Tag Archives: Toeris

Hoender op ‘n stok

Na ses jaar in Ghana, ontdek ek nog nuwe grille. Vergeet van kamele rondry en swem met dolfyne, nee, dis heeltemal te mak – kom ry ‘n krokodil en swaai sy stert rond! Adrenalienvrate kom hierlangs kuier om valskerm te sweef, rotswande uit te klouter en krokodille aan hul sterte rond te swaai.

Steve Irwin, die Australiese krokodilman, se reeks op Discovery, het almal effe versigtig op krokodille ingestel, maar menigte toeriste stroom hierheen vir hierdie unieke ervaring. In ‘n tradisionele vissersdorpie Paga kan jy vir omtrent vyftien Amerikaanse dollar eerstehands kennis maak met ‘n krokodil.

Screen Shot 2018-01-22 at 11.12.23

Die afdraai na Paga

Paga is ‘n piepklein Afrika stofdorpie geleë heel bo in die noorde van Ghana, naby die Burkina Faso-grens. Daar, in ‘n yslike modderige dam, swem die uitbundige kinders, was die vrouens wasgoed, en skep ander water vir kos en drinkwater. Die omtrent 110 krokodille leef in vrede met Paga se inwoners.

In 1953, nog lank voor Ghana’s Onafhanklikheid van die Britse Kolonieale regering onafhanklik geword het, is die dam uitgegrou deur ‘n wit man vir sy meisie.  Niemand weet presies hoe die krokodille daarin beland het nie. 

Afhangende met wie jy gesels, het die inwoners verskillende legendariese stories in volksmond.  Een storie is dat ‘n dorstige reisiger deur ‘n krokodil na die dam gelei is en uit dankbaarheid het die man die plek en krokodille as heilig verklaar. Die ander weergawe is dat hulle glo hierdie krokodille is die siele van hulle dorp se voorvaders, en daarom word die krokodille as heilig geag.  ‘n Ander storie is vertel van ‘n jagter wat deur ‘n leeu op die wal van die dam wasgekeer is. Hy pleit vir sy lewe en belowe die krokodil dat sy kinders na al die krokodille in die toekoms sal omsien, as die krokodil hom sou beskerm teen die leeu.

Die dam is heeltemal ingeslote met geen vars water wat invloei nie.  Sedert 1953 is die dam nog nooit weer onderhou of skoongemaak nie. Die veeboere in die omgewing jaag hulle diere daarheen om water te suip, en ongelukkig vreet dieselfde diere die riet en gras waarin die krokodille deur die dag in die koelligheid en skadu slaap en sonbak.

Eintlik is daar twee krokodil damme by Paga.  Die een is so 12 km vanaf die snelweg  vanaf Navranga en inwoners noem dit ‘Chief Pond’ en die meer bekende ene is die Zenga Krokodil dam, net 5 minute vanaf die grootpad na die Paga grens.  Ongelukkig is daar geen hotel of Airb&b waar toeriste kan oornag nie. Die pad is so te sê onbegaanbaar en die hitte is ondraaglik plak warm.

‘n Motorfietseienaar staan enkeldiep in die vlakwater en was sy motorfiets. Vra enige visser wat enkele meter van ‘n kolossale krokodil staan en ‘n vis vir sy aandete vang: Hulle is almal ‘vriende’!

Screen Shot 2018-01-22 at 12.04.32

Sommige toeriste swem in die dam met die krokodille

Die Ghanese inwoners van Paga glo hulle en die krokodille het oor die jare ‘n gemeenskaplike respek vir mekaar ontwikkel.

Screen Shot 2018-01-22 at 12.17.24

Die hoofgids en krokodilbewaarder vertel niemand mag die krokodille enige skade aandoen nie, hulle is blykbaar baie geliefd en het hoef niks te vrees van die mense in Paga nie.

Ek dink die krokodille weet watter kant hulle brood gebotter is. Hulle is lekker dik uitgevreet aan die vet hoenders wat die inwoners hulle daagliks voer. In die dam is daar lekker vis en groterige paddas, maar die krokodille verkies die hoenders. Daar is tien goed geleerde of redelike makkerige uitverkose krokodille wat vir die toeriste se vermaak op die droë damwal kom vreet.

