Tag Archives: Sofa

Kat in 'n sak

Duur Katkoop

Outyd in my Ouma kombuis, het sy ‘n wysheid kwytgeraak terwyl ons ertjies sit en uitdop. Vandag deel ek dit sonder die nodige ertjie-uitdop-proses. Sy vertel; moet nooit ooit ‘n klein katjie verniet aanvaar van iemand nie. Al betaal jy nét vyf sent, betaal tog net ietsie alvorens daai kat jou nog op die ou end platsak trek.

Op 13 Desember verlede jaar koop ons as ‘Kersgeskenk” ‘n sofa-lê-stel vanaf @Home (The Grove Tak in Windhoek) en betaal kontant dáár en dan die gedoente. Om rede die fabriek in Die Republiek reeds gesluit is, sal hulle die sofas bestel in die eerste week van Januarie en binne 3 weke van daai datum sal dit gelewer word in Windhoek. So is ons vol verwagting terug na skoonma se huis en gee haar vir eers net ‘n fototjie en van die belowe sofaset. Die opgewondengeit en afwagting loop dik en soet soos stroop. Skoonma het dit moeilik – sy sleep ‘n suurstofmasjien soos ‘n hond op ‘n leiband saam en al plesiertjie is sit en TV-kyk in die gesinskamer. Nou kan die Asempie in koningklike gemak rondlê so tussen mense van die huis.

Ons sit hier in die stokkies en stof van diep Afrika en Ouma wil nie rooimierneste met stokkies oopkrap nie.

Drie maande tot op die dag tik verby, en by navraag oor die nuwe gemak lê-sofa; stik ek van ontsteltenis toe ek hoor geen bank is nog afgelewer nie.

Het ek myself ‘n kat-in-die-sak gekoop?

Hoe is dit dan dat ek nié die sofa-stel-beloftes aansien vir ‘n gratis katjie nie?

Miskien ly ek ook aan kort-mannetjie–sindroom? Als moontlik het opeenvolglik verkeerd gegaan. Een sot het vergeet om te bestel. ‘n Ander sot het nie opgevolg nie. Nog ‘n sot het dit nie in Die Republiek opgelaai nie. So volg die volgende sot weer niks op nie. My kort humeur kry die opperhand wanneer ek met onnooslikheid te doene kry. My mooi maniere en kalmte het verdwyn die oomblik toe juffroutjie my meëdeel dis nie eintlik haar skuld nie. Dink jou dit aan! Is dit dan my skuld? Sy werk daar nie ek nie.

Is die wêreld nou so afhanklik van tegnologie dat ons selwers nie meer kan dink nie? Moet mens iemand wat ‘n salaris trek eers ‘n fooitjie gee om sy eintlike werk te doen?

Verbasend genoeg het ‘n enkele smeerbrief op bakkiesboek die fôkapie afgehandel en in die bed gesit. My telefoon is witwarm geskakel. Almal wou en kon skielik help. Binne ‘n rekord tyd van net twee daggies is die herrie oor want skielik is die lê-sofastel afgelewer in Windhoek!

Ek kan nou bevestig ou-Moeder-Asempie lê heerlik in koningklike gemak in die gesinskamer en TV-kyk of haar sofa-splinternuut “uit-Die Republiek”.

Nou sit ek dink aan daai gratis kat, miskien is my skoolgeld nou betaal?