Tag Archives: Woestyn

Bont lap en baie talent

My vriendin Emsie nooi my op die ingewing saam na Swakopmund se COSDEF sentrum. Wanneer mens Swakop inry vanaf ons binneland se kant, dan kan jy dié plek nie misry nie. Een enorme bont stapel van geboue toring trots asof dit stof van die woestyn afgeskud het en gemaak staan is.

Screen Shot 2018-04-18 at 14.22.15

 

Emsie is reeds ‘n Engel hier op aarde, as sy asem uitblaas word sy net vlerke ge-issue dan is sy oppad! So gaan Emsie en reuse boks ou patrone en borduur goete afgee en ek is net daar want ek ly aan FOMO. (Fear of missing out)

IMG_4869

Vanaf Links: Tilla, Ayumi, Emsie en Naoko besig om die geskenkte goedere te bekyk.

By die kantoor, is die ene miernes van bedrywighede, Michelle //Inixas (Groot Indoena koördineerder) stel ons voor aan Ayumi en Naoko, twee regte egte fyntjies ingevoerde Japanese vrywilligers wat hier kom klasgee. Die Japanese regering belê só op ‘n ander manier in Namibië.

IMG_4863

Vanaf Links: Emsie, Ayumi en Naoko

In ‘n goeie Engels verklaar Ayumi en Naoko beide is reeds gek oor Swakopmund se woestynsand en see. Hulle vertel hulle word nog oorweldig met die weer wat sommer vier seisoene in een dag uitrol.  Die klas is stemmig en spiekeries netjies.  Toevallig sien ek die klasreëls op die muur raak.

Klasreels

Klasreëls – nou verstaan ek als, sonder reëls sou dit chaos wees.

Nou dié wat my ken weet mos in Akkra – Ghana was daar ook die een en ander naaldwerk projek wat mense van die straat af hou – en wys hoe jy inkomste kan genereer. Hierdie projek is in ‘n ander klas. Na een jaar kan jy aankap, maar na twee jaar se kursus is jy ten volle gekwalifiseer as ontwerper wat jou eie patrone kan ontwerp, knip en stik.

 

Wat wou; moet nie dink Tilla Smit gooi die studente net vir die wolve nie, daar word ook formele besigheidsvaardighede en wiskunde lesse tussendeur die ontwerp en patroonknip klasse aangebied. Tilla is ook ‘n leerkrag by dié Modeontwerpskool, sy sê sy neem ‘n student van zero tot gekwalifiseerd.  Sy lê groot klem op die kwaliteit van voltooide projekte.

 

Tilla is nie ‘n groenblaar as dit kom by gemeenskap projekte nie. As aktiewe lid van Bröt für di Welt, en jare se mense kennis agter die blad, offer sy soveel meer as net boekekennis.

 

Ons het ons verlustig in die vrolike Afrika-kleure, waarmee die studente woeker om hulle huidige projek te voltooi. Hulle ywerigheid spreek boekdele, trots wys elkeen waarmee hulle doenig is, Tilla sê dis tyd om ‘n breuk te neem maar niemand roer of staan op nie. Kap net aan … “nie jou tipiese student nie”, dink ek verbaas by myself.

Die studente kom van oor die hele Namibië; plekkies soos Khorigas, Omaruru, Omathia, Mondesa, Odangwa, Opuvu.  Elkeen met ‘n blink idee om eendag sy eie besigheid te bedryf.

Nadat ons wegstap van die modeontwerpers loer ons in by die ander klasse.  My mond hang oop soos ‘n waenhuisdeur; Visuele Kunste, Juweliersmakers en Leerkuns word ook aangebied.  Hierdie studente se handewerk word verkoop teen billike pryse, en afgestudeerde studente kan ‘n ‘Pod’ huur vir net N$200 p/m en heeltyds werk en smous.

Screen Shot 2018-04-18 at 14.38.05

Hierdie is die ‘Pods’ waarvan ‘n afgestudeerde student kan werk en smous.

 

Vir diewat reken woestynland is droog en dor – hulle is verkeerd! Jy moet net rondkyk. So in die wegstap dink ek bymyself: “Orals om my lê talent gesaai – soos klip in die woestyn.

woestyn se mooi

Dertig-rand se verskil.

