Tag Archives: Trou

Blinde liefde en trou-brille

Op skool in Pretoria het ‘n kranige rugbyspeler vanaf die Landbouskool annerkant Brits my knieë lam gehad.  Naweke en vakansie tye het hy in Pretoria by sy eie Pa kom kuier en dan kon jy die wit van my Ma se oë van vêr raakkyk.  Daardie Landbou-seun het na-skool by die polisiemag aangesluit, maar hy was geweeg en te liggevind.

Skooltyd was daar twee soorte jongmeisies; dié wat oortuig was hulle gaan trou op die Rif woon en twee kinders baar voordat hulle vyf-en-twintig is, en dié wat vêr van die ouerhuis wil gaan swot en reis tot tyd se stof hulle spore uitwis.  Op daardie stadium was ek nogals op die draad oor watter kant ek verkies.

My gryskoppie Pa het geweet sy meisiekind sal eendag op trou staan.  Lank voordat sy silwerdraad geknip is, het my Pa sy eie wysighede met my gedeel.  Noudat ek self groen koring op die land het, herroep ek weer sy slimmigheid.

  • Moenie die nar trou nie, trou die ou wat jou laat skaterlag.

Die kinkel lê daarin dat die nar sy snaaksighede  met die wêreld om hom wil deel, en dat , in tyd, al sy afgesaagde grappies jou sal verveel. Narre verdra nie dat iemand snaakser as hulle voorkom nie, sal jou giggel en lag aftrap en kritiseer.

Die skaterlag ou, sal ingestel wees om ten alle koste, jou klokkie helder lag te hoor.  Hy sal uit sy pad gaan om jou dag op te vrolik, soms ten spyte van homself ‘n aap van homself maak, alles vir die aanhoor van jou lag.  Kies die ou wat jou humorsin snap, wat jou snork-giggel se audio wil vasvang op sy telefoon en oor en oor speel en homself daarin verluister. Soek na die ou wat jou so hard laat lag dat jou sye wil bars, jy jouself wil nat piepie, en lag dat die trane loop.

  • Daar moet merke aan sy hande en kneukels wees.

Straaltjies oor fietskettings en speke wat merke aan sy hande gelaat het wys dat hy darem self iets iewers probeer regmaak het.  Dit sal handig te pas kom wanneer daar muurproppe en stofsuiersakke vervang moet word.  Skrape van skaatsplankry en biltongmessnymerke verraai ‘n buitelewe waar die lewens grense effe getoets is. Niks kan meer vreet aan die siel as ‘n bleeksiel wat net in Jan Tuisbly se karretjie wil ry nie.

Merke oor die kneukels wys daarop dat hy nie geskroom het om iewers sy man te staan nie.  Of hy nou bloedneus weggestap het of nie, is nie ter sprake nie.  Daar sal ‘n dag kom wanneer hy weer sy man moet staan, of dit is om jou eer te beskerm of wat ookal, eerder man as muis.

Growwe hande is nie vir almal nie, maar voordat jy hom trou, moet hy ten minste een groot hoop hout met ‘n byl opkap.  Hoe hy die eelte en blase aan sy hande verdra sal boekdele oor hom as mens verklap.  Is die blase so eina dat hy skielik nie eens ‘n eier kan oopbreek nie? Moet jy moet net troos en troetel en regstaan, Kattie los die slapgat!  As siekte of kwale oor sy lewenspad kom, gaan jy weer bontstaan. Of vat hy die eina soos ‘n regte man, kap aan soos elke dag sonder ‘n gekerm van beendere? As hy ‘n paar dae later eenvoudig die droeë velle sit en aftrek, of bekommerd is die growigheid krap jou sagte vel – is hy die trousoort.  Die lewe is rof, mense skuur aan mekaar van tyd tot tyd.

  • Is hy pou of padda?

Dis nie net in feëverhale dat vrouens paddas soen nie.  Paddas dink daars geen wese in hierdie wêreld wat kan kersvashou met sy prinses nie. Sy’s perfek in elke moontlike manier;  die moesie wat net-net vanuit die sonrokkie loer, die kreukel oor haar voorkop as sy bekommerd is, die sagtheid van haar dy en die knak van haar enkel, als perfek in plek, net soos dit hoort.

Poue is effe meer uitgeslape. Hul pronkvere is aanvanklik verblindend, pragmooi en jy kan jou geluk nie glo dat jy in dié man se visier beland het nie.  Poue het ‘n manier om jou te vertel hoe manlik, pragmooi, slim, wêreldwys en  ambisieus hulle is.  Hulle gee voor vir ‘n wyle jy is pragtig, maar heimlik is hy oortuig met tyd sal hy wel kan verbeter op elke aspek van jou fatsoen.  Eendag uit die bloute wys hy jou daarop dat hy swartknoppies oor jou neusbrug bespeur het, en dat ‘n gesigsbehandeling dit gou kan uitsorteer.  Tussen vriende by ‘n braaivleistafel staar hy openlik met openlike afsku na die tjoppie wat jy ingeskep het en vra sommer kliphard hoe lank jy dink jou boude in die nuwe jeans kan inpas as jy daai bord kos in het.  Poue is self nie altyd perfek nie, maar soos kraai se kind, versamel hy mooi blink goete wat die aandag van hom aflei. Mooi mouter, prag huis en blink toekoms sal als eendag alles aardse goete wees wat hy bô jou verkies.  Mettertyd sal jy net nog ‘n versamelstuk word, wat van tyd afgestof en in publiek vertoon en vertroetel word, maar tuis word jy afgeskeep en word jy heeltyd herinner dat jy jou plek moet ken.  Pasop, my kind – raak ontslae van ‘n pou en pluk sommer byvoorbaat al sy pronkvere uit.

