Tag Archives: Wifi

Handevashou

Silverkoppies vier Kersfees met hannevashou.

Een daggie voor Kersfees, maar vandag vier die Duitsers van Windhoek hulle Kersfees. In ‘n supermarkkoffiewinkel wyl ek my tyd totdat my kind klaarmaak met sy werkery. Darem net halfdag vandag.

 

Besig soos ‘n miernes is Windhoek net ‘n klein dorpie. Dis een lewendige TV-sepie, diedselfde mense oor en oor, ander plek, dieselfde plek, ander tyd, oor en oor. Probeer jy nou incognito rondsluip in jou plakkies en muisneshare; sál jy in ou skoolonnies, skoonheidtitelhouers en jou afdelingshoof vasloop. Hierso lê Namlish in[1]Volksmond. Ek verluister my in die skaterlag van die Nama, Duits en Afrikaners om my. Dié wat in Ingels aangaan is almal toeriste. Toeriste vra vir WiFi toegangswoorde en staar vir Windhoek in die weerkaatsing van hulle telefone.

 

Lekkerder as pepperminttjoklits is mensebekyk. Meer as die vissesoorte van die see, snuffel die laaste winskopiejagters deur die winkel. Almal is hier; slapgewriggies met haarsproei in die kuifie en dubbelslagroom en neute in die hande. Manne wat eerder in ‘n tannedokter se stoel wil wees, as om te deel met die lysie-in-die-hand. Boere Omies met teruggekamde hare; bossleutels aan die beld en mammie op ‘n drafstap met ‘n versadigde trollie agterna. Kinders is hier nie veel van te sien nie, Ouma kyk seker na hulle terwyl die ouers gou die laaste karnaatjie kom opraap.

 

Deesdae werk en woon ons in Wes-Afrika, en al die vriendelike mense wat sonder druk en stoot, kalmpies hulle gang gaan, het my skoon van koers af. Ek staar oopbek hoe mense mekaar spontaan omhels. Soengroet nog vol oppie pruilmondjie, gee drukkies en ‘n vryfie oor die rug. Niemand hierso skrik vir die Ebola ding nie.

 

Ou Silverkoppies groet mekaar by die kaasrak en maak geselsies terwyl hulle kromgetrek handevashou. Daar is baie geknikkery en winkeltanne-glimlaggies. Hulle kuier en gesels by die wagry vir brood en kouevleise. Hulle swaai met die armpies en beduie met knoetsvingers en lewervlekke op die hande. Brilletjies word om die beurt op die neus en in die silverhaartjies geskuif.

 

Almal is so besadig en beleef, manne trek nog stoele uit vir die aunties en meisies. Brilletjie op die neus en warm boeretroos word so slurp-slurp opsuig. Brödchens[2] mors krummels oor die boepies en steek harstallig in die snorre vas. Party sit en koerantlees oor groot visvangste kuslangs, bekyk fotos van mouterongelukke en skudkop oor staatsamptenare se kaskenades. Ander sit ook mense en kyk en knik en groet so in die sit. Die winkelbaas loop rond en taaisels op die vloer word uitgewys en opgemop. Winkelbaas groet kliënte met die hand en knik vir die ander in soortgelyke rooihemde met naamplaatjies op die bors. Al tien kasregisters se liggies en klokkies gaan te kere soos dit hoort in ‘n propperste casino.

 

By die kouevleisglaskas groet mense vir Brümelde op haar noemnaam. Etlike jare reeds dekoreer sy self haar afdeling sorgvuldig met haar eie Kersversierings. Pragtig, sowaar iets om te bekyk, so vrolik. Daars verskeie sertifikate in vergulde gouerame met die woorde Urkunde[3]wat verklaar hoekom mense die een na die ander worsstapel wegraap. Gegeurde kase, geurige slaaie, gestopte salamies, gerookte vleise is maar net van die uitsoekkossies wat sorgvuldig in wakspapier toegedraai word. In ‘n oomblik van asemskep deel die raakvatdames agter die kouevleisglaskas ‘n grappie en trek die een die ander se rooi frilletjie voorskoot reg. Dis kopkrap en ‘n gevroetel met die kruisbande vir die Omie wat voor my in sy sokkies en sandale staan. In hoog Duits vra hy wat vandag spesiale prys het, en stap weg met ‘n ham gestop met kersies en ‘n brandseltjie chilly.

 

Die ry by die broodkas word langer, niemand elmboog ‘n ander uit die ry nie. Warm brood word in bruinkardoessakkies oor die glasvertoonkas aangee. Die reuk is hemels, daars nie ‘n enkele stoeletjie oop in die koffiehuis nie.

 

In die supermark is verskeie bont jongmense in sloffies met hanne in die sake en sonbrille in die hare. Jy hoor hulle sleepvoet redekabel oor onbenullighede soos watter soorte saaie om te koop, hoeveel ystee hulle moei inlaai en vra waars die papierborde. Duidelik het hulle geen tyd vir koffiedrink nie, daar is geen vooruitbeplanning gedoen vir Kersdag nie. Papierborde gaan beslis nie bydra tot die Kerstafelversierings nie. Hulle moet nog van A na B rits om ys en ‘n voggie te kry voor toemaaktyd.