Op langpad moet mens aftrek en op die bossies piepie.  Woestynlangs is nie veel koelte nie.  Ek skrik sommer my piepie droog want langs die draad is neffens ‘n roering.  Daar waar ons afgetrek het, sit reeds ‘n ouman. In die gruisklip tussen sy vlenter skoene lê ‘n blikbord met paar klipkristalle.  Mense uit ‘n dor Namibiese woestynveld het nie blink aan hulle nie.  Niks blink onder ‘n permanente stoflaag nie. Nam se mense is sonder grênd goudstrepe in hulle tanne.  Skiewie tandaartse is volop. Tannemekênieks by die kliniek is bekend vir tanne trek.  Dit kos dertig-rand vir ‘n tandtrek by die kliniek.  Jy arriveer in die wêreld sonder tanne, en groet ook uit; tanneloos.

Heeldag loer mense vir vrinne, kliënte of vreemdes onder plooihand met skyfie oë. Hulle kyk uit vir mouterstofstrepe oor rooidsanduine.

“Is Krismis, Meneer, koop my Kristalle. Allemal is genie-oun, ‘k het self uitgehaal” rasper sy stem onder ‘n laphoed.  Ek staar na die ou blikbord.

Tyd staan; ek kyk sy ou veldskoene.  Skeefuitgetrap en ‘n geel verdik-toonnael loer vir my.

Dis sy werk, kerk, stap, dans en enigte skoene; reeds vir etlike jare .  My voetsole verbrand deur my plakkies. Tussen ou plooie  loer sy blousel oë vir my plakkies.   Wat weet ek tog van Kristalle? Dor mense het ‘n tydsame kalmte in hulle.  Die plooieman bly net so gekreukel sit.  Om my is hittespieëlings wat dans.  Tyd staan stil, ek trap rond op die brandsel onder my plakkiesole.

Terug in die skadu van die mouterkar sit ek met ‘n skurwe kristal in die hand, en die dertig rand lê nog netso innie blikbord.   Daai dor man loer lank in ons rigting, op skrefie oë toe ons daar wegtrek.

‘Watse verskil kan dertigrand nou aan hom maak?’ wonder ek.

Wat sal ek nou maak met ‘n woestynklip?

Krismistyd het woestynkinners nie blink liggies en Chinese geeltintsel vir plêstiek winkel bome nie. Onse groen Kameeldorings is vannerselwe getooi met goudgeel mossineste.  Sandkinders belê in tyd.  Tyd deel hulle met mekaar. Ons deel tyd annerkant Goghas, vêr annerkant Mariental, in ‘n koel plaashuis wat ruik na parafien.  Lekkerste kuier is onder die sterre in die rooisand buite die agterdeur.

Die stroois is ‘n klipgooi van ons af.  Sit-sit onder die geelmaan met hoog vlamme in ‘n konkadrom hoor jy rustige stemme tot laatnag. Hulle tandelose lag klink soos roesblik wat die wind rondstoot.

Laphoed en ou hanne

Laphoed en ou hanne

‘n Paar dae na Krismis koop ons vars proviant op Goghas. Dis ‘n vaal plekkie, net ‘n Hotel, drankwinkel, Kerk, poskantoor, kliniek en Hotel.  Klein; as jy vir ‘n hoender uitswaai, ry jy die dorp mis.  Almal groet en knik.

Daars mense met Job se geduld wat net rondstaan en dié wat beweeg, bekyk.  Voor die kliniek hang ‘n paar tydsame siele.  Ek kyk ‘n paar ou veldskoene raak, daars ‘n toon met ‘n dikgeel toonnael wat vir my loer.

“Koop ‘n Kristal vir Nuwe’djaar!” se die ouman met rasperstem onder sy laphoed.  Ek sien nie sy oë nie, net sy glimlag met ‘n nuwe “passion gap“.

Terug op die stofpad kyk ek weer die woestynkristal.

Iewers bank ‘n tannemekêniek sy nuwe  dertig-rand.