Screen Shot 2018-01-22 at 11.13.07

Toeriste gaan sit wydsbeen op die krokodille se rugge.

Toeriste van Rusland, Denemarke, Spanje en Duitsland staan kameragereed nader. Die krokodille kom uit die water wanneer die gids op die waterrand staan en fluit. Die krokodilbewaarders knoop die pote van ‘n lewendige hoender aan ‘n langerige stok vas en met die eerste hoenderskril gee die krokodil twee ratse treë en raap die hoender met ‘n aktobatiese wip uit die lug

.Screen Shot 2018-01-22 at 11.11.33

Ek weet nie wie skree die hardste nie, die Deense meisie wat in afsku gril of die lewendige hoender wat halflyf vasgebyt is in die kake van die krokodil. Screen Shot 2018-01-22 at 12.18.10Dan nooi die gids die toeriste nader om kiekies te neem met ‘n krokodil.
Daar is heelparty van die makkerige krokodille wat rustig rondlê. Toeriste gaan sit wydsbeen op die krokodille se rugge naby sy agterpote en streel oor die ruwe vel en klop plathand op die krokodil se rug terwyl die videokammera rol en die kiekies klik.

Dan lig hulle die swaar stert op en waai dit deur die lug. Die krokodil lê doodluiters in die son en droom seker van sy volgende vet hoender op ‘n stok. Dis dan ook presies wat gebeur. Sodra die toeris die stertpunt vashou, gooi die gids ‘n hoender in die krokodil se rigting. Woerts – weg is die hoender, net ‘n paar vere en pootjies wat by daai kake uitsteek.

Ek weet die voer van lewendige hoenders klink wreed, maar die inwoners van Paga weet die hoenderdieët van die krokodille sorg dat die krokodille hulle kinders, bokke en donkies uitlos.
Die skouspel gaan aan – elke dag kom betaal en kliek die toeriste, en elke dag vreet die krokodille. Die kinders van Paga swem uitbundig in die dam en vissers en wasvroue is aan die gang, terwyl krokodille enkele meters van hulle af in die son lê en bak.

Die toeriste glimlag breed, maar die krokodille glimlag die breedste.

Advertisements
Windhoek

My hart lê in twee plekke …

Gister sit ek en werk deur ‘n paar fotos van ons onlangse tuisbesoek. Ek is tuis in my Akkra huis en my kat Misca is verheug oor my terugkoms. Maar my ander huis wag in Windhoek en daar sit my mal maltees heeltyd by die deur en wag vir my terugkoms. Party mense het geen huis, ek het sommer twee, in twee verskillende lande. Waar ookal ek my bevind, mis ek die ander huis, mense en dinge.

Tammy-Lee die Mal maltees, My hart se punt

Tammy-Lee die Mal maltees, My hart se punt

Ons was met vakansie in Namibië maar almal óm ons kap net aan soos altyd. Dis ‘n ontnugtering dat die lewe tuis so normaal sonder ons kan voortgaan. Selfs Namibië se jagseisoen het gekom en gegaan sonder ons insette. Elke dag bied Akkra vir ons ‘n ander uitdaging. Kragonderbrekings, korrupsie, vreemde tradisies, immigrasie drama en moeilike werksomstndighede laat jou wonder, wat soek ons eintlik hier? Inkopies bly ‘n uitdaging, lekker vleis is iets waarvan mens altyd bly droom, en harde blêr musiek raak ons nooit gewoond nie. Vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd mymer ek oor al die goete tuis wat ek na verlang en op uitmis.

Stap met diere  op die plaas - goete wat ek mis.

Stap met diere op die plaas – goete wat ek mis.

Mense is maar nuuskierig oor ons doen en late in die vreemde. Mens moet versigtig wees om nie soos tweegatjakkalse te klink nie. Daar is ‘n fyn balans tussen een wat weet waar hy vandaan kom, en een wat weet watter kant sy brood gebotter is. Natuurlik werk ons in Akkra vir finansiële redes, maar my hart trek met ‘n langpunt terug na Windhoek.

