Tag Archives: South African

Om mee te krap

‘n Mieliestronk om mee te krap

Ag nee, die kamatigge slimmes het nou die pot misgesit!  Ek lees dat die wet in RSA goedgekeur is dat kinders tussen twaalf en vyftien wettiglik met mekaar kan seks hê.  Voorheen was dit verkragting van ‘n minderjarige.  Die ouderdoms verskil moet net nie meer as driejaar wees nie…wie dink hierdie stront uit? Kan ‘n stomme kind van twaalf sonder dwang of invloed toestemming gee vir so iets?

Wat de flok?! Is al hulle bont varkies skielik nie meer op hok nie? Kinders wat kinders maak, is skielik heeltemal wettig.

Wat is volgende? Kinderbruide van twaalf, of wettige stemreg op twaalf? Hel, hoekom moet hulle enigsins nog skoolgaan? As Ouma nog met ons was het sy ‘n stuiwer in die ambeurs gegooi. Sy sou sê: “As daai ding jeuk, gee aan ‘n droeë mieliestronk dat hulle kan krap.”

Is dit net ‘n ding van ‘more voters’ in future? Wie gaan daai bloedjies onderhou, skool en huisves, Jan Taks? Droeë mieliestronke klink baie goedkoper.

Die ding pla my woes.  Sedertdien ek die nuus gehoor het bly ‘n paar dinge in my kop draai…

Het die wetmakers kinders van hulle eie? Miskien is hulle almal steriel of self doenig vanaf die ouderdom van twaalf.  Is dit dan maar reg met hulle as ‘n gladdebek vyftienjarige (ou standerd 9-laaitie) hulle (ou standerd-4) dogtertjie wettiglik ‘wip’ tussen die lakens?  Is reg, noem my maar oudtyds, maar ek kry nie aan hierdie ding gesluk nie.  Wat kan hulle ouers doen? Dis nou na die koeël deur die kerk is, en die daad gedoen is…sweet bogger-all niks nie!  Hoe gaan hulle ‘n kind ‘hok’ wat reeds doenig is met ‘grootmens-dinge’.  Daai trein het lankal die stasie verlaat… Gatvelle aftrek is mos nou ook teen die wet!  Al wat oorbly is mediese rekening betaal vir vrot siekte en bevallings.

Hoekom nou ‘n puisie rypdruk?

Vroeg ryp, vroeg vrot. Als is te laat, die morele vesels van ons gemeenskap is aan die lostorring.  Verander die naam van RSA na Sodom en Gemora.  Hoekom nog so dan en wan enigsins die wetboek gebruik?

My jongste is net agtien so ek self het nog groen koring op die land.  Onse familie kan nog nie verkondig dat ons ‘n tiener swangerskap vrygespring het nie… daar is nog baie tyd vir aanjaag.  Ook net Ma, dis nou ekke. Daar word gepraat, gepreek, gedreig en gesmeek. Arme kinders ken al my rympies al uit die kop, en maak my sinne vir my klaar as ek eers beginne aangaan oor die bye en blomme ding. Maar jinne, mens kan mos nou nie kop in die sand gaan wegkruip of net arms in die lug gooi nie!

So as die vyftienjarige laaitie nou oudergewoonte popspeel met ‘n twaaljarige ‘te groot vir haar skoene’ Delillah en hy verjaar en is oornag sestien, is als skielik onwettig.  Nou moet hulle wetlik ‘n hele jaar wag tot sy opvang en veertien word om verder te speel. Ha! Verduidelik daardie ene ‘wettiglik’ vir die kinders wat reeds jeuk.

Die meeste lande aanvaar dat tieners na agtien eers volwasse is, maar medici reken dat die meeste breine eers ten volle volwassenheid bereik op die ouderdom van vyf-en-twintig. Under most laws, young people are recognized as adults at age 18. But emerging science about brain development suggests that most people don’t reach full maturity until the age 25. Guest host Tony Cox discusses the research and its implications with Sandra Aamodt, neuroscientist and co-author of the book Welcome to Your Child’s Brain.  Nou waar is al RSA se geleerdes as dit kom by wette maak? Of ‘operate’ hierdie ouens almal in hulle eie lugborrels?

