Tag Archives: Swakopmund

Wag, ekke was nog nie reg nie!

Matewis is ‘n lui swart kat met ‘n selfdood geneigdheid wat met ‘n dik streep getrek is. Hy gaan lê vir die lekkerte in die drom van ons wasgoedmasjien, en die dag gaan kom wanneer hy nog daar binne is as die deur toeklap en ek die masjien aanskakel.

As ek nou Matewiskat was – het my aanskakel dag gekom.

Net die ander dag was ek soos onse Matewiskat – lekker snoesig in my lekker lêplek, salig en snoesig onbewus van ‘n masjien wat aangeskakel sal word… My lêplek was Swakopmund, die kusdorpie daarlangs die Namib se koue seë, lekker snoesig. Swakop met sy koffiewinkels en palmbome waar mens talm, wynglas-in-die-hand, vir sonsondergange kyk, laaaank na die son al gesak het, nog kyk en kyk. Die masjien was my man wat weer ‘n konsultasiekontrak aangebied is, ja, woerts daa gaat ons!

Aanvanklik sou hy vir 6-9 maande gou ietsie hier kom regtrek het, maar die Vrystaatman van my is mos deugsaam, en siedaar. Nou het hy vir 2-3 jaar kontrak geteken, en besef ek – eeeek, EK WAS NOGGIE REG NIE! ‘n Paar maande, daarvoor was ek reg, maar ‘n paar jaar is ‘n helemaal ander kopskuif. Mens is so effe uit jou ritme as ‘n trek so skielik oor jou kom. Aan die anderhand is ek diep dankbaar want my Vrystaatman het vernuwe vonk met die nuwe werk, yay!

Kyk hierdie is mos nou nie onse eerste trippie as expat in Afrika in nie, ek skuif nie meubels nie – die plek waar ons woon is reeds gemeublieër, en my man het ‘n driepootpot en braai-ding gaan koop wat reeds op ie stoep staan. Ek het ‘n piep klein waterdruppel grootte moutertjie aangekoop – iemand in Japan se opgeryde moutertjie – so nóú! Nou gaat ek uitbars en alles uitsnuffel en ondersoek.

Drie maande later en ek voel vanoggend vir die eerste keer effe ingeburger hier in Lusaka, Zambië. My koffie proe sommer weer lekker, ek dans oor gladde vloere op my playlist , ek glimlag vir vreemdes in Lusaka, en saans verkyk ek my aan dieselfde sterre wat skyn oor die Namib. Mens kan dié plek ook liefkry.

Dis tyd om weer myself te wees, simpel, nuuskierig, goedhartig en soos Matewiskat, effe ‘anders’.

Advertisements

Volgens Toeka-tokkel no2: Skryf ons oor vakansie

 

Meer kosbaar as diamante is vakansie herinneringe.

 

In my eerste foto van my as baba, sit ek op Durban se strand en sand eet. Op die kiekie dra Ouma ‘n swemkappie met bont rubberblommetjies, my Ma in ‘n sexy bikini en my ouboet staan ongeduldig met ‘n drup –roomys onder die sambreel.

 

Op ‘n volgende kiekie staan ek met ‘n skoothondjie in die arms by die Taalmonument. My Ma en ouboet is ook in die foto, en ‘n kleinboet is ook nou in die prentjie. Ek onthou ‘n kampvakansie met ‘n vaal groen tent langs ‘n vlak breë rivier. Ons wat in die koel water speel en ‘n waterslang wat kalmpies tussen ons deurswem. My Ma se ontsteltenis toe die apies van die kosvoorraad wegdra. Kleintyd onthou ek my Pa se uitbundigheid toe hy, ons met ‘n helder geel “Beech buggy” teen ‘n duin uitjaag. Ek onthou die hitte om oop kampvure op die strand en ons Doberman se nat swem lyf, saam op vakansie.

 

Kampvure, “Beech buggies” en honde is deesdae verbode op strande.

Screenshot 2016-01-23 17.43.30

So onthou ek ook, twee nagmerrie vakansies. Een daarvan ry drie gesinne al die pad na Mosambiek. Die voorafbetaalde woonplek is niks soos dit op die Internet geadverteer is nie. Geen lugversorging, geen krag, muskiete en sandvlieë wat ons lewendig opvreet, bamboes-beddens sonder matrasse en dronk studente met net een cd die hele vakansie. Daar word in die bakkies ingebreek en kontant gesteel, genadiglik los die boggers die paspoorte uit. Die kersie op die koek is ‘n man en vrou van verskillende gesinne wat sonder sweempie van skaamte ‘n verhouding aangaan en almal skielik op eierdoppe rondstap. Wat ‘n gemors van ‘n vakansie!

Die ander goor vakansie was in Swakopmund toe frats-weer ‘n hele tien dae opklits. Ons ouers en my broers met beide se families kom al die pad van die Republiek af deurgery, en skielik reën dit in millimeters in Swakop. Daai plek kry maar gemiddeld 3mm reën per jaar en in twee dae kry die kus dorpie skielik 10mm!

 

Almal sak winkels toe vir iets warms om aan te trek want die seestorms se winde woed in die strate. Geen visvang kans nie, almal bibber en beef en sit soos nat hoenders in ‘n bondel. Die gemoedere loop hoog en almal is vies en byterig. Niemand kan sonbruin of raak-rugby op die strand speel nie. Die fênsie blink mouters uit die Republiek gly en sit vas in die sout-strate wat oornag in modder en snot verander het. ‘n Ongeluk met 4×4 duine motorfietse in die duine het ‘n duur hospitaal besoek op hande. Almal vra heeltyd wanneer sal die weer draai en tien dae later is die familie druipstert en mislik weer terug na die Republiek.

