslotte gelos word, roes rotsvas in ‘n ommesientjie. Wanneer jy soos ‘n gifspuit kakkerlak op die naat van jou rug lê, besef jy opvou kampstoele se skarniere roes ook deur!

Almal ervaar die see anders.

Oor die algemeen is Ghanese banger vir die see as vir die houtjie van die galg. Van kindsbeen af word hulle vertel as jy dieper as jou knieë instap sal ‘n seekat jou gryp en diep wegsleep na die seebodem en niemand sal jou ooit weer sien nie. Baie min vrouens leer ooit swem, en ‘n handvol vissermanne in kusdorpies waag dit om in die see te swem. Bygelofies bepaal dat niemand op ‘n Maandag mag uitgaan om vis te vang nie want dis die see se ‘rusdag’.

Niemand kan wegbly vanaf die see met sy gedruis, sout spatsels, spierwit seësand en tropiese palmbome nie. Onse mense is mos toentertyd verby studentejare waar ‘n handdoek, plakkies, koshie en kouebier die ding gedoen het. Nou is dit sonsambrele, piekniekmandjies, ys in twaalf volt inprop yskas, braaitange, gemarineerde braaivleis, strandmatjies, sonroom, opvoustoele, toiletpapier, sjarongs en blêr klankstelsels wat als gepak moet word. Na ‘n uur van afpak en uitpak, is jy reg vir ‘n heerlike afkoel in die seëwater. Ons hol soos afkop hoenders in die golwe in, en die boorlinge sit in die koelte en staar ons aan.

Die seëwater is tropies warm, die golwe se breek is gematig en kalm. Net anderkant die golwe se breek draai iets grillerig om my been en klóú! Ek gil soos iemand wat gisteraand JAWS II gekyk het en pluk die klousel af. Ha! Net ‘n swart plastiek inkopie sakkie! Die verligting is kortstondig. Elke ander twee minute val nog ‘n plastieksak my aan. Dis vreesaanjaend want die water is erg troebel en ek kan die swart sakke nie raaksien of vermy nie, dis iets aakligs wat ek nooit gewoond sal raak nie. Tyd vir swem, sommer so parallel met die strandlangs, miskien kan ek wegswem vanaf die spul plastieksakke? Om te keer dat ek diepsee toe swem hou ek ‘n oog op die strand. Daars lokale mense op die strand, hulle verskyn sporadies vanuit die palmbome en kom hurk hier waar die golwe vlak oor die strand stoot. Nuuskierigheid oorweldig my en ek watertrap terwyl ek asemskep en kyk wat maak hulle.

Slaat my met ‘n nat vis! Daar is een reuse man gehurk, broekloos, my oë lieg nie, sy hemp hoog onder sy bors opgetrek, hy bou ‘n toring-kasteel maar nie van sand nie! Ek hoor myself ‘n boosaardige gil gee, maar nie dié keer vir ‘n plastieksak nie, en besef hier om my dryf goete maar dis nie takkies en stokkies nie! Jig, Boeta, nou swem ek! Maar soos dit maar is, dryf die spulletjie soos eentjies in ‘n ry in my swemstroom agter my aan! “Moenie water sluk nie” konsentreer en kliphard in my kop. Ek kyk óm, in my swemstroom dryf ‘piranhas’ rustig agter my aan… Nou plan-B, duik en swem ‘n paar meter onderwater, maar met ‘n swartplastieksak oor die gesig is als net te veel vir my. Ek móét uit die see uit!

Manlief lag himself ‘n papie. Ek’s net te grillerig en pê om te eet. ‘n Paar biere later glimlag ek floutjies vir almal wat dink my seëswemmery is die grap van die jaar. Die kinders skop ‘n bol, hol rond en gaan vêr ente stap. Een seuntjie kom triomfantlik terug met ‘n onpaar plakkies wat die see uitgespoeg het en ‘n handvol ou gebruikte bont tanneborsels wat hy opgetel het. Nee sies, ek sal aan wal sit en roes, vir eers is ek uitgeswem.