 

Hier is jongmense met ‘n baba, hulle eerste Kersfees saam. Hulle bly goete van die rak afhaal, prysbekyk en weer terugsit. Die jongmannetjie is sekerlik handig met sy hande hy is sonverbrand en sy nuwe vroutjie bleekvaalwit. Later staan sy by die kasregister, wip ingedagte ‘n reuse bottel krismisrooikersies op die heup, terwyl haar baba so in die slaap langspoegstepe kwyl oor sy Pa se skouer.

 

“n Yl bleskop omie streel met ‘n dikvinger oor die baba se saghandjie. Daai babahandjie vou instinktief styf om die omie se jigvinger en klou. Die silverhaar-omie staan met die grootste pienktandvleisglimlag; hy vier vandag Kersfees terwyl hy handevashou.

 

 

[1] Namlish-‘n Kombinasie van Namibiese sêgoed vanuit Engels, Afrikaans, Duits , Nama en Wambo.

[2] Brödchen-Duitse brood bolletjie – krakerige buitekant en sagte broodpênsie.

[3] Urkunde-Sertifikaat van verdienste

Advertisements
Accra City Centre

As jou kompas se punt skuif.

 ‘n Mede Suid-Afrikaner vertel my, hulle is nou na twee jaar, kláár met kontrakwerk in Afrika – vir áltyd. In enkele dae, vertrek hulle na die Ooste. Volgens haar sal sy níks van Accra mis nie. Ek gooi my geoefende oogrol. Sy besef nog nie hóé Accra aan jou grille skuur nie. Elke plek wat ons “huis” noem, – hoe tydelik ookal, trek ‘n hartsnaar. Vra enige Expat, kontrakwerk is soos diensplig doen. Hulle woon noodgedwonge in vreemde plekke vir ‘n bepaalde tyd. Jy is daar om iets gedoen te kry, die plek en mense om jou is wat jy self daarvan maak. Almal beleef en ervaar dieselfde plek in dieselfde tyd anders.

Net soos die weermag het Accra jou ten minse tweekeer in trane. Die dag as jy hier aanland, en die dag wanneer jy weer weggaan. Jy leer nuwe vaardighede soos om eiers in water te dompel om die vrottes en vars eiers te skei. Jy woon vir ‘n bepaale tyd in ‘n plek wat jy nie noodwendig van hou of veel keuse het nie. Jou tuisbesoeke is min – en vlugte huistoe is soos “op pas gaan.” Grootoog vertel jy vir familie en vriende hoe rof die lewe in Accra is. Niemand in RSA glo jou nie – hulle maak grappies oor die Oskar-saak en inbrake en motorkapings. Met die terugkomslag is jou bagasie volgestop met Ma se beskuit en nat biltong.

Mense móét maar net aanpas in Accra. Na ‘n paar maande ruik of sien ons nie meer die oop rioolslote nie. Vrot eiers wat pas gekoop is word normaal. Skoonmakers wat rustig slaap op marmerblaaie van publieke badkamers word normaal. Ruik aan vleis voordat jy dit koop word normaal. Omdop van kaas in die winkel en soek na mufgroeisels word normaal. Miet in “vars” meel uit die winkel word normaal. Rondry na vyf of ses plekke vir vier items op jou inkopielys word normaal. Wanneer iemand meer as twee ure opdaag vir ‘n afspraak, noem hulle dit Afrika-tyd. Tog, agter jou, lê hulle op die toeter binne ‘n splitsekonde wanneer die robot verander van rooi na groen.

Grootoog lees ons die RSA nuus. In Accra dans niemand voor winkels en staatskantore in protes oor verhogings nie. Hulle dans wel in die strate wanneer sokkerdoele aangeteken word. Niemand breek bestaande skole af in opstand oor swak fasiliteite nie. Motorkapings is hier geen sprake van nie. Bandiete en myners gaan nie op stakings nie. Die President blameer nie die land se verswakte geldeenheid op die vorige regering nie. Niemand brand hier die nuut geboude gratis goeverment huise af nie.

Als is ook nie perfek nie. Slakdiens, goor Wifi konneksies, swak selfoon verbindings, konstante kragonderbrekings en verkeersknope laat jou voel jys terug in RSA. As jy effe onseker is van jouself sal jy gou leer waarvan jy nié hou nie. Troepe leer gou om so in die middel van die bondel te hardloop. Jy vermy oogkontak in publiek, of stel jouself bloot aan ongevraagde aandag. Sakkiepakkers vra sommer reguit of jy met hulle kan trou – al staan jy met jou kind op die heup en trouring wat skitter aan die hand. Niemand poets en diens niks hier nie – als roes, breek en val uitmekaar.

‘n Mens sal Accra se aardighede mis. Vra enige troepie, al het hulle die weermag hóé gehaat, gesels hulle met heimweë oor “die goeie ou dae”.