Elke land het sy eie drama. Suid-Afrika se kriminele, korrupsie, werkloosheid, politieke eskapades en regstellende aksie laat mense vuisvoos. Dis ‘n fout om te dink alle ander Afrikalande is dieselfde. Elke keer as iemand reken ek is kamatig so braaf om in ‘n stad van meer as vier miljoen ander Afrikane te woon, dop my oë om. Hier in Akkra is ek baie veilig. Hier is geen motorkapings, geweldadige misdade, moorde en gruwelike motorongelukke nie.

Ek het na baie jare ‘n fyn balans gevind oor my belangstelling in die tropiese woude, historiese kastele en vreemde tradrisies. Interesante mense in Akkra vanoor die hele wêreld kom en gaan en mens maak nuwe vriende en groet bekendes soos wat hulle kontrakte beginner en eindig. Dis hartseer om afskeid te neem van nuwe vriende, maar hartverskeurend as geliefdes tuis ernstig siek word en soveel erger as hulle onverwags dood en ons sit hier in die stokkies.

Dit gebeur dat vriende van vriende, hier in Akkra kom besigheid doen. Hulle vra uit na die beste restaurante, besienswaardighede en waar om so ietsie van Afrika te koop teen ‘n redelike prys. Ha! Daar is geen rede om iets nié te vind nie. Ek is geen spermsel nie, ek vra sommer padlangs rigting en advies vir vreemdes en gedra my soos ‘n toeris. Ek kan nie ophou praat nie, hoeveel tyd het hulle? Dit wil voorkom asof ek meer weet van Akkra as die mense wat hulle hele lewe reeds hier woon.

Die reuk van braaivleis, kaneel, nat reën, swembad chloor…sommige dinge in Akkra maak my heeltemal nostalgies oor my ander huis in Namibië. Die wêreld is klein, en die afstand huis toe word gemeet in vlug-ure. Alles wat ek nodig het dra ek rond in ‘n enkele reistassie. Met die klik van ‘n Skype-knoppie gesels ek met my moeder in haar eie sitkamer. Ons sit met biltong voor die televisie, koue biertjie in die hand en kyk krieket. Dis nie dieselfde as braai langs die veld nie, maar dit moet maar doen vir eers.

Misca speelkat

Misca speelkat

Huiskat in haar element

Huiskat in haar element

Handevashou

Silverkoppies vier Kersfees met hannevashou.

Een daggie voor Kersfees, maar vandag vier die Duitsers van Windhoek hulle Kersfees. In ‘n supermarkkoffiewinkel wyl ek my tyd totdat my kind klaarmaak met sy werkery. Darem net halfdag vandag.

 

Besig soos ‘n miernes is Windhoek net ‘n klein dorpie. Dis een lewendige TV-sepie, diedselfde mense oor en oor, ander plek, dieselfde plek, ander tyd, oor en oor. Probeer jy nou incognito rondsluip in jou plakkies en muisneshare; sál jy in ou skoolonnies, skoonheidtitelhouers en jou afdelingshoof vasloop. Hierso lê Namlish in[1]Volksmond. Ek verluister my in die skaterlag van die Nama, Duits en Afrikaners om my. Dié wat in Ingels aangaan is almal toeriste. Toeriste vra vir WiFi toegangswoorde en staar vir Windhoek in die weerkaatsing van hulle telefone.

 

Lekkerder as pepperminttjoklits is mensebekyk. Meer as die vissesoorte van die see, snuffel die laaste winskopiejagters deur die winkel. Almal is hier; slapgewriggies met haarsproei in die kuifie en dubbelslagroom en neute in die hande. Manne wat eerder in ‘n tannedokter se stoel wil wees, as om te deel met die lysie-in-die-hand. Boere Omies met teruggekamde hare; bossleutels aan die beld en mammie op ‘n drafstap met ‘n versadigde trollie agterna. Kinders is hier nie veel van te sien nie, Ouma kyk seker na hulle terwyl die ouers gou die laaste karnaatjie kom opraap.

 

Deesdae werk en woon ons in Wes-Afrika, en al die vriendelike mense wat sonder druk en stoot, kalmpies hulle gang gaan, het my skoon van koers af. Ek staar oopbek hoe mense mekaar spontaan omhels. Soengroet nog vol oppie pruilmondjie, gee drukkies en ‘n vryfie oor die rug. Niemand hierso skrik vir die Ebola ding nie.