Slim het nou sy eie baas gevang, want in hierdie proses het hulle soveel meer ontneem van kinders se regte.  Hoe gaan daai stomme kind ‘bewys’ dit was nie verkragting nie?  Hoe gaan pedofiele en kinderporo vojeurs nie paartjie met hierdie nuus nie?

Langenhoven was self ‘n RSA parlementslid wat eendag verklaar het helfte van die parlement is ape.  Toe hulle aandring op ‘n wysiging van sy ape stelling verklaar hy: Die ander helfte van die RSA parlement is nie ape nie.  Ek reken as hierdie wet reeds deur die parlement is, is hulle almal ape.

Lees hier oor hierdie nuwe wet… http://www.news24.com/Multimedia/South-Africa/ConCourt-hears-child-sex-law-case-20130531

Lees hier oor Onderwysers wat reken dis ‘n goeie ding http://www.news24.com/SouthAfrica/News/Child-sex-rule-welcome-teachers-20131004

Advertisements

So Hop-hop oor Afrika

Net verlede week spoor ‘n langlaas skoolvriendin my op met vandagse elektroniese sosiale-media foefies. Haar boodskap lui ons tweetjies moet gaan koffie drink in die Ooste van Pretoria, (my tuisdorp) en effe opvang om die spasie van 28 jaar in te kleur. My eerste gedagte is dat sy pas geskei is en mylpale of skatte wil vergelyk. Alternatief het haar tiener-kinders haar gewys hoe om mense in Bakkiesboek uit te krap. Kwansuis lyk ek net dieselfde as op-skool maar ek is vermoed die molle en is te ydel om bril te dra. Ek reken sy is ‘n nuuskierige beginner-sluiploerder [stalker] anders het sy mos gesien ek het lánkal my vlerkies gespan en wilde woeste Afrika gaan tem!

Haar reaksie is een honderd persent voorspelbaar. “Haai sies tog, shame” sê sy toe ek haar sagkens meedeel dat ek in Accra woon, maar as sy dié kant toe kom, kan ons beslis ‘n planmaak en die koffie-ding doen. Met die wind eensklaps uit haar seile – vergeet sy van Google en haar nuutgevonde rekenaar vaardighede. Ek verduidelik dis in Wes-Afrika, Ghana en verlam van skok; verdwyn sy netdaar vanaf die sosiale netwerk. Daar gaat haar fyn Oos-Pretoria grootgeword-oppi-skultbult se maniere met die waswater uit. ‘n Hele drie dae later skalerlag ek kliphard toe haar enkele eenlyn-vragie op my rekenaarskerm verskyn: “Is jy getroud met ‘n swart Ghana-aan?” (SIC) [Die regte spelling is Ghanaian]. Sy is vir eers op die agterplaat, en ek sal haar uithonger vir my antwoord maar heimlik hoop ek sy toetsbestuur weer haar sleutelbord en bekyk van ons fotos want my antwoord is voor die handliggend. My getroude van is dan “Bezuidenhout”! Nogals vreemd en onuitspreekbaar in Ghana.

Vele ander se gedagtegang bokspring as hulle my gesin ontmoet. Ons is daardie malkop Afrikaanse mense wat sonder trompette gejuig, rustig hier tussen al die ander Ghanaians woon. Hierdie lewe is normaal soos witsous met kaas daarin. Elke oggend soek my Kobus sy boeretroos – moerkoffie, ons braai lamsvleis (maar dis solank as wat die vleisvoorraad hou wat tussen die klere ingebring is van Namibia op die laaste vlug) en luister Radio Jakaranda en Radio Wave (Windhoek) via die internet. Kinders moet rondgetaxi word agter maats aan, sakgeld bly ‘n besprekingspunt aan die ontbyttafel en DSTV se sportkanaal is iewers in die agtergrond aan.

