Tag Archives: Standerton

Tuisdorp- noú of voorheen of eendag?

In opdrag van Toeka-tokkel no 6: tuisdorp

 

Wanneer mense my vra waar’s kom ek vandaan, vra ek eerder “noú of voorheen of eendag?”

 

My Ma sê ek’s op Evander in die hospitaal gebore, toe hulle nog op Standerton op ‘n familieplaas, Beginsel gewoon het.  Dept. van Binnelandse sake het my onlangs ‘n volledige geboortesertifikaat gegee wat beweer ek is in Germiston gebore. Ek reken my Ma was daar in persoon en die klerk van Binnelandsesake nie, so ek vertrou my Ma se weergawe.

 

Ek onthou as kleuter het ons in Empangeni gewoon, en daarnaas iewers in Zululand naby ‘n spoorweghuisie met ‘n lang plaaspad skooltoe.

 

In standerd twee was ek in Kameeldrift op skool in Pretoria. Dit was reeds my derde skool waarin ek soos ‘n spook gekom en gegaan het. Ons het in die middel van die termyn – in die middel van die jaar vanaf ‘n plaasskool op Bultfontein naby Molotto na die stad getrek.

In hierdie Pretoriaskool moes jy skooluniform en skoene dra – elke dag. My Ma het sopas vir my die oulikste skool sakkie gemaak van ‘n ou denimbroek wat jy oor jou stoel se ruglening trek en al jou skoolboeke en kryte in die sakke pak. My stoelsakkie was uniek, my Ma my heldin want sy het in Chekkers splinternuwe kryte en potlode gekoop vir die sakkie. Mev Moolman die skool juffrou was kwaai en sy het nie geduld dat enige kind van ‘n ander leen nie. Nou was dit vakansie en ek moes ‘n hele drie weke droom oor hoe ek teken en inkleur met daardie nuwe kryte.

 

Daai jare was my Pa ‘n moterverkoopsman by Toyota, Pretoria. Ek was ontroosbaar toe ons plotselings oppak en binne die bestek van ‘n paar dae sak en pak land in Warmbad. Vir weke wou ek weet, ‘wie gebruik nou my nuwe potlote en kryte?’ My Pa was nog steeds Pretoria se beste mouterkar verkoopsman. Hy ons net oor naweke kom besoek – elke keer ‘n blinker en groter of platter mouterkar as voorheen. Aanvanklik het ons op die dorp gewoon langs my Ouma Henna. My Ma het by die dorp se Biblioteek gewerk en ek kon elke middag na hartelus wegraak in die storieboeke – platpêns op die mat van die Biblioteek. Met my Pa se alewige hunker vir plaaslewe en perde en ‘n geplantery, trek ons na ‘n plaashuisie digby ‘n Bloekombos vol bye. (Sien my vorige skrywe oor die bye in daardie Bloekombos) My wilde streke het net beginne mak raak toe trek ons terug na Pretoria – hierdie keer Capitalpark se, van Heerdenstraat. Weer in ‘n nuwe skool Genl. Jacques Pienaar, en ‘n  leefhuis net straat af van die skool.Screenshot 2016-03-08 15.43.47.png

 

Daarnaas is ek Hoërskool Langenhoven toe, oorkant Pretoria se Dieretuin, maar binne ‘n jaar het hulle my geskors vir my harstalligheid en streke. Screenshot 2016-03-08 15.49.43.pngAtletiekrekords en hokkiespelery het my in Hoërskool Waterkloof ingewikkel, en vir die volgende vier jaar was Pretoria my tuisdorp. My Pa; die alewige boer en spoelgoud-delwer, se plaas op Witrivier en Tsaneen was my naweek en vakansiedorp.

 

Na skool het ek op NKP in Pretoria aangebly om onderwys te swot, voordat ek in ’98 saammet my ougat Vrystaatman na donker Afrika verhuis het.

 

Alhoewel ek in baie dorpe reeds gewoon het, reken ek dat Pretoria se Jakarandas, bont herfsblare en donderstorms my tuisdorp is.

 

Die stad waar ek naas Pretoria die langste gewoon het was in Lagos – Nigerië, maar in September hierdie jaar, sal ek ‘n inwoner van Akkra-Ghana, wees wat weer vir Lagos uitstof. Akkra sal nooit my tuisdorp word nie.

 

Intussen het ons grond gekoop in Windhoek en dis waar ek myself sien stoepsit eendag. Dis my eendag vorentoe se tuisdorp.

 

Sonder 'n stingel

Ek is ‘n belofte aan ‘n sterwende man

Hoe kan ‘n “sonder die stingel gebore” met mansname geseën word?

Sonder-'n-stingel

Sonder-‘n-stingel

Op my tyd het ek self al ‘n vroumens Pieter, Peet, Jake’s en Ossewania ontmoet.  Sekerlik het die oorlogtyd en konsentrasiekampe die oumense na uiterste naamgee gedryf.  Destyds, in die maerjare van die neëntien-sestigs op Standerton, het ek ook my aardige naam gedêps.