 

Jy kan nie by die huis vakansie hou nie. Na twintig-jaar moes my man volgens sy firma se personeel reëls op ‘n ‘sabatsbreuk’ gaan vir 12 weke.   Die kinders moes skooltoe gaan en ek moes werk, daarom het hy nie weggegaan nie. Op die 4de week het hy vir die eerste keer effe later geslaap. Hy het elke dag die kinders skooltoe geneem en koerant gelees in koffiewinkels. Meestal het hy lostakies op die dorp verrig vir my en sy ma. Na drie weke is sy verveeldheid op breekpunt en is hy terug werk toe, en hy ‘bank’ toe die verdere drie weke.

 

Vakansies hoef nie duur te wees nie. Net anders. As jy in die stad woon, gaan kuier in die Karoo op ‘n plaas. As jy op die Rigtersveld woon, gaan ry die Gautrein en gaan ysskaats.

 

Elke ander reisagentskap offer gedurig spesiale aanbiedings. Ek reken ‘n mens moet uitvind wat is die goedkoopste manier om die verste te reis. Reis na vreemde plekke, klim, klouter, skie, grou, swem, duik, snorkel, vang, fotografeer skryf en onthou, maar gaan. Dis brood soos vars gebakte brood vir jou siel.

Film Resensie: An Infinite Scream

 

 

Elkeen van ons wat soos ‘n volstruis met sy kop in die sand staan, en vertrou die regering sal na al jou belange omsien, moet ‘n slag staan en wonder hoe goed dit uitgewerk het vir die Boesmans.

 

In ‘n aangrypende artistiese dokumentêr, “An Infinite Scream”, kry die Imke Rust jou kop uit die sand.

 

Die produksie is behartig deur haar talentvolle man, Musikant en Filmvervaardiger, Steffen Holzkamp – tans woonagtig in Berlyn. Hera Lindholm en Kema Migal se klankbaan laat jou nekhare by tye regopstaan. Die musiek is perfek in lyn met die broosheid van die Namib woestyn.

Dornen_C

Sholgololo Nest. Naukluft Reserve. Namib. Imke Rust (c) photographed and assisted by Steffen Holzkamp (Photos by Imke Rust)

Hierdie 45-minute gordynwegtrek bied jou ‘n glimps van die kunstenaar se kreatiewe denkproses, trek jou in – met die voetval in die woestyngruis en die hittegolwe wat saam speel in die duine, voel jy die seelug en sout in jou neus optrek.

 

My Gradering: 4/5.

 

Wat “An infinite scream” so suksesvol maak is hoe kalm die kyker terugsit en die kreatiewe proses volg, amper soos ‘n mak lam, voordat hy geslag word. Reg voor jou oë, besef jy die impak wat die kunstenaar se tema en fokus het op Swakopmund en Namibië se gemeenskap.

 

Een oomblik verwonder jy jou aan die gevoel van spier wit, onskuldige growwe sout in jou hande, verluister jy jou aan die ritmiese saai en strooi geluid soos klippies wat reën. Die volgende oomblik sit jy kierts regop wanneer ‘n media debakel voor jou oë afspeel, jy sit vasgenael, te bang om ‘n enkele feit misleidend op te neem.

 

Steffen se film en klank tegniek laat jou met ‘n intense waardering vir die denkproses, analisering, tydspan en realiseëring van Imke se kunstalent. Kunsstukke maak hulleself nie – in ‘n rare tydsgleuf deel Imke haar passie, verstaan jy skielik hoe elke kunsstreep van haar, ‘n deel van haar binneste is wat sy aan die Wêreld bloodstel.

Screenshot 2016-01-12 16.19.53

Waterberg Wilderness Lodge, Namibia. Medium: Masking Tape on rock. Artist: Imke Rust (c) photographed and assisted by Steffen Holzkamp (Photos by Imke Rust)

‘n Babbeloniese gebabbel van dialoog oorweldig nie elke tydgleuf en raam van die film nie. Die film strek oor twee kontinente en drie tale word behartig meestal Engels, Duits en Afrikaans met onderskrifte in Engels. Jy word intiem toegelaat om elke griesel kreatiewe proses te beleef saam met Imke; die pluk van die wind, die brand van son en die steek van kameeldorings.

Screenshot 2016-01-12 16.14.29

Imke Rust busy making the SubRosa Artwork. Photo by Steffen Holzkamp (c)

 

Aan die einde van die dag besef jy watter impak ‘n kunstenaar se kuns op die politieke hoi-poloî en ekonomiesespelers kan hê.

Dan is daar die vraag wat jy jouself vra; “staan ek kop in die sand?”

Daardie vraag bly met jou, soos ‘n klip in jou skoen.

 

As jy jouself in Windhoek bevind, moet die vertoning nie misloop nie.

Datum: 14e of Januarie 2016

Tyd: 19h15 (Durasie: 45min)

Plek: Goethe Institut, 1-5 Fidel Castro Straat

Gratis Ingang

Kunstenaar: Imke Rust en die filmvervaardiger Steffen Holzkamp sal beide teenswoordig wees.

 

Ons weet nog nie waneer die film vrygestel gaan word op Internet nie. Almal wat belangstel is welkom om in te skryf op die film se bladsy vir nuus, waar dit bekendgestel sal word. Dit is die plan om dit hopenlik in die vroeë toekoms vry te stel. Kliek hier langs om in te teken: https://aninfinitescream.wordpress.com/news/

 

 

 

Gaan lees hier oor Uranium Myne in Namibië, en waarom ons die regte vrae moet vra.

Gaan lees Adam Hartman – The Namibian se skrywe omtrend die media debakel rondom Imke se kontroversiële kuns.

Gaan lees hier verder die media artikels van Imke Rust