My man het toenterjare (’91) die uitdaging aanvaar om projekte aanmekaar te sit in ‘nuwe markte’, vir die oningeligtes: dis diep Afrika. Sy verhale van eensaamheid, vreemde tale, vêrafgeleë dorpies, rakbrak winkeltjies het my nie veel geskeel nie – ek was smoorverlief en wou soos ‘n gedetermineerde sperm saamrits en die vreemde verken. Twintig jaar later wip-wip ons nog steeds regoor Afrika. Uganda (2xkeer), Nigerië, Kenia (2xkeer), Namibië en Ghana (3xkeer) het ons reeds ‘huis’ genoem. Ons kontrak het nie ‘n vervaldatum nie. Solank as wat my manlief en sy base wedersyds gelukkig is, dan bly ons aan. (wispelturige immigrasie altyd in die potspel)

Van die oomblik wat jou kinders gebore is, wonder jy wat die donker wêreld aan hulle gaan doen-malaria, polio, salmonella en vigs is in ons gesig – elke dag. My familie was meer bekommerd oor wat ék met my kinders aanvang en waaraan ek hulle ontbloot. Die beste ding wat ek vir my kinders kon doen was om hulle deur Afrika te laat fladder. My seun was 2 weke oud met ons aanland in Uganda en my dogter net 10 dae met haar eerste vlug na Kenia. In dié lande het ons twee pragtige goed aangepasde tiener kinders grootgemaak. Hulle is nou 18 en 17 jaar oud, Afrikaans, Engels geskool, selfversekerd, wêreldwys, uitgesproke en verdragsaam. My kinders het in sowat twaalf Internasionale en/of privaatskole ‘n ding of twee geleer. Ten eindelaaste het hulle op die Britse Cambridge sisteem hulle skoolloopbaan met tuisonderrig voltooi. In ons swerfsels het ons ‘n Afrika wees-pleegkind ook grootgekry. [yip hý ís pikswart]

Die hartseer ding is dat soveel ‘Expat”-vrouens ‘n beroep moet opgee om huis en haard bymekaar te hou. Dit gebeur soms dat vrouens wat soos aanhangsels stukkies van haarself verloor want die mans versmoor in werk en haar kinders absorbeer die skool en maats-ding. Oor vrou-wees hierso sal ek dikke boeke kan skrywe. Die drama is dat Afrika verstringel is in burokrasie. Werkspermitte is duur en skaars, so vroulief mag nie werk –anders pluk sy fisies die kossies uit ‘n lokale bloedjie se mond! Ga! Die skuiwergat is dat sy haar eie besigheid moet bedryf, of haar belangstelling of tuisbedryf nuwe hoogtes in te neem.

In Kenia het ek binneshuis versierings gemaak en kinderkamers opgetooi, in Uganda het ek skoolboeke geset in kleur en vir ‘n publikasiehuis gekonsulteer, in Nigerië het ek houtkindermeubels gemaak en vir die Britse Konsulaat gewerk en so ook in Ghana. In Namibië het ek ‘n haarsalon gehad en kiste gebou (ja vir begrafnisse). Tyd vir op ‘n knop sit en jammer voel oor wat ek mis in Namibië was daar ook. Tussendeur is ek bang daar is plekke wat ek nog nie gesien het nie – dinge wat ek nog nie beleef het nie… Ons vermaak onsself met vriende en braaivleis en teeuitnodigings en potjiekos kompetisies en soek interessante plekke om te bly buite Accra. Filmteaters is hier nou – maar die etiket van die mense hier sal onse mense gekdryf.

Ons het gekom om te bly. Te beleef. Te kuier, want voordat ons ons oë uitvee, is onse tyd vir sports en plesier op.