 

Ou Silverkoppies groet mekaar by die kaasrak en maak geselsies terwyl hulle kromgetrek handevashou. Daar is baie geknikkery en winkeltanne-glimlaggies. Hulle kuier en gesels by die wagry vir brood en kouevleise. Hulle swaai met die armpies en beduie met knoetsvingers en lewervlekke op die hande. Brilletjies word om die beurt op die neus en in die silverhaartjies geskuif.

 

Almal is so besadig en beleef, manne trek nog stoele uit vir die aunties en meisies. Brilletjie op die neus en warm boeretroos word so slurp-slurp opsuig. Brödchens[2] mors krummels oor die boepies en steek harstallig in die snorre vas. Party sit en koerantlees oor groot visvangste kuslangs, bekyk fotos van mouterongelukke en skudkop oor staatsamptenare se kaskenades. Ander sit ook mense en kyk en knik en groet so in die sit. Die winkelbaas loop rond en taaisels op die vloer word uitgewys en opgemop. Winkelbaas groet kliënte met die hand en knik vir die ander in soortgelyke rooihemde met naamplaatjies op die bors. Al tien kasregisters se liggies en klokkies gaan te kere soos dit hoort in ‘n propperste casino.

 

By die kouevleisglaskas groet mense vir Brümelde op haar noemnaam. Etlike jare reeds dekoreer sy self haar afdeling sorgvuldig met haar eie Kersversierings. Pragtig, sowaar iets om te bekyk, so vrolik. Daars verskeie sertifikate in vergulde gouerame met die woorde Urkunde[3]wat verklaar hoekom mense die een na die ander worsstapel wegraap. Gegeurde kase, geurige slaaie, gestopte salamies, gerookte vleise is maar net van die uitsoekkossies wat sorgvuldig in wakspapier toegedraai word. In ‘n oomblik van asemskep deel die raakvatdames agter die kouevleisglaskas ‘n grappie en trek die een die ander se rooi frilletjie voorskoot reg. Dis kopkrap en ‘n gevroetel met die kruisbande vir die Omie wat voor my in sy sokkies en sandale staan. In hoog Duits vra hy wat vandag spesiale prys het, en stap weg met ‘n ham gestop met kersies en ‘n brandseltjie chilly.

 

Die ry by die broodkas word langer, niemand elmboog ‘n ander uit die ry nie. Warm brood word in bruinkardoessakkies oor die glasvertoonkas aangee. Die reuk is hemels, daars nie ‘n enkele stoeletjie oop in die koffiehuis nie.

 

In die supermark is verskeie bont jongmense in sloffies met hanne in die sake en sonbrille in die hare. Jy hoor hulle sleepvoet redekabel oor onbenullighede soos watter soorte saaie om te koop, hoeveel ystee hulle moei inlaai en vra waars die papierborde. Duidelik het hulle geen tyd vir koffiedrink nie, daar is geen vooruitbeplanning gedoen vir Kersdag nie. Papierborde gaan beslis nie bydra tot die Kerstafelversierings nie. Hulle moet nog van A na B rits om ys en ‘n voggie te kry voor toemaaktyd.

 

Hier is jongmense met ‘n baba, hulle eerste Kersfees saam. Hulle bly goete van die rak afhaal, prysbekyk en weer terugsit. Die jongmannetjie is sekerlik handig met sy hande hy is sonverbrand en sy nuwe vroutjie bleekvaalwit. Later staan sy by die kasregister, wip ingedagte ‘n reuse bottel krismisrooikersies op die heup, terwyl haar baba so in die slaap langspoegstepe kwyl oor sy Pa se skouer.

 

“n Yl bleskop omie streel met ‘n dikvinger oor die baba se saghandjie. Daai babahandjie vou instinktief styf om die omie se jigvinger en klou. Die silverhaar-omie staan met die grootste pienktandvleisglimlag; hy vier vandag Kersfees terwyl hy handevashou.

 

 

[1] Namlish-‘n Kombinasie van Namibiese sêgoed vanuit Engels, Afrikaans, Duits , Nama en Wambo.

[2] Brödchen-Duitse brood bolletjie – krakerige buitekant en sagte broodpênsie.

[3] Urkunde-Sertifikaat van verdienste