Ontbyt is waar al die famlie aangesit het en skaapvet op varsbrood smeer. Biltongskyfies sny bo-oor mieliepap …My Moeder was hoog-swanger met my – toe haar houtbeen-rooikop Pa so al sukkel-sukel om die ontbyttafel stap. Suikersiekte en hartkwale loop harstallig dik in onse familie.  Uit die bloute merk hy teenoor my Moeder op, dat híerdie kind wat sy dra- sý name moet kry. “Ja-Paaaa, ek belowe” was my Moeder se ongeêrgde antwoord.

Daai tyd, op die plaas, het niemand ‘n kind naam gegee totdat die geboorte oorleef is nie. Eers ses maande later is daar geplan aan doop – wat móés saamval met nagmaal. Enkele dae later is die houtbeen Vader so stilletjies in sy slaap oorle. Tussen al die hartseer kom ek as troos- al skreeuend twee of drie aande later – nes my oorle Oupa – bos krul rooi hare. My Moeder voel toe só skuldig dat sy “’n belofte gemaak het aan ‘n sterwende man”. Die grond nog vars bo-op die houtbeen-Vader; is ek op ‘n brose vyf dae oud gedoop as Diederick Daniël Janse van Rensburg. Daar was geen nagmaal nie, net ék met my rooi-Oupa se name en Ma se trouvan. Almal noem my Daniël, op skool het ek gou geleer om my min te skeel aan dié wat wou spot. Dit was uniek, vreemd en ‘n geselssie met elke nuwe ontmoeting. “Hoeveel ander Daniëls kên jy “sonder ‘n stingel?” Só het ek nooit eers oorweeg om ooit my naam te verander nie. Daar was vele verwarring en giggels deur die jare met mense wat dit tog te aardig vind. Die bankmense en binnelandesake ouens krap vandag nog hulle kop daaroor.

Afrikaners vind humor in ráák beskrywings en deel byname uit wat kleef vir áltyd. Noem my Karel, word “Meraai se Matewis kat” en voordat jy jou oë uitvee noem almal op die dorp jou Karelkat en later Matkat. In Suidwes ruil die Wambo’s die r en die l om. Só lees daar op die Id document Lasalus en nie Lazarus nie In die Richtersveld en Suide van Namibië gee die Nama’s ook hul kinders soms snaakse name. Ons hoor van Badprop, Tjotterjot, Keesbene, Koekhaar, Doringdraad, Vierietjie, Koeka, Draadkar, Poena, Nonnies, ‘n paar Colgates, Omo ens.

Suidwes se Basters van Rehboth maak laslap name. Shandré, Chess-Lynn, Rhozelda, Quéritha, Haybre Shernice, Lucresia om net ‘n paar te noem. Die reël is as jy dit nie kan spel of eerste keer uitspreek nie, vra wáárvandaan.

Snaakse Vanne gee duidelik ook probleme. Al gehoor van Mnre Nis wat hulle Van wou verander? 
Be-ampte by Binnelandse sake vra hoekom? Lees gou bietjie hier sê Mr. Nis, en dan sê jy vir ons hoekom níé, antwoord die broers en hou koeverte geadresseer aan hulle uit. Mnr. A. Nis en Mnr. P. Nis. Nóg snaakser is die skeeloog onderwyser met die Van Wijdkijk. Op skool was ‘n paar Hol-langse (níé Hollandse) vanne woes snaaks soos ene Snotgras, Buffelbout, Trantaal (níé Tarrentaal) Keteldas, Papenfoes, Drollapper, Fokkens, Mr Moerse, Mr Klinker en Mev. Trill. Probeer Koekemoer en Bezuidenhout verduidelik aan Engelse mense. (Choc –hen –mur en Bes-wiet-hen-hut.)

Byname dra jy trots tot jou dood toe. Kyk jy krieket of rugby dan ken jy nie Bernardus Lambertus en Willem Jacobus maar wel Dagga en Spinnekop Hulle sou nie droom om op hulle geboortename genoem te word nie. Daar was Viervoet (Liebenberg), Bok (Markram), Haas (van Zyl), Hakkies (Husselman), Duimpie (The-ron), Scholla (Scholtz), Makwas (van der Walt), Chappy (van Vliet), Slang (Roux), Stompie (Fourie), Kraai (van Niekerk), Kriek (Erasmus), Wommers (Brown), Muis (Viviers), Biltong (Grobbelaar) en Vlakhaas (Ross).Ek self het al van Piet-Piston, Daantjie-Dik, Gerrie-Vlerrie, Jannie-Blomoor, Arlie-Alsverniet, Charmaine-Wyn, Gert-Jakkals, Piet-Paashaas en Molla-Muis gehoor. Aan Spiekeries, Mannetjies, Piston, Waslap, Vleis, en Bakkies gaan ek nie eens karring nie.  Dit kan net te lank aangaan.

Die atlas wys my plekke het ook giggels in. Dorpsname, of plaasname, hoe klink: Vlermuisvlakte, Sonstraal, Houmoed, Granaatboskolk, Spoegrivier, Platbakkies – die gevolg van ‘n kroeg-geveg? Waarvandaan is Grootmis (naby Kleinsee) en die mooiste ene tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein.