Tag Archives: vissermanne

Laat gaat vir Skillie!

 

Gister was kamatag SA se Vryheidsdag. Gmmmpfff, hoe vry voel die Republiek se mense agter hoë mure, alarmstelsels, hekwagte, haak-en-steek roldraad en panieknoodknoppies?

 

Destyds is die SIMS rekenaar speletjie uitgereik, ek het ure lank, vir dae lank stede gebou. Ewentueël was ek as ‘burgermeester’ veilig, totdat my stad se mense my veiligheid as burgermeester bedreig het omdat hulle vir ure in verkeersknope vasgesit het. Daarna het een of ander Godzilla-monster vuurbolle gespuug en mettertyd het my stad tot niet verbrand. Doei tyd het ek gedink die SIMS speletjie het dit darem te vêr gevat, maar na dese was hulle scenario darem bitter na aan die werklikheid! Piepie bang politici jaag van punt A na B met blou-lig begeleiding, dood bang vir Jan-publiek. Wanneer die situasie kookpunt bereik, verbrand en plunder bondels mense net soos Godzilla die SIMS monster.

 

Og, ons het nie raad met hedendaagse se vryheidspolitiek nie. Een ding is seker, elkeen se idee van ‘vry wees’, verskil. Ken julle Yoshi se vryheid storie?

 

Meer as twee dekades gelede het mense nog ‘die regte ding gedoen’ en ‘n beseerde seeskilpad na die Twee Oseane Akwarium, in Kaapstad, geneem. Vandag sal iemand sweerlik die dingetjie opëet… So groot soos ‘n sopbord, word die seeskilpad Yoshi genaam, en spoediglik is daar goeie herstel vanweë die bootlemskade oor Yoshi se kop en die bakteriesegroeisels is van haar lyf verwyder.

 

Yoshi het in meer as twee dekades haar eie aanhangers na die akwarium gelok. Sy het onbeskaamd ander gediertetjies in die reuse tenk geboelie as dit by kos kom, en in meer as twintig jaar gegroei tot 183kg. Haar spesie is bedreig, en as volwasse seeskilpad, is die Free Willie, of laat gaat vir Skillie-ding besluit.

 

Heel gepas, op 16 Desember 2017- ou Dingaansdag, deesdae ‘Versoenigsdag’ genoem, op is Yoshi weer met die see versoen. Hierdie is nie net ‘n uitstappie nie – die besluit is nie ligterlik geneem nie – Yoshi is immers waardevol – en beroemd! Voor haar vrylating, is ‘n satelietsender op haar dop gemonteer, en elke 4-ure wanneer Yoshi kom asemskep, pieng sy haar posisie vir die volgende 3-jaar.

 

So koekeloer hierso waar sy in 20 grade kouewater, 27 seemyl vanaf Houtbaai, terugglip in die see. Te kostelik…

Is die natuur nie die mees fasineerendste konsep nie?  Instink gaan Yoshi terugneem na die strand waar sy gebore is, toe sy die eerste keer die see ingestap het was sy maar so groot soos ‘n eetlepel se kop! Sy woeker met die swemmery en swem net kort van 30km per dag.  Yoshi swem kus-langs en reeds die Republiek se Weskus verbygeswem.

Daarna het sy haar kom dikvreet aan die Namibiese kuslyn se jellievisse, en op die oomblik vreet sy net duskant die verlate eiland van Angolawaters  se Tierbaai.

Screen Shot 2018-04-28 at 09.46.25

Hierdie foto is vanaf TWO OCEANS”S Webblad

Die betrokke eiland is verlate gelaat nadat die laaste inwoner in 1974 weggetrek het.  Tierbaai is besonders ryk aan ‘n groot verskeidenheid seelewe, en baie gewild onder lokale vissermanne.

 

Tans is Yoshi so 10km vanaf die kuslyn, sy het reeds twee gevaarlike areas vermy wat met diepwater langseenette visvang.  Natuurlik is die vissersmense haar grootste gevaar. Volgens Wikipedia; sou sy in een van daardie seetreilernette gevang word, sou sy sekerlik versmoor.

 

Elke paar weke, wil ek weet wat Yoshi aanvang.  Ek verlustig my daarin dat sy vry is om te swem waarheen sy wil, en te vreet wanneer sy wil.  Natuurlikhet ek groot waardering aan die Twee Oseane Akwarium en hulle seelewemikrobioloeë, wat my die geleentheid gee of ook so neffens haar vryheid te belewe.  Hulle is immers toegewyd aan die beskermingsprogram vir vele meer seeskilpaaie. Ai Moeder, miskien het ek die verkeerde beroep gekies – ek verkyk my aan die videomateriaal van hulle versorging.

 

Siende dat ons onlangs hier kom nesskop het langs die Namibiese kuslyn, is die see en sy geheime ‘n heel nuwe ervaring. Ek is vrek nuuskierig oor die gediertjies daarin, veel meer as die Godzilla’s wat landswyd als in vlamme wil laat opgaan ter wille van ‘vryheid’.

 

 

 

 

 

 

Advertisements

Wys my jou kiekies…

 

Mense reken; Afrika nie vir sissies nie. “Watter deel van Afrika?”, vra ek iewers in my agterkop. Natuurlik staan ek nie kaartjie-in-die-hand gereed om Mogadishu te gaan verken nie. Hier op Kotoko Internasionaal, Akkra se lughawe, leun ek in agt-en-twintig grade se warm seebries en bekyk die blinkoog reisigers wat vannaand aanland.

 

‘n Paar wat hulle aardsbesittings vir ‘n enkele maande soos skilpad saamdra, kom lokaal skoolgee en stowwerige dorpies verken. Hulle is maklik om in die bondel te herken, hulle dra poepvang-broeke versier met pers olivantjies; bont serpe in gister se ongekamde hare. Teen môre sal hulle reeds twee honderd kilometer vêr met ‘n lendelam bussie tussen agttien ander insittendes, oortrek wees met Ghana se rooistof. Hulle flits honderde kiekies vir Instagram en bly soekend na selfoonsein en data. Wonderlike siele daai – hulle gaan eerstehands leer kos koop op die oggendmark in ‘n lokale taal. Binne tien dae dra hulle klere gemaak van Kenté-lap, rubber plakkies en plastiek kraletjies in die hare gevleg. Jare later gaan hulle nog stories vertel van die ongekende saggeaardheid van Ghana se mense. Die diepgewortelde respek teenoor gryskoppies en Afrika-dromme tussen die knieë vasknyp en ‘n ritme trommel wat jou hoendervleis in die nek laat uitslaan. Lees hier van ‘n malkop ou wat dwarsoor Wes-Afrika reis sonder skoene

 

‘n Ander kleurvolle groep met dik beursies is opvallend minder beweeglik met ‘n dik-eend waggel en kroomwandelstok. Hulle hoor jy gewoonlik voordat jy hulle sien. “Mary-Ann-Jane, is it not a glorious day! …(hyg) …Setting foot on our ancestral soil…(wit sweet sakdoek oor die blink gesig) … we are so blessed … (leun oor mekaar en neem ‘n selfie)…”. Screenshot 2017-03-05 20.42.51.pngEk gooi ‘n ge-oefende wit-oogrol, en sien die taxi drywer langs my behaaglik lippe aflek en handpalms saamvrywe soos hy naderstaan. Hierdie is tipies Swart-Amerikaners wat hier in Ghana kom snuffel na ‘n sweempie van hulle-se-mense se herkoms. In die volgende paar dae gaan hulle ‘ooh-en-aah’ en ‘OMG’ met regte trane in die oë en handpalm oor die hart geklem. Hulle is te besig om hand te skud en almal te bevriend en mense te soek met dieselfde vanne, om hulle fone te gebruik.

screenshot-2017-03-05-20-42-24

Elmina Slage Kasteel in Cape Coast – Ghana

Ghana se kuslyn is besaai met mosbegroeide murasies van toet-se-tyd se slawe handel kastele. Die mees bekendste kasteel in Elmina, Cape Coast kan verken word met ‘n fooitjie in die hand vir die gids. Niemand kan onaangeraak ‘n slawekasteel verlaat sonder om kopskuddend die gierigheid, ongeregtigheid en wreedheid van die mensdom te betwyfel nie.

 

Na ‘n paar jaar as inwoner in Wes Afrika, herken ek langsamerhand die ánder minder bekende, maar hoogs unieke seleksie alleen reisigers. Vaal verweerde vrouens aan die anderkant van veertig, kom koekeloer met kalfsoë na die andersgeit van Afrika se manne. Die deursnit jongman speel aktief sokker, leef op vars vis en tropiese vrugte, en pronk fisies soos ‘n wafferse Griekse soldaat. Kyk, ek verstaan dis nie almal se koppie tee nie, maar hier is tannies met Europese paspoorte, wat hierso, nuwe liefde kom vind.

screenshot-2017-03-05-20-54-12Op daai tannies se fone is kiekies van sokkerspelers op die strand en selfies saammet vissermanne in kuierplekke. Sien; en so gun daai lustige tannies ‘n geleentheid vir ‘n Ghanees, vyftien-jaar haar junior, om sy hele familie na Europa se blink liggies te immigreer.

 

Annerkant half eeu; weet jy presies wat jou voorkeur as reisiger is. Lank voor hulle voetspore trap in Wes Afrika, het hulle verskeie reisgidse deurgewerk. Hulle is wel belese oor die kultuur, tale en tradisies. Hierdie groep neem duisende fotos, hulle is nie in een van daardie fotos nie. Na ‘n leeftyd se agt tot vyf, is hulle bankbalans van so aard dat hulle kan kies en keur tussen gesogte hotelle, vlieg hulle eerder binnelands eerder as soos nat hoenders in ‘n taxi rond te wip. Screenshot 2017-03-05 21.00.03.pngDaar word die aller prag kiekies vasgelê van Afrika Konings en tradisionele danse met rooistof fyntjies te bespeur in die laaste sonstrale van ‘n fyn beplande dag. Wanneer hulle die markte besoek, kies hulle sorgvuldig die handgemaakte Venisië-glaskrale uit, wat jare lank as skat bewaar word en waardevol genoeg is om in testamente te benoem. Ghana se kultuur is so eie aan Afrika, dat in die keinste dorpie word jy vyfuur wakker met tromme wat vrolik en ritmies die dorpie aan die gang kry. Kinders, hoenders, bokke en ou Gryskoppies op knopkieries is almal oppad iewers heen – groet vriendelik met ‘n hand-swaai in die lug. Almal wil gesels, nooi jou om eers te kom sit en vertel stories met handgebare en eentand-kop agteroor lag. Die gemarineerde reisigers maak tyd om te kuier, proe aan kos uit swart potte, staangemaak onder grashutte.

 

Kom Sussie, wys my jou reiskiekies, dan weet ek sommer gou wat jy hierlangs in Wes Afrika kom maak.