 

Sien die liefde is mos blind, maar trou is die bril.

Ek het toe nie my polisieman getrou nie maar ‘n oulike Vrystaat-man met diep kyk en swaar sugte. Hy’s geen nar nie, en staan gereeld sy vuiste en bol wanneer hy homself inhou. Hy’s beslis my padda-prins!

Nou moet ek net hoop my dogter is ook so kieskeurig soos haar Ma…

 

 

Advertisements
Typing Love Letters

Negentien en twee

Trou is nie perdekoop nie, maar as jy Ghanees is, betaal jy vir die perdekar ook. ‘n Vrou kan sewe-en-dertig wees, met ‘n kroos van vier, voordat sy haarself einde te laas voor die kansel bevind. Huweliksmaats word soms deur families gekies, as jy gelukkig is, word jy darem geken in die saak. Hier in Ghana trou jy jouself morsdood. Eers voor die magistraat, sodat die staat jou huwelik herken en jy minder belasting kan betaal. Volgende trou jy tradisioneel in jou stat sodat jou Hoofman en stam jou huwelik herken, en jy jouself van ‘n begrafnis lêplekkie kan verseker. Daarnaas volg ‘n properste Kerktroue sodat jou kinders eendag gedoop kan word. Die Europeërs se inmeng is orals te siene want Ghanese se ryk kultuur is bespikkel met Westerse tradisies. Wit hoepelrokke, ‘n string bont blommemeisies en rêgte trouringe is nou allerdaags. Dis net meer kleurvol. Baie meer kleurvol. Afrika bang mos nie kleur nie.

Maar ja, verskillende tiertjies dra verskillende strepies. In die vroeë negentigs het ek my liefdesbriewe met ‘n elektroniese tikmasjien getik. Netjies en noukeurig het ek my jongmenslewe in Pretoria vasgevang tussen twee of drie velletjies lugpospapier. So, kon ek meer lawwighede op papier inpas, en die hele vlerk-slepery bedryf was tog al te statig, uitgemeet in ‘n kadens van briewe pos-en-ontvang. Nadat ek die briewe gepos het, was die afleweringtyd tussen nege dae en twee weke. Daarop het die lang wag gevolg- vir ‘n brief in ontvangs. Daar was genoeg tyd vir besinning, diep denke en inkyk om my eie hart se geheime uit te rafel. Afstand maak die hartklop sterker; ‘n gedruis in jou ore wat ander mense om jou, se stemme uitdoof. Doer bô in Ethiopië was my Vrystaatboerseun; loshande die mees misterieuse ou wat ek in my hele lewe teëgekom het.

Daar was geen ander jongmens wat so makskaap in ‘donker’ diep Afrika gewerk het nie. Hy het oor-en-weer tussen lande, lughawens en kontinente gereis soos studente beweeg tussen lesingsale. Sy skootrekenaar het hy opgekoppel met primitiewe krokodil-knypers aan hotel telefoonkabels om toegang te verkry na sy firma in RSA se databasis. Daai Vrystaatboerseun was die eerste ou van my ouderdom; wat verder as ‘die grens’ gereis het, en teruggekom het. Kiekies van vier-en-twintig op filmrolletjies is ontwikkel: vreemde kiekies van palmbome, kokosvrugte, Massai jagters, pienk flaminke, watervalle en Killimanjaro se yskappie. ‘n Polaroid van ’n eerste draagbare selfoon, teen die oor – so groot soos ‘n kleibaksteen, waar Vrystaatseun onder die N’kruma sirkelboog staan; was uitgestal op my spieëlkas.

Die weke en maande was intens. Die afstand in ‘donker’ Afrika was langer en verder as mens dit net in jou verbeelding meet. Menigtemale het my vriende my kop probeer lees. Party het selfs gemeen die Vrystaatboerseun was denkbeeldig, so skaars en min was sy Pretoria besoeke. Laataand was die Sunnyside woonstelklanke oorweldigend stil. By tye was ek onredelik en pateties. Seker maar die hormone. Daardie vrolike hand-aan-hand verliefdes op straat het ek kliphard en jaloers weg gewens. Romantiese eetplekke, koeksisters, trane-trek flieks en enkel ouens het ek daadwerklik vermy. Ywerig, het ek harder en langer gewerk as al my kollegas. Enige iets net om die tyd te verwyl.

O-wee; die verskriklike opgewondengeit die Vrystaatboerseun kom kuier. ‘n Meisiemens lê ‘topless’ en ‘tan’ vir dae lank op die balkon en laat-loop haar verbeelding oop-ketel. Die dag voor die afspraak word die uitrusting met Delliah-presisie beplan. En daar word ge-‘prim’. ‘Prim’ het te doene met naellak, tweesers, skuimbaddens, parfuum, haarprodukte soos Timotei, vlos, skeermes, krullers en die fynste kant goete in haar besit.

Ek het my negentien liefdes briewe en die twee poskaarte, oor en oor gelees. Dit het my en die Vrystaatboerseun, voor die kansel gekry.

Negentien jaar later woon ons saam in Ghana, onse twee kinders het gevolg op die kansel episode, en ons neem nog steeds vreemde kiekies.